Groot Aub krap kop oor water

Sabotasie, onwettige private verkope word vermoed
Skoolkinders, senior burgers en sommige inwoners van Groot Aub ly dors, terwyl ander na bewering oorgenoeg water het.
Augetto Graig
“Ons weet van sabotasie en dat iemand die kleppe op die hooflyn toemaak sodat hulle self water kan opvang, om dan aan die inwoners te verkoop.”

Só het Ivan Skrywer, raadslid van Stad Windhoek (CoW) verantwoordelik vir Groot Aub, gister op ’n navraag van Network Media Hub (NMH) gereageer.

Khomas-streekraadslid Piet Adams het ook die vermoede van sabotasie geopper.

“Hoekom nou? Daar is mense wat baie onnodig is; hul tenke volmaak en tuin natmaak. Is dit doelbewuste sabotasie? Ek het simpatie, veral met die oumense,” het hy gesê.

Adams het ook bevestig dat die private verkope van water glad nie op Groot Aub toegelaat word nie.

“Mense vat kanse, maar die owerhede is nêrens te siene nie,” sê hy.

Adams sê hy het die kwessie by die Windhoek-stadsraad aangemeld.

“Dis ons almal wat in hierdie penarie is,” sê hy, wat ook watertekorte by sy huis op Groot Aub ervaar.

Sommige inwoners sê daar word N$200 vir 1 000 liter water op straat gevra.

Dié nedersetting het ondergrondse water, maar die inwoners is steeds waterloos. Die Laerskool Groot Aub, wat 1 500 leerlinge huisves, is al vir ongeveer ’n maand sonder water.

Inwoners van verskeie woonbuurtes krap al drie maande lank hul koppe oor die watertoevoerprobleem, met huisgesinne wat met niks of dun straaltjies water uit hul pype moet klaarkom.

Elizabeth Hoebes, die onderwyseres by die Bright Minds-kleuterskool, sê die 38 kinders in haar sorg maak nou al vir die derde maand staat op die kliniek langsaan as ’n bron vir drinkwater en om die skool skoon te maak.

Wat die situasie so eienaardig maak, is dat daar net in die straat af ’n huis is wat met groen tuine, vrugbare wingerde en groot, vol watertenks spog.

Die eienaar van dié huis, Sheldin (Trompie) Bock, sê sy krane is ook ongeveer die laaste drie weke leeg. Hy sê hy kry egter water van die dorp se waterpypleiding en gaan haal water van private boorgate op omliggende plotte, wat hy aanry om sy tenks te vul – vir eie gebruik en vir sy tuin.

Bock ontken verder dat hy water aan sy bure verkoop, maar erken dat hy hulle vra om te help om die vervoerkoste vir die water wat hy met hulle deel, te dek.

“Groot Aub het [ondergrondse] water, maar dis nou somertyd en almal gee hul plante water,” sê hy.

“Toe dit winter was, het niemand die plante water gegee nie. Dalk raak die ondergrondse water[vlakke] laag. Een gebied het water, die ander gebied nie.

“Soos nou sit onse blok met die waterprobleem, maar die mense wil net sit en alles gratis hê; hulle verwag die volgende persoon moet vir hulle die water aanry,” sê Bock.

Patrick Beukes, ’n boorling van Groot Aub wat ook in dieselfde straat naby die kliniek woon, sê: “Ons kan nie sonder water bly nie. Ons kan nie onse toilette gebruik nie, want ons het nie water nie.

“Maar inteendeel kry jy die volgende persoon wat in dieselfde lyn as jy bly, wat water in tenks opgaar en water verkoop.

“Selfs ons in hierdie lyn wat dit kan bekostig, hulle moet water aankoop sodat hulle hul toilette kan gebruik, hul skottelgoed kan was.

“Ons het al hierdie goed gekla by City of Windhoek, by die raadslid, by die persoon wat verantwoordelik is vir die water,” sê hy.

“Wat te erg is, is te erg,” voer Beukes aan.

Adams sê egter dat die huidige probleme ook onderliggende tekortkominge beklemtoon.

Groot Aub se waterstelsel is al jare lank onvoldoende en is afhanklik van die waterreservoir wat in 2006 gebou is om sowat 6 000 inwoners van water te voorsien. Vandag wissel Groot Aub se bevolking tussen 8 000 en 9 000 mense.

“Vir daai aantal inwoners kan die ou pype nie meer die druk vat nie, ons het oral lekkasies,” sê Adams.

Daar is ook diere op die nedersetting wat om die beskikbare water meeding, sê hy.

Aanbevelings, soos om water uit die Oanobdam te verkry, is voorgestel, maar nooit geïmplementeer nie. ’n Bykomende twee of drie waterreservoirs word op strategiese plekke benodig, sê Adams.

Groot Aub het agt boorgate, maar Adams sê hy weet nie hoeveel is gekoppel of operasioneel nie.

Bykomende vrae wat aan die Windhoek-munisipaliteit gestuur is, was teen druktyd nog nie beantwoord nie.

[email protected]

Luister na Patrick Beukes se klagtes, in sy eie woorde, hier: q.my.na/80JE

Kommentaar

Republikein 2026-02-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer