‘My verhaal is ons verhaal’

’n Veilige ruimte
Hoe herbou jy jouself nadat jy die helfte van jou gesin op 11-jarige ouderdom verloor het? Hoe hanteer jy dit om te sien hoe jou ma van hartseer wegkwyn, net om dan haar liggaam tydens ’n moordsaak te moet uitken – en dit op die brose ouderdom van 17?
Patricia van Rooi

Junin Buys was net 11 jaar oud toe haar lewe in ’n oogwink verander het en sy vyf van haar familielede, insluitend twee van haar broers, in ’n motorongeluk verloor het. 

“Toe ek net 11 jaar oud was, het my lewe vir altyd verander. Ek het vyf geliefdes in ’n verwoestende motorongeluk verloor, waaronder twee van my broers, wat ook my beste vriende was. My ma het die voertuig bestuur en die ongeluk saam met twee van my susters oorleef,” vertel Junin.

Dit was haar eerste kennismaking met rou en haar eerste diep emosionele wond. Op die brose ouderdom van 11 moes sy skielik ’n ma-figuur word. Nie net vir haar sibbe nie, maar ook vir haar eie ma. Junin moes noodgedwonge die verantwoordelikhede van ’n volwassene op haar skouers neem en haar kinderjare prysgee.

Ses jaar later, op 17-jarige ouderdom, word sy gevra om die liggaam van haar vermoorde ma uit te ken. 

“Dit het my gebreek. Wat ek toe nie besef het nie, was hoe diep gebroke ek werklik was. Selfs vandag kan ek nie sê dat ek heeltemal genees is nie; dis ’n reis waarop ek steeds is. 

“Maar elke dag maak ek die doelbewuste keuse om te genees, te groei, ’n beter mens te word en dit beter te doen as die vorige dag,” sê Junin.

Te midde van al die verwoestende houe wat die lewe tydens haar kinderjare haar toegedien het, het sy ook met mishandeling, verwerping, verlatenheid, onsekerheid en vrees geworstel.

Sy het baie goed daarin geword om te funksioneer terwyl sy innerlik gebloei het, vertel Junin. 

Maar niemand behoort hulself in hul rou te verloor en die idee te aanvaar dat dit “krag” is om alles op jou skouers te dra en net aan te hou nie, sê sy.

Dit was dié gedagte wat die saad vir Rise & Radiate in haar hart geplant het.

“As ek terugkyk, glo ek dat die eerste saadjie reeds in daardie elfjarige meisie geplant is. Ek het nog net nie die naam daarvoor geken nie,” sê Junin. 


DIE DEFINISIE VAN HOOP

Op 29 Augustus 2026, 33 jaar nadat sy haar broers op 29 Augustus 1993 verloor het, het sy die Rise & Radiate Community Development Foundation amptelik van stapel gestuur.

“Vir 33 jaar het 29 Augustus iets verteenwoordig wat van my weggeneem is. Op 29 Augustus 2026 het ek besluit om iets nuuts langs daardie pyn te plaas: doelgerigtheid.

“Ek kan nie verander wat op 29 Augustus 1993 gebeur het nie, maar ek kan besluit wat ek toelaat dat dit deur my voortbring,” sê Junin.

Die nieregeringsorganisasie (NGO) is gestig om persoonlike transformasie met praktiese impak te kombineer. 

Dit sal bereik word deur middel van gemeenskapsontwikkeling en armoedeverligting; onderwys; vaardigheidsontwikkeling en opleiding; bemagtiging van die jeug, vroue, mans en gesinne; gesondheid, welstand en humanitêre uitreik-aksies; asook omgewingsvolhoubaarheid en gemeenskapsbemagtiging.

Hoewel die stigting uit rou en die reis van ’n oorlewende ontstaan ​​het, is dit nie net vir oorlewendes van mishandeling bedoel nie, sê Junin.

Dit beoog om mans, kinders, gesinne, skole, kerke, korporatiewe instellings en gemeenskappe te bereik, te ondersteun en te bemagtig, omdat ware transformasie nie in isolasie plaasvind nie.

“Dit is vir die vrou wat haar lewe na verwerping herbou, die kind wat iemand nodig het om in hom of haar te glo, die jongmens wat sy of haar waarde bevraagteken, die man wat pyn dra waaroor hy nog nooit gepraat het nie, die gesin wat rou en die gemeenskap wat hoop nodig het wat in dade omgeskakel word,” sê Junin.

Die stigting is daar om die gaping tussen pyn en praktiese herstel te oorbrug, verduidelik sy. 

“Ons is nie ’n plaasvervanger vir sielkundiges, maatskaplike werkers, beraders of gespesialiseerde geestesgesondheidsdienste nie. 

“Ons glo in toepaslike professionele verwysings en vennootskappe,” sê Junin.

Rise & Radiate wil deel wees van die brug wat veilige ruimtes vir aanmoediging, bemagtiging, praktiese ondersteuning en gemeenskap skep, terwyl dit mense help om hul volgende stap na volkome herstel te neem, verduidelik sy.

Die amptelike bekendstelling van Rise & Radiate het meer as 55 vroue en ’n groep jongmense tydens ’n oggend van verbintenis, kwesbaarheid, aanmoediging, opheffing en hoop byeengebring.

Junin sê die reaksie het iets uiters belangrik bevestig: Dat mense smag na ruimtes waar hulle werklik hulself kan wees en nie hoef voor te gee dat alles reg is nie.

“Wat as my verhaal begin het, het ons verhaal geword,” sê sy.

Vir Junin is daar – solank die begeerte om ’n veilige hawe vir gebrokenheid en ’n ruimte vir genesing te bied in haar voortwoed – geen sprake daarvan om tou op te gooi of voor die pyn en verdriet te swig nie.


DIE TOEKOMS

Die stigting is tans betrokke by inisiatiewe vir die verskaffing van sanitêre doekies en reageer waar moontlik op die praktiese behoeftes van kinders en gesinne.

Hulle het ook met die Khomasdal-Baptistekerk aan gemeenskapsprojekte begin saamwerk, insluitend inisiatiewe wat verband hou met die skuiling vir haweloses wat die kerk onlangs geopen het.

Genesing en opheffing vir vroue en jongmense lê Junin na aan die hart en sy hoop om ruimtes te skep waar vroue eerlike gesprekke oor pyn, identiteit, genesing, waarde en ’n lewensdoel kan voer.

Hul werk kan egter nie by woorde eindig nie, want hoop moet soms iets word wat jy kan aanraak en vashou, sê sy. 

Die stigting se kontakbesonderhede is +264 81 706 3050; [email protected] of www.riseandradiatelife.com. – [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-09-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer