FOTO TER ILLUSTRASIE/ANNEMARIE DU TOIT
FOTO TER ILLUSTRASIE/ANNEMARIE DU TOIT

Hoofstad se huur druk

Pryse styg skerp
Rolspelers in die verhuringsbedryf sê die magsbalans skuif al hoe meer in die guns van verhuurders.
Annemarie du Toit

Windhoek se huurmark verkeer onder geweldige druk, met huurders wat met die voortgesette styging van huur en deposito's toenemend sukkel om 'n beskostigbare plek(kie) te kry wat hul sak pas. In 'n onderhoud met Network Media Hub (NMH) het 'n voornemende huurder vertel hy het onlangs na 'n tweeslaapkamerwoonstel teen N$9 500 per maand gaan kyk. Volgens die verhuurder van die woonstel het hy toe reeds meer as 30 aansoeke vir die eenheid ontvang, omdat dit as “redelik geprys” beskou word. Sommige eienaars verkies volgens die verhuurder ook om nie meer hul eiendomme "wyd" te adverteer nie om sodoende die oorweldigende reaksie (en teleurstelling) van voornemende huurders te beperk.


Die Windhoekse eiendomsagent Carl van der Merwe beskryf die situasie as “’n absolute nagmerrie”. “Jy sal nie glo hoeveel oproepe ek daagliks kry van mense wat 'n plek soek van tussen N$6 000 en N$15 000 per maand nie. Daar is eenvoudig nie genoeg huurverblyf beskikbaar nie, net 'n enorme tekort,” het Van der Merwe gesê.


Volgens hom dra die basiese beginsels van vraag en aanbod direk by tot die stygende pryse. “Vraag oorskry verreweg aanbod en dit stoot pryse op. Maar daar is ongelukkig ook eienaars wat dit uitbuit.”


Van der Merwe het ’n voorbeeld genoem van ’n huurder wat tans N$9 750 betaal, maar onlangs in kennis gestel is dat haar huur by die hernuwing van haar kontrak tot N$13 500 verhoog word. Sou sy dit nie kan bekostig nie, word haar kontrak nie hernu nie en kry sy twee maande kennis.


Gemeubileerde eenhede is nie noodwendig 'n nuwe verskynsel nie, sê Van der Merwe. “Ek kan nie sê dit hou direk verband met die voorgestelde wetsontwerp vir die beheer van huur nie. Gemeubileerde plekke het nog altyd aansienlik hoër huurinkomste gegenereer.” Volgens hom soek net sowat 10% van huurders gemeubileerde verblyf soek, terwyl ongeveer 90% ongemeubileerde eenhede verkies.


Ten spyte hiervan word sekere gemeubileerde eenhede teen bedrae van tot N$13 000 per maand vir ’n enkelkamerwoonstel in Olympia geadverteer.

Intussen sê ’n 26-jarige onderwyseres wat wou naamloos bly uit vrees dat sy op 'n swartlys geplaas sal word, sy is weens die "absurde huurpryse" in Windhoek genoodsaak om by haar ouers in te trek. Sy was op soek na verblyf in Kleine Kuppe, Eros en Suiderhof en het ongemeubileerde eenslaapkamerwoonstelle vir tot N$15 000 per maand gesien. Sy het later geholpe geraak met 'n eenslaapkamereenheid vir N$7 500 per maand agter in iemand se erf. Die eerste maand moes sy buiten vir die huur ook 'n deposito van N$7 500 betaal.


’n Jong man wat onlangs in ’n ongemeubileerde woonstel teen N$13 000 per maand ingetrek het, het aan NMH gesê hy het nie veel van 'n keuse gehad nie, omdat dit troeteldiervriendelik is. Sy verhuurder het ook ’n volle deposito geëis, wat beteken het hy moes N$26 000 in sy eerste maand opdok.


Volgens Van der Merwe is dit algemene praktyk. “Ek ken nie ’n enkele eienaar wat 50% deposito vra nie. Almal vra 100%. Hulle sê eenvoudig: as jy dit nie wil betaal nie, is daar iemand anders wat sal.”


Hoewel die bestaande wetgewing bepaal dat deposito’s nie 50% van die maandelikse huur mag oorskry nie, dui markpraktyke daarop dat volle deposito’s algemeen vereis word. Sommige verhuurders verwys daarna as ’n “sekuriteits- en skadedeposito”.


Die voorgestelde wetsontwerwerp wat steeds in konsepvorm is, beoog om groter regulering in die huurmark te bring. Intussen is huurders blootgestel aan skerp stygings in maandelikse huur, hoë uitgawes in die eerste maand en ’n mark waar vraag die aanbod ver oorskry.

Minister Modestus Amutse wat die voorloper vir die nuwe huurbeheerswetsontwerp is vir kommentaar genader. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer