NamRA ondersteun gesondheid

Frieda Molotho

NamRA ondersteun gesondheid


Die Namibië Inkomste-agentskap (NamRA) het 27 001 chirurgiese beskermende pakke (PPE’s) ter waarde van sowat N$1,2 miljoen aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste in die Erongostreek oorhandig.

Die oorhandiging volg op die wettige beslaglegging en daaropvolgende magtiging vir skenking in ooreenstemming met die doeane- en aksynswet asook die staatsfinansieswet.

Volgens die streek se direkteur van gesondheid, Anna Jonas, verteenwoordig die skenking meer as materiële ondersteuning. Sy het dit beskryf as ’n sterk verklaring van gedeelde verantwoordelikheid om lewens oraloor die streek te beskerm. 

Jonas het die noodsaaklikheid van PPE’s beklemtoon, veral in die beskerming van gesondheidswerkers wat op aansteeklike siektes reageer, biologiese monsters hanteer en uitbrekings bestuur. 

Sy het verwys na Erongo se unieke gesondheidsuitdagings, wat vinnige verstedeliking en die uitbreiding van informele nedersettings insluit. 

Volgens Jonas verhoog beperkte toegang tot skoon water, sanitasie en gesondheidsorgdienste in informele nedersettings die kwesbaarheid vir oordraagbare siektes soos cholera, hepatitis E en respiratoriese infeksies.

“Dit beklemtoon die absolute noodsaaklikheid om voldoende PPE geredelik beskikbaar te hê. 

“’n Tekort tydens ’n uitbreking kan ontplooiing vertraag, die risiko van blootstelling verhoog en uiteindelik lewens kos,” sê sy.

Volgens Jonas sal NamRA se skenking die streek se kapasiteit aansienlik versterk om vinnig en veilig te reageer wanneer gesondheidsnoodgevalle ontstaan. 

Patrick Tongo, NamRA se bedryfsbestuurder vir die westelike streek (Walvisbaai doeane-operasies), sê op sy beurt die oorhandiging weerspieël die agentskap se breër rol in nasionale ontwikkeling.

Volgens Tongo moet NamRA se bydrae tot die land ook gesien word in hoe dit gemeenskappe ondersteun en openbare instellings versterk.

“Ons rol in nasiebou strek verder as om inkomste in te vorder. Dit word ook weerspieël in hoe ons saam met gemeenskappe in tye van nood staan,” het hy gesê. 

Tongo het ook hulde aan gesondheidswerkers se volgehoue toewyding onder moeilike omstandighede gebring en sê die PPE verteenwoordig waardigheid, veiligheid en beskerming. 

“Dié items verteenwoordig beskerming en waardigheid vir die gesondheidspersoneel wat steeds onder veeleisende omstandighede werk,” het hy gesê.

Tongo het NamRA se verbintenis herbevestig om inisiatiewe te ondersteun wat die welstand van Namibiërs verbeter en nasionale stelsels versterk. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer