Monument op Lüderitz in stukke

Tanja Bause
Die Nama & Ovaherero-volksmoordmonument wat in April vanjaar op Shark-eiland op Lüderitz opgerig is, is gisteroggend in stukke gevind.

Manfred Anderson van Lüderitz se buurtwag sê hy het Sondag tussen 21:00 en 22:00 by die monument verby gery en alles was nog in orde.

“En vanoggend was dit in stukke. Die wind het Sondag en veral gedurende die nag sterk gewaai. Die ligging van die monument is verkeerd. Daar waar dit gestaan het, het die wind dit gevang. Dit was nie beskermd nie, ook nie deur ’n hoë grensmuur nie. Dit was aan die natuur blootgestel en is ’n slagoffer van die wind.

“Die monument self was ook baie hoog en was nie goed genoeg geanker nie. Dit het op ’n klein voetstuk gestaan. Ek was nie self by die oprigting betrokke nie, maar dit blyk asof die monument nie geanker was nie; nie op die voetstuk of op die rotse nie. Dit was die wind en die weer,” het hy gesê.

Volgens hom is dit ’n jammerte, maar iets wat weer vervang kan word.

Die Vereniging van Nama Tradisionele Leiers, die Ovaherero Tradisionele Owerheid en die Ovaherero Volksmoordstigting het tussen 21 en 23 April die Volksmoordherinneringsdag onder die tema “Laat die bloed van ons voorvaders ons vasberadenheid vir herstellende geregtigheid aanwakker” op Lüderitz gevier en die monument opgerig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer