Handgeskrewe Bybelprojek sien die lig
Die Bybelgenootskap van Namibië, onder leiding van sy uitvoerende hoof, dr. Schalk Botha, het gister ’n geskiedkundige projek en die eerste van sy soort in die land, die handgeskrewe Bybelprojek, van stapel gestuur.
Die inisiatief is deur die werk van antieke bybelse skrywers geïnspireer en het ten doel dat deelnemers al 33 000 verse van die Bybel – vers vir vers – met die hand oorskryf.
Die projek word van stapel gestuur te midde van ’n groeiende behoefte aan Bybels in Namibië.
Volgens die Bybelgenootskap is daar steeds ’n groot aanvraag na Bybels in plaaslike tale, sowel as oudio-Bybels vir bejaardes en mense met leesprobleme. Daar is ook ’n dringende behoefte aan video-Skrif vir gehoorgestremdes en bekostigbare Bybelopsies vir individue wat nie ’n Bybel kan bekostig nie.
Die Woord van God bly ’n bron van hoop, leiding en geestelike verbondenheid vir baie Namibiërs, volgens die genootskap.
As deel van die handgeskrewe Bybelprojek word deelnemers genooi om geïdentifiseerde gemeenskapsentrums te besoek waar die Bybelgenootskap se span hulle sal bystaan en die proses sal verduidelik.
Elke persoon skryf ’n voorgeskrewe vers uit die Engelse standaard-weergawe (ESV) neer om te verseker dat geen vers herhaal word nie. Voor dié proses begin, word deelnemers gevra om te registreer. Dan kry hulle die geleentheid om die vers te lees, daaroor na te dink en te bid voordat hulle dit neerskryf.
’n Bedrag van N$150 per vers word gehef, ongeag die deelnemer se ouderdom, en deelnemers kan, indien hulle wil, ’n foto in ’n spesiaal ontwerpte raam neem en ’n kort boodskap deel oor wat die vers vir hulle beteken of wat hulle daaruit geleer het.
Die eerste fase van die projek het ten doel om die volledige woord-vir-woord-transkripsie van die hele Nuwe Testament, sowel as die boeke Psalms en Spreuke – ongeveer 21 000 verse – teen 15 Oktober 2026 te voltooi.
Dit vorm deel van die Bybelgenootskap se breër missie om toegang tot die Skrif landswyd te verbeter en die Bybel op verskeie maniere aan alle gemeenskappe beskikbaar te stel.
Deelnemers wat ’n vers bydra, sal ’n voorbeeld van die handgeskrewe Bybel met ’n spesiaal ontwerpte omslag by die Bybelgenootskap se 40ste herdenkingsgala in November 2026 ontvang.
Botha het tydens die bekendstelling benadruk dat die projek nie net ’n gemeenskapsaktiwiteit is nie, maar ook ’n vorm van geestelike erfenis wat Namibiërs die geleentheid bied om ’n tasbare deel van die Skrifgeskiedenis te word.
Die Bybelgenootskap doen ’n beroep op individue, kerke, organisasies en gemeenskappe oraloor Namibië om aan die projek deel te neem en sodoende te help om ’n gesamentlike nalatenskap te skep wat vir toekomstige geslagte sal voortleef.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie