Gemeenskapsheld herstel pad in Gobabis

Annemarie du Toit
Die ouetehuis in Gobabis, Huis Deon Louw, is reeds vir baie jare in die gemeenskap gevestig, maar die paaie rondom die tehuis veral die pad wat direk voor die ouetehuis verbyloop was vir ’n geruime tyd in ’n swak toestand.

Die betrokke pad, wat deel vorm van ’n hoofroete in Gobabis, het oor mettertyd versleg met slaggate wat uiteindelik in ’n groot gat ontwikkel het. Die toestand van die pad het ’n risiko vir padgebruikers en voetgangers ingehou. Volgens inwoners is voertuie gedwing om skielik te stop of uit te swaai om die beskadigde gedeelte te vermy.

Inwoners het aangedui dat klagtes oor die toestand van die pad herhaaldelik by die munisipaliteit aangemeld is. Volgens hulle het die probleem vir langer as ’n jaar voortgeduur sonder dat herstelwerk plaasgevind het.

Ben Dauth, ’n inwoner van Gobabis, het onlangs die beskadigde gedeelte van die pad herstel. Die herstelwerk is deur Dauth op sy eie tyd en met sy eie geld en toerusting uitgevoer.

Gemeenskapslede het hul waardering vir Dauth se optrede uitgespreek.

Een inwoner het gesê: “Ek wil net graag vir Ben Dauth bedank vir die inisiatief om uit sy eie en seker met behulp van die gemeenskap die pad op die hoek van Huis Deon Louw by die kruising reg te maak. Baie dankie, Ben.”

Liz Nieuwholtz, ’n verteenwoordiger van Huis Deon Louw, het gesê: “Dit beteken vir die inwoners baie om te weet dat die mense van die gemeenskap nie net uitkyk vir die jonger garde en vir mekaar nie, maar ook vir die ou mensies.”

Volgens inwoners is die toestand van die pad nie die enigste diensleweringskwessie wat die dorp raak nie. Gemeenskapslede het ook gekla oor baie lae waterdruk wat volgens hulle reeds vir weke aanhou. Verdere klagtes sluit langdurige waterlekkasies in wat, volgens inwoners, reeds langer as sewe maande duur.

Een inwoner het beweer dat die lekkasie deur munisipale werk veroorsaak is en dat dit herhaaldelik by die munisipaliteit aangemeld is. Volgens die inwoner is daar ook ’n elektriese kabel in dieselfde gebied wat op plekke beskadig is en ’n moontlike gevaar vir voetgangers inhou. Die inwoner het gesê geen terugvoer is ontvang nie en dat geen herstelwerk tot dusver gedoen is nie.

In reaksie op die gemeenskap se vrae het ’n verteenwoordiger van die munisipaliteit die volgende antwoord gegee: “Waarom is julle altyd so negatief? As dit julle houding/denkwyse is, moet asseblief nie met my kontak maak op my nommer nie. Doen dit op amptelike musikale kommunikasieplatforms! (sic)"

Network Media Hub (NMH) het die munisipaliteit vir verdere kommentaar genader, maar geen reaksie is teen druktyd ontvang nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer