Een maaltyd op ’n slag

Voedsame kos vir groeiende kinders
Met Tiny Tummies wil Tonya Rauwerda besige ouers help om gesonde en voedsame maaltye op die tafel te sit wat maklik en bekostigbaar is.
Annemarie du Toit

Wat as ’n droom begin het waaroor sy lank nagedink het, het vanjaar ’n werklikheid geword toe Tonya Rauwerda die groot sprong geneem en haar eie besigheid, Tiny Tummies, begin het.

Die besigheid fokus op voedsame babakos en kindermaaltye, maar vir Tonya gaan dit oor meer as net kos. Vir haar is Tiny Tummies ’n manier om ouers te ondersteun in die daaglikse gewoel van daaglikse verantwoordelikhede by die werk en huis.

“Vir my is Tiny Tummies meer as net ’n besigheid of om kos te verkoop. Dit gaan oor ondersteuning. Om mammas te help om asem op moeilike dae te skep en die gejaag van die alledaagse lewe net ’n bietjie makliker te maak,” sê sy. 

Die saadjie vir die besigheid is geplant deur iets wat sy gereeld onder haar vriende en familie opgemerk het. As iemand wat daagliks sien hoe besig ouers is, het sy besef gesonde maaltye sneuwel dikwels eerste wanneer die tyd min raak.

“Baie van my vriende het kinders en ek sien hoe moeilik dit is om altyd tyd te hê om gesonde, voedsame etes voor te berei.

“Dan word die maklikste opsie om vinnig iets in die lugbraaier te sit of na minder gesonde alternatiewe te gryp.

“Ek wou ouers ondersteun deur ’n maklike oplossing te bied wat steeds voedsaam en goed vir hul kinders is.”

Tonya se fokus op babas en jong kinders was ’n doelbewuste besluit. Sy glo die eerste jare van ’n kind se lewe speel ’n belangrike rol in hul groei en ontwikkeling, en dat goeie voeding reeds van jongs af ’n verskil kan maak.

As onderwyseres sien sy ook eerstehands hoe voeding kinders beïnvloed.

“Goeie voeding help nie net met groei nie, maar ondersteun ook konsentrasie, energie, immuniteit en algemene ontwikkeling. 

“Die gewoontes wat kinders van kleins af aanleer, kan hulle vir die res van hul lewe bevoordeel.”

Elke maaltyd wat deur Tiny Tummies voorberei word, word saamgestel met die doel om voedingswaarde en smaak te balanseer. 

Tonya doen uitgebreide navorsing oor voeding vir babas en jong kinders en kies bestanddele wat vir elke ouderdomsgroep geskik is. Met die kleutermaaltye stel sy kinders ook aan natuurlike kruie en sagte speserye bekend om hul smaakontwikkeling te ondersteun.

“Ek wil seker maak dat elke maaltyd nie net lekker smaak nie, maar ook kinders se groei en ontwikkeling ondersteun. My doel is om kos te maak wat so natuurlik en voedsaam as moontlik is.”

Alhoewel Tiny Tummies nog in sy kinderskoene staan, begin sekere produkte reeds gewild onder kliënte raak. Volgens Tonya verkoop die Stage 2- en Stage 3-maaltye tans die beste, terwyl die kleuteretes ook groot belangstelling lok.

’n Produk wat veral aandag trek, is die “whipped bone marrow”, wat bekend is vir sy voedingswaarde en potensiële voordele vir groeiende kinders.

Volgens haar is dit die persoonlike betrokkenheid en doel agter die besigheid wat Tiny Tummies van ander soortgelyke besighede onderskei.

“Ek dink wat Tiny Tummies anders maak, is die hart daaragter. Dit gaan nie net oor die verkoop van kos nie, maar oor die ondersteuning van ouers. 

“Ek dink aan die mammas wat ná ’n lang dag nog moet besluit wat hul kind gaan eet en ek wil vir hulle ’n gesonde, lekker en maklike opsie gee wat hulle met ’n geruste hart kan bedien.”

Agter die skerms vereis die onderneming egter harde werk en deeglike beplanning.

Benewens haar rol as onderwyseres, bestuur Tonya ook haar eie refleksintegrasiepraktyk, wat beteken dat die meeste van die voorbereiding en kosmaak eers saans plaasvind.

“’n Gewone dag agter die skerms is gewoonlik baie besiger as wat mense dink. Dit behels beplanning, inkopies doen, voorbereiding, kook, verpakking en om seker te maak alles is van die beste gehalte.”

Tonya het reeds bemoedigende terugvoering van ouers ontvang.

“Die mooiste terugvoer tot dusver is van mammas wat vir my sê hoe opgewonde hulle vir my is en hoe dit vir hulle een ding minder gee om oor bekommerd te wees op ’n besige dag.

“Vir my is dit spesiaal om te weet dat ek op my eie klein manier ’n verskil in ’n gesin se daaglikse lewe kan maak.”

Vir Tonya is vertroue een van die belangrikste boustene van die besigheid. Sy glo dat ouers presies moet weet wat in hul kinders se kos is en gemaklik moet voel om vrae te vra.

“Ek probeer vertroue bou deur eerlik te wees oor wat in my produkte is en deur kwaliteit-bestanddele te gebruik. Vir my is dit belangrik dat ouers weet hul kinders se welstand kom altyd eerste.”

Sy hoop mense sal Tiny Tummies met liefde, vertroue en ondersteuning vereenselwig – waardes wat sy in elke aspek van die besigheid probeer uitleef.

Hoewel sy reeds groot toekomsplanne het, fokus sy nou daarop om ’n sterk grondslag te bou en gehalteprodukte te lewer.

“Die doel sal altyd dieselfde bly: Om kinders toegang te gee tot voedsame, gehaltekos en om die lewe vir ouers net ’n bietjie makliker te maak.”

Vir ander jong entrepreneurs het sy ook ’n eenvoudige boodskap: “Moenie wag tot alles perfek is voordat jy begin nie. As jy ’n droom het, gee dit ’n kans. Jy gaan nie alles van die begin af weet nie, maar jy sal nooit weet wat moontlik is as jy nie probeer nie.”

Belangstellendes kan die Facebookblad Tiny Tummies besoek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer