'n Savant in wynbou

Die wonder van die druif
Pierre Massyn
Pierre Massyn - Hy wou Frans leer. Want Frans is die klassieke taal van die wêreld se baanbreker-wynbouers. En hy is immers ‘n keldermeester. Boonop is sy van De Klerk, en sy voorsate het in 1688 hier aan’t Kaap voet aan wal gesit en die kuns van die wingerdstok met hulle saamgebring. En toe leer hy Frans. Maar eintlik was daar ‘n ander rede hoekom hy die taal van passie, misterie en romantiek bemeester het: die liefde. Want Pierre de Klerk het verlief geraak op ‘n Franse meisie. Merkwaardig genoeg, was haar pa ook ‘n wynmaker van die befaamde wynlandgoed Bernard Breuzon. Pierre de Klerk is die keldermeester van Graham Beck. Hy het diegene wat gelukkig was om sy praatjie as gasspreker van die Agulhas Erfenis-Vereniging by te woon, getrakteer op wynstories uit sy ryke skatkis van 15 jaar se diens by die Beck-familie. En die vonkelwyn het behoorlik gevloei...Jy mag dit nie sjampanje noem nie, want as jy nou ‘n volbloed Fransman na sy swaard wil laat gryp, moet jy praat van “champagne” as jy jou eie land se produk bedoel. Sien, die egte ware Jakob kry jy net in die Champagne-streek van Frankryk en hulle het lewenslange eksklusiewe regte op dáárdie naam.

“Ons het ‘n wonderlike interaksie met die Franse wynmeesters. Hulle stuur hul mense om hier op ons plase te werk. Ons leer van mekaar. Ons weet byvoorbeeld meer van waterbestuur as hulle, want ons is genoodsaak om te besproei omdat ons in hierdie droë Afrika wyn verbou, terwyl hulle eintlik meer

water het as wat hulle kan gebruik. Ons gebruik drupbesproeiing - ‘n ding wat in Frankryk ongehoord is. Drupbesproeiing gee jou groter akkuraatheid met jou watertoediening,” vertel Pierre.

Die Franse meesters gebruik al jare der jare die ge-eikte méthode traditionnelle (1): die gerespekteerde manier om die beste uit jou druif te kry.

“Toe besluit ons ons gaan ‘n Franse naam behou, maar ons gaan ons ons produk Cap Classique noem,” sê Pierre.

Hierdie vindingryke naam het onmiddellik byval gevind. “Cap” is nie net die Frans vir “Kaap” nie, maar beteken ook “koers” of “rigting”. Die Beck-landgoed laat in 1991 sy eerste oesprodukte die lig sien. Hulle begin met twee Cap Classiques - ‘n Brut NV en ‘n Blanc de Blanc asook ‘n witwyn (Waterside White) en ‘n rooiwyn (Railroad Red). Teen 2010 was daar 38 verskillende wyne, maar in 2014 het die familie besluit om eerder net op Cap Classique te fokus, en is hulle stilwyne in 2015 en 2016 uitgefasseer.

Sedert 2017 word net Cap Classique produseer. Suid-Afrika het inderdaad nuwe rigting gegee aan wynverbouing op die Donker Kontinent. Vandag stoot Graham Beck ‘n verstommende twee en ‘n half miljoen bottels van hul gesogte produk in die mark, met Cap Classique wat van ‘n nie-tradisonele kultivar gemaak word. Pierre voer sy gehoor mee met sy vertellinge oor die wêreld van die wynmaker: ligvoets trippel hy deur komplekse begrippe soos gisting, temperatuur, kultivars, grondtipes, C02 en veredeling – konsepte wat enige wynmaker van formaat in sy magasyn van kennis sal wil verpak. Volgens hom is daar nie minder as ‘n verstommende 250 individuele komponente nie wat ‘n wynmaker wat sy sout werd is, in ‘n wyn kan – en moet – identifiseer. Elke wynmaker het sy eie benadering en probeer sy eie stempel afdruk, verduidelik Pierre.

“As daar ‘n verandering van wynmaker is, kry jy onvermydelik ‘n verandering in die styl van die wyn.” Dit behels baie harde en uitdagende werk, beklemtoon hy. “Ons maak nie wyn van water nie!” Oor terroir sê Pierre is daar vier kritiese elemente wat deurslaggewend ‘n invloed op jou terroir het - grondtipe, klimaat, vintage en die mens self. Op Pierre se wynplaas word daar in die nag gepluk. Om dit te bewerkstellig, was op sigself ‘n reusedeurbraak, met die wingerd wat soos ‘n baba vertroetel word.

“As jou plant stres, verloor hy suur, temperatuur en dehidreer hy”, verduidelik die deurwinterde Stellenbosser wat sê Robertson is “absoluut uniek geleë” vir die verbouing van die geliefde chardornnay. Ja, Suid-Afrika kan met die bestes ter wêreld saamgesels, sê Pierre. (2) Die land se welbekende pinotage is byvoorbeeld ‘n unieke wyn wat hier te lande ontwikkel is. Op die onlangse International Wine and Spirits Competition (IWSC) in Engeland het De Klerk se werkgewer die tweede plek behaal.

“Dis natuurlik ‘n groot eer, maar ons weet ons is eintlik die beste!”

Pierre is nie net ‘n keldermeester nie, hy is ook verantwoordelik vir die bemarking van sy wynplaas se produk en reis geweldig baie om nuwe markte te ontsluit. Intussen leer hy as wêreldburger van ander gebruike en kulture en deel hy sy omvangryke kennis met diegene wat gelukkig genoeg is om in sy sfeer te beweeg.

“As jy ‘n savant in wynbou wil wees, moet jy ‘n passie daarvoor hê, anders bevind jy jouself in die verkeerde beroep. Wyn is my passie, en ek fokus daarop. Ek isoleer myself van die geraas en lawaai daar buite. Die grootste fout wat jy kan maak, is om grootkop te raak.”

Alles het begin toe Pierre in 2006 na Epernay vir ‘n internasionale techno-wynboukongres gestuur is, die sleutel tot sy “connection francaise”. In Oktober 2011 ontmoet hy sy vrou Julie.

“Sy het in 2012 hier kom werk as ‘n parser en sommer gebly! Ons is in Oktober 2016 getroud.” Soos dit ‘n nooi Breuzon betaam, pas haar van by haar borrelende persoonlikheid, met Julie se pa wat die brein agter die beroemde Champagne Bernard Breuzon was. Sy ontmoeting met Julie was ‘n lewensveranderende oomblik vir Pierre van Paul Roos met ‘n graad in BSc Agric van die Stellenbosch Universiteit en het sy Frans met rasse skrede verbeter!

Pierre en Julie het ‘n vakansiehuis op Suiderstrand en het drie kinders: Louis (8), Tristan (7) en Charlize

(6). En al drie praat perfekte Frans, Afrikaans en Engels!

*Pierre Massyn is ‘n Franse burger van Suiderstrand wat ‘n voorliefde vir die vrug van die wingerstok het.

Voetnote:

1. De Klerk en sy span gebruik egter Franse eikvaatjies (futs du chêne) in hul veredelingsproses.

2. Tydens die skrywer se verblyf in Frankryk gedurende 2004 - 2014, was daar Suid-Afrikaanse pinotage

van die rak te koop in kettingwinkels soos LeClerc (!) , Intermarche, CarreFour en Champion, teen 2 Euros per bottel wat op daardie tydstip R20 was!

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer