Landelike vroue eis ’n sê oor mynbou
Landelike vroue in die kommunale bewaringsgebied van Otjohorongo, sê myne het "ons weivelde met oop groewe besaai wat ons vee insluk, boorgate gesluit waarop ons families al geslagte lank staatgemaak het en tot in die berge met antieke rotskuns ingesluip".
Dié getuienis het tydens ’n tweedaagse werkwinkel en besoek vroeër vandeesmaand by Okongue in die Dâures-kiesafdeling in die Erongostreek na vore gekom.
Dit is deur die Namibia Rural Women's Assembly (NRWA) en die WoMin African Alliance aangebied. Vroue uit Erongo, Kunene en Omaheke het die byeenkoms gebruik om groen waterstof, grondregte, bewaring en wie die koste dra wanneer groot projekte op kommunale en voorvaderlike grond van stapel gestuur word, te ondersoek.
“Ontwikkeling kan nie volhoubaar genoem word wanneer die gemeenskappe wie se grond en natuurlike hulpbronne dit moontlik maak, agterbly om die verliese te dra nie,” het Agnes Tjindjo van die NRWA gesê.
Volgens die vroue is weiveld aan myne verloor en myngroewe is ongerehabiliteer gelaat, met vee wat daar inval en vrek.
“Vir landelike boere is die verlies van vee nie bloot ’n ekonomiese terugslag nie. Dit raak huishoudelike inkomste, voedselsekerheid, welvaart, veerkragtigheid en die vermoë om van droogte en ander ontberings te herstel,” het Tjindjo verduidelik.
Die vroue het ook vertel van natuurlike rivierstrome wat deur mynbouverwante padkonstruksie afgesper is, berigte van waterbesoedeling, gebruikte enjinolie wat rondom mynterreine gestort is en tradisionele gemeenskapsboorgate wat gesluit is.
Hulle het gevra waarom inspeksies nie sigbaar is nie, waarom omgewingsverslae nie aan geraakte gemeenskappe voorgelê word nie en waarom daar geen duidelike rehabilitasie- en sluitingsplanne is nie.
“Daar kan nie van gemeenskappe verwag word om ontwikkelingsprojekte te aanvaar sonder om die omgewingsrisiko’s, die versagtingsmaatreëls en wie verantwoordelikheid sal neem wanneer skade plaasvind, te verstaan nie,” het sy benadruk.
ANTIEKE ROTSTEKENINGE
Mynbou in berge met antieke rotstekeninge het besondere kommer gewek. Vir Otjohorongo dra hierdie berge kulturele en voorvaderlike betekenis.
“Sodra dit vernietig is, kan kulturele erfenis nie eenvoudig deur finansiële vergoeding of rehabilitasieplanne vervang word nie,” beklemtoon Tjindjo.
Die kommer eggo dié wat ’n jaar gelede geopper is. In skriftelike kommentaar op ’n aansoek om ’n prospekteerlisensie (EPL 10500) ná ’n konsultasievergadering by Otjohorongo ’n jaar gelede, het die gemeenskap gesê vroeëre granietmynbou het rotstekeninge by Otjohorongo Granite Hill ingesluit en die beloofde rehabilitasie en vergoeding het nooit gerealiseer nie.
OMGEWINGSBEWARING
Die werkwinkel het ook bewaring onder die loep geneem.
Met die droogte wat vererger, beweeg wild nader aan wonings, weiding en waterpunte, vernietig gewasse en bedreig vee en menselewens, terwyl bewaringsvoordele en vergoeding nie die huishoudings bereik wat die verliese dra nie, het die vroue gesê.
“Ons kan nie bewaringsukses vier terwyl die gemeenskappe wat in bewaringsgebiede woon, honger, verarm en sukkel om te oorleef, agterbly nie.
“Om wild te beskerm moet ook beteken om menslike lewens en bestaansmiddele te beskerm,” het Tjindjo beklemtoon.
Die sterkste eis was vir vrye, vooraf en ingeligte toestemming: om vroeg genader te word, sonder druk en met volledige inligting en om ’n werklike sê te hê oor of projekte op hul grond voortgaan.
“Landelike gemeenskappe moet nie hul regte en bestaansmiddele verloor, omdat hulle inligting, verteenwoordiging of onderhandelingsmag ontbreek nie,” het sy gewaarsku.
Die vroue wil hê die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme moet omgewingsonderrig na kommunale gebiede neem.
“Omgewingsbewusmaking behoort nie eers te begin nadat skade reeds plaasgevind het nie. Dit moet voorsien word voordat gemeenskappe deur ontwikkelaars genader word,” het Tjindjo bygevoeg.
Onder die tien eise is gereelde en deursigtige inspeksies van mynterreine met verslae wat met gemeenskappe gedeel word, die rehabilitasie van oop groewe, die beskerming van riviere en boorgate, ’n ondersoek na die aansprake van besoedeling- en oliestorting, die beskerming van rotskuns, ’n hersiening van die verdeling van bewaringsvoordele en vergoeding en ’n sitplek vir landelike vroue in konsultasies en monitering.
“Ons is nie teen ontwikkeling nie. Ons eis ontwikkeling met geregtigheid,” het Tjindjo afgesluit.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie