Hoop vir Baster Vaderlike Wette
Uitspraak van die hooggeregshof tans voorbehou
Namibië se hoogste hof beslis oor die voortbestaan van die Bastertradisie en kapteinskapverkiesings.
Regter Orben Sibeya se uitspraak in 2023 dat Namibië se onafhanklikwording die Baster Vaderlike Wette nietig verklaar het, is in gedrang.
Die hooggeregshof se uitspraak in die hofgeskil tussen die Basterkaptein Herbert George (Jacky) Britz en sy teenstander in die kapteinskapverkiesing in 2021, Rynault van Wyk, is tans voorbehou.
Die saak het Donderdag in die hoofstad voorgekom, toe adjunkhoofregters Petrus Damaseb en Hosea Angula en appèlregter Dave Smuts beide prokureurs – Willem Grobbelaar wat vir Van Wyk verteenwoordig en James Diedericks vir Britz – met moeilike vrae gepeper het.
Sibeya het in die aanvanklike uitdaging van die regverdigheid van die verkiesing beslis dat daar geen kwessies is om oor uitspraak te lewer nie, aangesien die verkiesing binne die raamwerk van die Baster Vaderlike Wette gehou is, wat volgens hom nie meer van krag was nie.
Dit was ten spyte van ’n uitspraak in 1993 deur regters Nic Hannah, Johan Strydom en Pio Teek dat die Vaderlike Wette wel Namibië se onafhanklikwording oorleef het, alhoewel in ’n verkorte vorm. Sibeya het gevolglik Van Wyk se uitdaging teen die verkiesing van die hand gewys.
Smuts het Donderdag vir Diedericks uitdruklik gevra of hulle steeds by die hoërhof se uitspraak staan dat die Vaderlike Wette nie meer van krag is nie.
“Ja, u edele,” het hy geantwoord.
“Het julle Strydom se uitspraak aan die hof voorsien?” het Smuts gevra.
“Nee,” was die antwoord.
Diedericks het aangevoer dat die Vaderlike Wette onder Suid-Afrikaanse bewind in Wet 56 van 1976 opgeneem is en dat dié wet met onafhanklikwording herroep is. Damaseb het egter beklemtoon dat Wet 56 oor die administrasie van bantoestans gehandel het. Diedericks het aangevoer dat Wet 56 betrekking het op die prosedure vir kapteinskapsverkiesings en met die verwerping daarvan is die Vaderlike Wette ook beëindig.
Smuts het nie saamgestem nie en gesê dat die herroeping van hierdie wet nie die tradisionele gebruike van die Bastergemeenskap verwerp het nie.
“Die volbank [van 1993] het hiermee gehandel. Waardeur is die amp van kaptein geskep? Is die bron van die amp van kaptein nie die Vaderlike Wette nie?
“Wees versigtig om hulle nie te verwar nie. Die verkiesingsprosedure is verwyder, maar die tradisies duur voort,” het Damaseb gesê.
“As die Vaderlike Wette herroep is, dan is daar geen amp van kaptein nie. In daardie geval, waarvoor veg julle?” wou Damaseb by die prokureur weet.
“Sê jy daar is nie so iets soos ’n [Baster]-kaptein nie?” het Smuts ook gevra en gesê, “dit is die logiese en natuurlike afleiding van jul voorlegging”.
Diedericks het geantwoord: “Die kwessie was nooit of daar ’n kaptein kan wees nie. Die amp van kaptein het ontstaan in die Vaderlike Wette, maar die wette was vervat in die wet [nommer 56].”
Damaseb het volgehou: “Opvolging en die verkiesingsproses moet afhang van die gebruike van die mense en die sinspelilng hier is dat daardie gebruike die Vaderlike Wette is, ingevolge die [1993]-uitspraak van die volbank van die hooggeregshof.”
Diedericks het toe erken dat die Vaderlike Wette oorleef het, alhoewel in ’n verkorte vorm, dus bestaan die amp van kaptein, maar nie die magte wat die amp voorheen gehad het nie.
Dit is verder tydens die verhoor bevestig dat die verkorte vorm van die Vaderlike Wette ook nie prosedures vir die verkiesing bevat het nie en aangepas moes word om in die moderne wêreld toegepas te word.
Nietemin het Damaseb terloops uitgelig dat die Vaderlike Wette baie progressief was, aangesien alle belastingbetalende inwoners kon stem, nie uitsluitlik net Basters nie.
KOSTE
Beide Damaseb en Smuts het wel ’n punt daarvan gemaak om Diedericks te vra: “As ons die hoërhofuitspraak [van Sibeya] in terme van die Vaderlike Wette regstel, sal julle steeds aandring op ’n toekenning van koste?” het Damaseb gevra.
“Ek sou moet saamstem dat hulle dan ’n oorwinning sou behaal het, aangesien ’n beduidende deel van die beslissing omgekeer sou word en dus sou koste [teen Van Wyk] ongegrond wees,” het Diedericks geantwoord.
Grobbelaar het nie veel beter gevaar nie met die regters wat hom gedwing het om te erken dat die Vaderlike Wette spoedige verkiesings vereis het, bydraes van kiesers nodig was, bewerings van onreëlmatighede betwis is en dit Van Wyk se plig was om onreëlmatighede met die 2021-verkiesing te bewys.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie