Lenings maak werkers ‘bankrot’
Senior amptenare in die Oshanastreek het uitbuitende leningspraktyke uitgelig wat Namibiërs, veral staatsamptenare, in finansiële ondergang dompel.
Leiers het Maandag tydens ’n openbare verhoor van die Nasionale Vergadering (NV) se staande komitee oor ekonomie en nywerheid, openbare administrasie en beplanning op Oshakati ’n somber prentjie geskets van huishoudings wat weens talle lenings op slegs ’n breukdeel van hul salarisse moet oorleef.
Dit vorm deel van die parlement se ondersoek na ’n mosie om te bepaal of bestaande wette Namibiërs teen uitbuiting deur mikroleners en informele geldskieters beskerm.
Abel Mazila, die hoof-ontwikkelingsbeplanner by die Oshana-streekraad, het gesê die Namibië toesighoudende owerheid vir finansiële instellings (Namfisa) moet tot verantwoording geroep word. Hy het aangevoer dat, hoewel daar wette bestaan om verbruikers te beskerm, die afdwinging daarvan agterweë gelaat is.
“As my salarisstrokie die maksimum kapasiteit bereik, dink ek regulerende instellings behoort te kan sê: ‘Hier, ons kan nie’, ongeag wins of besigheid,” het hy gesê.
“Dis hartseer om te sien hoe iemand ’n netto bedrag van N$16 000 verdien, maar slegs N$500 in hul rekening beland. Wie blameer ons hier? Dit behoort die reguleerder te wees,” het Mazila gesê.
Hy het ook kommer uitgespreek oor die winsgewendheid van die mikrolenersektor.
“As ’n mens na die leningsboeke van mikroleners kyk, beloop dit miljarde. Dit is een van die winsgewendste bedrywe en tog bly die lener in die skuld,” het Mazila bygevoeg.
Hy het voorgestel dat ’n studie gedoen word om te bepaal watter beroepe en streke die meeste leen en waarom.
“Indien die studie uitgevoer word, behoort finansiële geletterdheid aan diegene verskaf te word wat nie oor die nodige kennis beskik om lenings te verminder nie. Ek weet baie mense leen om probleme op te los, maar dit raak hul kontantvloei.”
Mazila het verder rentekoerse op huislenings gekritiseer en gesê dit maak huiseienaarskap onbereikbaar.
“’n Huis word dalk op N$1 miljoen gewaardeer, maar van leners word dikwels vereis om N$2 miljoen terug te betaal,” het hy gesê.
“Dit lei tot ’n verhalingskoers van 100%. Waarom nie mik vir 60% tot 70% nie? Hierdie praktyk herinner aan kolonialisme en moet hersien word,” het hy beklemtoon.
SLEUTELFAKTORE
Timoteus Shivute, streekraadslid vir die Uuvudhiya-kiesafdeling, het gesê finansiële instellings moet in programme vir openbare bewusmaking oor finansiële bestuur belê.
Hy het drie sleutelfaktore geïdentifiseer wat tot lenings aanleiding gee: Beperkte inkomste, ’n gebrek aan kwalifikasies of geskikte werk en swak bestedingsgewoontes.
“Sommige bestee buitensporig aan alkohol wanneer hulle hul salarisse ontvang, wat daartoe lei dat hulle hul tot kontantlenings wend om in hul behoeftes te voorsien,” het Shivute gesê.
Die voorsitter van die komitee en voormalige minister van finansies, Iipumbu Shiimi, het gesê die NV het die komitee van 24 lede opdrag gegee om menings van die publiek – veral van staatsamptenare – in te win voordat daar aan die parlement verslag gedoen word.
Hy het die omvang van die krisis wat in die parlement bespreek is, onthul.
“Daar was ’n debat oor die feit dat die Namibiese bevolking diep in die skuld is. Baie gesinne gaan huis toe met ’n netto inkomste van N$1 500 of minder – ten spyte van ’n salaris van N$10 000 – weens te veel lenings,” het Shiimi gesê.
Hy het gewaarsku sommige mense pleeg selfdood of oorweeg selfdood as gevolg van skuld, en ander ervaar soveel stres dat hulle nie produktief by die werk kan presteer nie.
“Dis ’n probleem waarmee die samelewing nie alleen gelaat kan word nie,” het hy gesê.
Shiimi het lede van die publiek aangemoedig om aan soortgelyke verhore deel te neem wat in die streke ||Kharas, Omaheke en Erongo gehou word.
“Ons kan nie in alle streke wees nie, maar wanneer jy die geleentheid in ’n naburige streek kry, woon dit asseblief by en lewer jou bydrae,” het hy gesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie