‘Ek kom van sterk vroue af’

Vierde generasie
Solank as wat jy twee hande het, sal jy nooit honger ly nie, sê Rehoboth se bobaasbakster Foshea Lewin.
Henriette Lamprecht

Sy is die vierde generasie vir wie Rehoboth huis is en het ’n stamboom sterk en dapper vroue in wie se diep spore sy trap.  

Foshea Lewin se ‘voor’-familie sluit ’n oupa van Upington en ’n ouma van die Kaap in wat jare gelede uit die buurland getrek en op Rehoboth kom wortelskiet het. 

“Ons is nou ’n vierde generasie wat nog in die lewe is. My ouma is 83 en sy is my inspirasie,” vertel Foshea. 

As oudste kind het sy basies in haar grootouers se huis grootgeword en word sy meer as hul kind as hul kleinkind beskou. 

Dit was haar ouma Jetta Titus wat op ’n dag vir haar maatlepels in die hand gestop en gesê het, “hier is die maatbeker, die meel en die resepteboek” en die liefde vir bak in haar wakker gemaak het.

Hulle het met koek begin en Foshea onthou ouma Jetta se eierlose, plein koek in ’n vierkantige pan sonder enige versiersuiker wat altyd haar geskenk vir een van haar kinders of kleinkinders was. 

“Ons het mos baie swaar grootgeraak op Rehoboth en het nie baie gehad nie, daarom die eierlose koek,” sê Foshea.

Ouma Jetta het sewe kinders gehad wat sy eiehandig moes grootmaak. 

“My oupa het net een dag gaan werk en weggeraak vir sewe jaar. Sy het nie geweet waar brood of enigiets vir haar kinders vandaan sou kom nie. 

“Sy het die oggend opgestaan met nog ’n soolkous op die kop en na ’n winkel toe gestap en daar begin tjips maak. So het sy haar kinders grootgemaak en deur die skool gesit,” vertel Foshea. 

Ma Corola was die oudste dogter en moes basies die volle verantwoordelikheid vir haar broers en susters oorvat. 

“Sy moes daai kinders grootmaak, want mamma moet uitgaan om vir hulle brood op die tafel te sit.”

Ma Corola was ’n huisvrou en het ander mense se huise skoongemaak en ses kinders – vier meisies en twee seuns – grootgemaak en “ons is almal geleerd”, vertel sy trots. 

Foshea se pa was ’n skrynwerker en meestal weg van die huis om in Windhoek te gaan werk. Toe was hy ’n alkoholis, maar haar ma het hom altyd deur die jare gedra.

“Ek sê altyd vir my dogter ons is sterk vroue en ons kom van sterk vroue af. Nie om die mans minder te kan ag nie, maar dit is die vroue voor ons wat ons gemaak het wat ons is.”

Ma Corola het net soos ouma Jetta ook gebak, maar het ook gehekel en gebrei. Foshea onthou hoe sy sokkies vir die pasgebore babas gebrei het wat hulle in die hospitaal op die dorp gaan verkoop het. 

“Ek sê altyd vir my dogter jy sal nooit honger slaap solank jy twee hande het nie.”

Foshea bak van koekies en grootkoeke tot beskuit en selfs brood wat sy op Rehoboth verkoop. 

Saterdae het sy ’n braaistalletjie voor die Basterkaptein se kantoor. 

Daar is altyd koekies of ’n gebakte broodjie by die huis, sê Foshea.

“Ek bak gewoonlik in die aand wat maar die beste is, maar soms het ek ’n groot bestelling en dan is dit deurnag tot die volgende oggend toe.”

Sy het “basies uit die skool” begin werk, omdat daar nie die opsie was om te gaan studeer nie en sy ’n broer en sussie gehad het na wie sy moes kyk. 

Vir jare was sy elke dag vasgevang in die roetine van ’n assistent-rekenmeester, totdat die roepstem van die kombuis en haar passie vir bak hard genoeg geword het om uit haar vaste werk te bedank.

Sy geniet dit om by die huis en daar vir haar kinders te wees, sê Foshea.  

“Hierdie tyd is vir my so spesiaal om saam met my kinders te kan geniet. Om saam met hulle op te staan en wanneer hulle huis toe kom, is mamma daar en daar is iets om te eet.”

– [email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-10-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer