Drie maatskaplike werkers, sewe kiesafdelings
Net drie maatskaplike werkers is tans verantwoordelik vir die lewering van maatskaplike dienste in al sewe kiesafdelings in die Omahekestreek.
In die 2025-’26-boekjaar alleen het die streek 85 nuwe kinderbeskermingsake aangemeld, wat wissel van fisiese en seksuele mishandeling en erge verwaarlosing.
Omaheke se goewerneur, Pijoo Nganate, het tydens sy streekrede (Sona) gemaan die tekort aan personeel belemmer die streek se vermoë om doeltreffend op die toenemende vraag na die beskerming van kinders, asook psigomaatskaplike ondersteuning en maatskaplike dienste aan die gemeenskap, te reageer.
Nganate sê egter die direktoraat vir geslagsgelykheid, kindersorg en -beskerming het beduidende vordering gemaak deur doelgerigte ingrypings om die beskerming van kinders te verseker.
Volgens hom is omvattende maatskaplike dienste verskaf aan kinders wat geraak word deur geweld, geslagsgebaseerde geweld, mensehandel, verlating, verwaarlosing en wanvoeding. Ingrypings het traumaberading, gesinsondersteuning, verwysings, sorgbeplanning en die voorbereiding van kwesbare kindergetuies vir hofverrigtinge ingesluit.
Van die 85 nuwe sake wat in die boekjaar aangemeld is, is formele strafregtelike sake in 83% van die aangemelde voorvalle aanhangig gemaak.
Gedurende dieselfde tydperk is 834 nuwe psigomaatskaplike voorvalle geregistreer, waarvan 721 voorvalle (86%) suksesvol afgehandel is. Nganate het verwys na pogings om kinders wat op straat woon, in gemeenskappe te herintegreer. In die verband het ses kinders suksesvol na die onderwysstelsel teruggekeer, terwyl 17 kwesbare kinders aan ’n program vir rehabilitasie en vaardigheidsontwikkeling deelgeneem het wat in vennootskap met die Nasionale Jeugdiens geïmplementeer is.
Vyf kinders het na Omaheke teruggekeer, waar hulle steeds daaglikse psigomaatskaplike ondersteuning en drie voedsame maaltye per dag ontvang.
Met verwysing na alternatiewe sorg en dienste vir kindergeregtigheid is 116 voorvalle aangemeld.
Hiervan is 37 kinders wat met die gereg gebots het, formeel geëvalueer, terwyl 20 rehabilitasie deur die kindergeregtigheidsprogram sal ondergaan in plaas daarvan om vervolg te word.
Nganate het beklemtoon kinderbeskerming vereis gesamentlike verantwoordelikheid en het gemeenskappe aangespoor om voorvalle van mishandeling en verwaarlosing aan te meld terwyl ondersteuningstelsels vir kwesbare kinders versterk word. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie