In die jaar van Onse Heer 2025
Geduld en waardering
Francoise Steynberg: Alhoewel die jaar 2025 vir my op ‘n persoonlike laagtepunt afgeskop het, was dit my jaar van verandering, geduld, dankbaarheid en waardering. Dit was die jaar wat ek geweet het dinge kan nie so op dieselfde trant voortploeter nie en ek het vir myself doelwitte en spertye gestel. Ek as ongeduldige mens moes geduldig wag, vir myself opstaan en veg tot ek my doelwit en spertyd in Julie bereik het. Intussen het talle vriende en vreemdelinge my in hierdie moeilike tyd ondersteun en gedra totdat die juk van my skouers af is. Daar was weer hernude hoop en ek het ligter gevoel. Aan die einde van die jaar het daar ‘n groot verrassing gekom toe die Namibië Landbou-unie (NLU) my as Media-persoonlikheid van 2025 aangewys het. Uiteindelik het ek weer gevoel ek word waardeer en is dankbaar vir die erkenning. Mens het geen idee hoe ‘n klein blik van waardering of ‘n mooi kompliment iemand wat ‘n aaklige dag beleef of op ‘n laagtepunt in die lewe is, weer ‘n hupstoot kan gee nie. Dit was my mooiste kompliment van 2025: “Baie geluk, Francoise! Dis 1 000% verdiend!!! Jou werk is dikwels 'n onaangename, ondankbare en eensame taak, en jy was standvastig daarin om met moed en eerlikheid en sonder vooroordeel, jou stem te laat hoor oor belangrike kwessies wat alle Namibiërs raak. Jy is my held!” Deel ‘n bietjie meer komplimente as kritiek uit en helder iemand se dag op! Dis my voorneme vir 2026 om elke dag vir iemand ‘n veer in die hoed te om ‘n blom in die hare te steek en te sê welgedaan!
Baksteen vir baksteen
Annemarie du Toit: As iemand vir my aan die begin van 2025 gesê het dat hierdie jaar my hele lewe sou omdraai, sou ek waarskynlik net gelag het. Ek sou nooit kon dink dat elke draai, elke uitdaging, elke wonderlike oomblik sou saamspan om my uiteindelik terug te vat na wie ek nog altyd was nie. Want dis die grootste les wat hierdie jaar my geleer het: jy kan baie dinge probeer wees, maar jou hart sal altyd sy pad terugvind na sy oorspronklike taal. En myne? Myne praat nuus, stories, mense. Myne was nog altyd ’n joernalis, lank voor ek dit hardop wou erken.
Wanneer ek terugkyk, is dit amper onmoontlik om ’n enkele hoogtepunt te kies. Want 2025 was nie ’n jaar van “een groot oomblik” nie dit was ’n jaar wat my elke dag gewys het waartoe ek in staat is. ’n Jaar vol klein oorwinnings, harde waarhede leer, trane wat my gewater het soos reendruppels maak met blomme en suksesse wat ek nooit eers gedroom het ek verdien nie. Van die dae wat ek moeg by die huis aankom en wonder of ek genoeg doen tot die oomblikke wat ek my eie skouers kon reguit trek omdat ek besef: ek het dit oorleef. Ek het dit gedoen. Ek het dit gemaak.
En toe kom daardie een dag , die dag van NEXT GEN van die Jaar. My “Ek het dit gemaak”-oomblik. ’n Oomblik wat nie gegaan het oor ’n prys of ’n titel nie, maar oor iets veel groter: die wete dat ek presies is waar ek moet wees. Dat ek doen waarvoor ek gemaak is. Dat die wêreld van storievertel my kies, en ek dit terug kies, elke keer, met albei hande.
Maar dalk is die mooiste deel van hierdie jaar nie net my eie groei nie, maar die vroue wat my omring het. Sterk vroue, moedige vroue, vroue wat hulle eie storms oorleef het lank voor ek my eerste skryfstuk ingedien het. Hulle wat die pad gestap het, die deure oopgemaak het, die plafonne gekraak het sodat ek vandag met selfvertroue in ’n nuuskamer kan instap en sê: “Hier hoort ek.” Hulle het my geleer dat jy nie net ’n plek in die wêreld vat nie jy bou dit, al is dit baksteen vir baksteen. 2025 was ongelooflik. Nie omdat dit maklik was nie, maar omdat dit my voluit geleer het wie ek is. Wat ek werd is. Waarheen ek op pad is. As die jaar ‘n bewys van enige iets was, is dit dat ek nou eers begin.
Hierdie skoene van my
Irene-Mari van der Walt: Hoe dit begin het vs. hoe dit gegaan het: ek weet nie of dit my slimste of domste idee ooit was om met ’n splinternuwe vellies die naweek se werk by die Outjo Wildsfees aan te durf nie. Wat ’n naweek was dit nie! Teen die einde van die naweek het amper elke persoon wat ek ontmoet het my gegroet of ek ’n mitiese wese was wat hulle nie heeltemal geglo het bestaan nie. "O, so jy's die een wat al daai goedjies post ..." sou hulle almal sê asof hulle uit een mond praat. Tussen die manneoggend, die damesoggend, sjef Sanet Prinsloo se proekombuis, die ontdekking van ’n nuwe speserymengsel wat deesdae een van my gunstelinge is, die stalletjies, die braaikompetisie en die vermaak het dit later gevoel of ek sweef, terwyl my fênsie treëteller my net vra om bietjie stil te sit. En ek wens net ek kan die ding stilkry, want ek het lanklaas so lekker gewerk.
Teen die einde van die naweek het ek ’n paar kykers van ons program Kletskompas ontmoet (en moes natuurlik maak of dit vir my doodnormaal is dat mense my in die publiek herken) en ’n paar van my kiekies het selfs memes geword. Outjo, ek loop enigetyd weer 38 590 treë in my splinternuwe vellies saam met julle!
Agter elke man...
Jacques du Toit: Agter elke boer is daar ’n vrou wat hom ondersteun – met wysheid, geduld en ‘n fyn oog vir detail.
Terwyl die laaste kontrakte ná die Du Preez Wildsveiling tydens die Outjo Wildsfees geteken word, sien ons die mooi oomblikke wat dikwels agter die skerms afspeel. Sy wys rustig waar geteken moet word, en saam word die transaksie finaal gemaak. Dis hierdie soort saamwerk wat boerdery dra – stil ondersteuning wat alles moontlik maak.
Sy naam is Hond
Henriette Lamprecht - Keltiese volksverhale uit Skotland en Ierland vertel van ‘n mitiese swart kat (sith) wat lyk soos 'n groot, hondgrootte swart kat met 'n wit kol op sy bors. In dié volksverhaal word geglo dat dit 'n feetjie (of 'n heks) in vermomming is wat siele kon steel of huise kon seën, veral rondom Halloween (Samhain). In Namibië stap ‘n swart kat op ‘n baie lang, laatnag verkiesingsdag op 26 November 2024 hierdie geswore hondmens se lewe binne toe hy uit die donker gemaaiu gekom en terug’praat’ toe ek hom groet. Die kersie op die koek is toe ek hom roep om saam terug te stap kantoor toe, hy hier homself op my lessenaar neervly en wraggies toelaat dat ek hom optel en sy pels soen. Ek doop hom Hond (want katte is afsydig en so nie drukkiediere nie) en vir ‘n jaar neem hy inttrek in ons kantore met sy slaapkussing waar hy deur die dag slaap ná hy saans homself moeg kattemaai. Naweke mis ek hom. Soggens is alles beter as hy om die hoek kom. Soveel keer is dit sy blinkswart pels wat snikke opvang en woede laat bedaar. My Hondkat wat my siel gesteel en my huis geseën het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie