Grondkwessie op Dordabis onthul

Opposisie steun boerekoöperatief
Die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming het verlede week amptenare gestuur met aanmaningsbriewe van die kantoor van die prokureur-generaal waarin geëis word dat die families die staatsplaas ontruim.
Augetto Graig

Die Independent Patriots for Change (IPC) se skaduminister vir landbou en grondhervorming en parlementslid, Michael Mulunga, het ’n beroep op die regering gedoen om dringend aandag te skenk aan die situasie van die grondlose boere wat tans Plaas Christerine No. 259 beset.

Die Tsou!Homs-boerekoöperatief, wat uit ten minste 40 families bestaan, het op 10 Augustus dié staatsplaas buite Dordabis in die Khomasstreek beset. 

Volgens voorsitter David Gurubeb volg hierdie grondbesetting op jare se volgehoue aansoeke om landbougrond waar sy lede ’n nuwe lewe kon begin.

Die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming het verlede week amptenare gestuur met aanmaningsbriewe van die kantoor van die prokureur-generaal waarin geëis word dat hulle die plaas ontruim.

Alhoewel baie van die boere nie die inhoud van die briewe kon verstaan nie, sê Gurubeb: “Ons (het) hulle gevra wat alles in die brief staan, om dit vir ons voor te lees sodat ons (die) brief kon verstaan, maar hulle het geweier. Hulle wil ons net dreig om te teken, maar ons het geweier.” 

Hy sê ook: “Ons beoog om ons prokureurs in te bring vir ons verdediging tot daar na ons geluister word.”

Die aanmaningsbrief, wat Republikein onder oë gehad het, meld dit is op instruksie van die ministerie uitgereik en dat ’n polisieondersoek (saaknommer CR04/08/2026) wat in Dordabis aanhanging gemaak is, bevestig dat die koöperatief die plaas onwettig beset. Die boere het 30 dae vanaf 10 September om hul vee, gesinne en alle besittings te verwyder en die plaas te ontruim.

Versuim om dit te doen, sal lei tot ’n aansoek by die hoërhof dat die polisie die adjunkbalju bystaan ​​om die boere te verwyder, waarsku die brief. 

Daar word nie in die brief melding gemaak van waarheen die boere, hul diere of hul gesinne moet trek nie.

Vandeesweek het Mulunga gepleit dat die regering eerder grond aan die Tsou!Homs-boerekoöperatief beskikbaar stel. 

In ’n brief wat hy op sosiale media gedeel het, sê dié parlementslid ’n onlangse besoek het die pleidooi van die boerekoöperatief vir hom duidelik in perspektief geplaas.

Volgens hom volg die grondbesetting nadat daar aan elke amptelike vereiste vir die toekenning van grond voldoen is.

Op advies van die ministerie het die boere ’n koöperatief gestig, opleiding ontvang en sakeplanne vir landboubedrywighede opgestel en ingedien.

Hul aansoeke om grond was egter onsuksesvol omdat aansoekvorms, volgens Mulunga, glo nie voorsiening vir boerekoöperatiewe maak nie.

Ná jare se verwaarlosing en beweerde vandalisme, het die koms van die Tsou!Homs na die plaas tot die opknapping van geriewe, die skoonmaak van die omgewing, die verbouing van gewasse en die vestiging van veeboerderybedrywighede gelei, volgens hom.

Die besoek aan Dordabis het ook die omstandighede van die Dordabis Ada-Khaibasen-boerekoöperatief aan die lig gebring, sê hy.

Mulunga het gesê dié koöperatief is in 2023 gestig met 40 gesinne – hoofsaaklik grondlose plaaswerkers wat meer as 2 500 stuks vee besit – en met die hulp van die ministerie se betrokke departement.

Volgens hom doen die koöperatief tans aansoek om Plaas Omukaru No. 258, nadat hulle op die toekenning van Plaas Keverweder opgegee het.

Mulunga verwys na die regering se herhaaldelike leë beloftes en noem die Ada-Khaibasen-groep as voorbeeld ná hul uitsetting van Plaas Omukaru, ten spyte van ’n ooreenkoms met die ministerie dat voorkeur aan hulle verleen sou word.

“Tot op hede was geen aansoek vanaf Dordabis suksesvol nie,” skryf hy.

Mulunga beskryf die Dordabis-gemeenskap van meer as 3 000 inwoners – wat tot slegs 5 hektaar grond beperk is – as ’n gemeenskap wat voortdurend deur die stelsel in die steek gelaat word.

“Dit het gelei tot ernstige oorbevolking, onmenslike lewensomstandighede, oorbeweiding, grondagteruitgang en voortdurende konflik met naburige kommersiële boere,” skryf hy.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer