Miljoene se rys voed duisende Namibiërs
Sowat 300 000 Namibiërs sal baat by ongeveer vyf ton se rys met ’n geldwaarde van N$60 miljoen wat aan die Namibiese regering geskenk is.
Suid-Korea se skenking van 4 896 metrieke ton rys is amptelik deur die kantoor van die eerste minister in ontvangs geneem. Dit sal in samewerking met die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram (UNWFP) aan kwesbare huishoudings in al 14 streke van die land versprei word wat dit die nodigste het.
Eerste minister Elijah Ngurare het tydens die oorhandigingseremonie sy dank uitgespreek teenoor die Suid-Koreaanse regering en die skenking beskryf as ’n weerspieëling van opregte vriendskap in uitdagende tye.
“’n Vriendskap is nie net in goeie tye nie, maar ook in donker tye, en ons is baie dankbaar vir hierdie skenking,” het Ngurare gesê.
Verteenwoordigers van Suid-Korea sê die bystand vorm deel van die land se verbintenis tot die ondersteuning van globale voedselsekerheid deur humanitêre vennootskappe.
Suid-Korea was onder die eerste 26 lande wat diplomatieke bande met Namibië met sy onafhanklikheidswording 36 jaar gelede aangeknoop het. Vorige ondersteuning deur Suid-Korea sluit humanitêre steun tydens die Covid-19-pandemie in, met toetsstelle en gesigmaskers ter waarde van US$400 000. In 2024 het die land ook te midde van Namibië se ernstige droogte US$500 000 in humanitêre hulp geskenk wat sowat 25 000 inwoners – wat ernstig deur die droogte geraak is – bevoordeel het.
Ngurare het tydens die oorhandiging verwys na regeringsinisiatiewe wat daarop gemik is om binnelandse voedselproduksie te versterk en die afhanklikheid van voedselinvoere en noodhulp te verminder. Die regering het begin met die uitrol van kleinskaalse besproeiingskemas wat ontwerp is om voedselsekerheid op huishoudelike, dorps-, kiesafdelings- en streekvlak te verbeter.
As deel van ’n loodsprojek wat in die Omahekestreek van stapel gestuur is, is 92 werklose jongmense gewerf om grond wat deur tradisionele owerhede toegeken is, te ontbos en dit voor te berei vir besproeiingsboerdery. Dit is sodat hulle ’n inkomste kan verdien terwyl hulle help om terreine vir voedselproduksie te vestig.
Boorgate is ook gesink en infrastruktuur vir besproeiing geïnstalleer, met die eerste oes wat in die nabye toekoms verwag word.
Volgens Ngurare sal soortgelyke spanne ook na ander streke ontplooi word, wat insluit Zambezi, Kavango-Oos, Kavango-Wes, Ohangwena, Oshikoto, Omusati en ||Kharas.
Die eerste minister sê die program is veral daarop gemik om gemarginaliseerde gemeenskappe te ondersteun deur hulle in staat te stel om voedsel plaaslik te produseer eerder as om heeltemal op noodlenigingshulp staat te maak. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie