Die vaderfiguur met die omgeehart
Vir hom was sy vanaf die eerste dag “mukwanangobe” (vrou wat baie beeste het) en vir haar was hy ’n vaderfiguur met ’n groot omgeehart.
Ronel Liebenberg het in 1992 Namibië se stigterspresident, wyle Sam Nujoma, se persoonlike lugwaardin geword. Sy was jonk en bang erken sy in ’n onderhoud met Kletskompas, maar “die manier hoe hy my behandel het, hy het my so gemaklik laat voel. Jy hoef nie ’n politikus te gewees het om vir hom belangrik te wees nie.”
Vir wyle Nujoma was Ronel altyd mukwanangobe.
“Ek het nie geweet wat dit beteken nie en het so dom gevoel want ek was so jonk! Dan het hy net gelag en gesê: ‘Find out and then you come and tell me’.”
Dit was vir haar ’n verskriklike voorreg om te weet hy het dié spesiale naam vir haar gekies, erken Ronel.
Tot die laaste vlug wat sy saam met hom gedoen het en wyle Nujoma al “siekerig” was, het hy steeds na haar op sy spesiale naam verwys en elke keer gevra: “How are you? Are you doing OK?”
“Dis soveel jaar later, 30 jaar en meer en nog steeds het hy onthou, was hy bekommerd of ek oukei is.”
Dit is soos sy hom onthou, sê Ronel, ’n absolute vaderfiguur wat haar ure op die vliegtuig vermaak het met onder meer stories uit sy kinderdae, en stories en staaltjies van sy lewe.
Iets wat sy vir altyd sal koester en onthou, is hoe wyle Nujoma haar ondersteun en onder sy vlerk geneem het toe haar man in 2001 oorlede is.
Ronel en wyle Nujoma was op daardie tydstip in Libië en daar was nie ’n manier vir haar om terug te kom toe sy die tyding van haar man se dood kry nie.
“Hy het onmiddellik sy valet saam met my laat intrek in ’n kamer en hy was bereid om sy eie vliegtuig terug te stuur sodat ek net by die huis kan kom omdat daar nou geen ander vlugte was nie.
“Hy het sy vergaderings gekanselleer en sy ministers gestuur om dit by te woon sodat ek nooit alleen hoef te gewees het nie,” vertel Ronel bewoë.
Ten minste vier tot vyf keer per dag het wyle president Nujoma saam met sy sekuriteit by Ronel se kamer ingestap, by haar op die bed kom sit en sy arms om haar gesit en gevra: “Are you OK, comrade? We will take care of you, don’t worry.”
En dan “worry” ’n mens nie, want hy het gesê hy sal na haar kyk, sê Ronel.
Met hul terugkeer na Namibië en Windhoek het “die lewe aangegaan” en sou Nujoma onaangekondig by haar man se begrafnis opdaag en die mooiste toespraak gee wat haar tot vandag nog so na aan die hart lê, vertel sy emosioneel.
Dit was vir haar verskriklik emosioneel om te hoor dat tate Sam en haar eksellensie nie meer met ons is nie, maar sy weet ook hy het ’n baie goeie lewe gehad.
Sy onthou sy gesonde gewoontes en sy oefenpatrone en hoe hy vertel het hy staan 03:00 op om met sy eende agter in die tuin van Staatshuis te gaan stap. Want dit is die enigste tyd wat syne is, het hy vir haar gesê, want 06:00 is sekuriteit en protokol voor sy deur en dan is sy lewe nie meer sy eie nie.
Wyle Nujoma was vir haar baie voorbeeldig in sy dissipline en in sy uitkyk op die lewe, vertel Ronel.
“Niemand was minder as hy nie. Hy het ons behandel asof ons sy gelyke was, veral op die vliegtuig was hy net anders, net ’n vaderfiguur.”
Ná haar man se dood het hy vir haar gesê hy gee vir haar twee beeste op voorwaarde dat sy dit gaan haal.
“Dit was so ’n gespottery gewees. Met elke vlug in die 15 jaar wat hy president was, het hy gevra: ‘When are you picking up your cows?’ Nodeloos om te sê het ek hulle nooit gaan haal nie!”
Hy het nooit van die beeste vergeet nie, vertel Ronel en tot sy laaste dae onthou van die beeste en van mukwanangobe.
“Hy was net so ’n besonderse mens. Ek sal hom onthou vir dit en vir die fondasie wat hy ook in my lewe gelê het as ’n politikus wat ook net ’n mens was, wat ook net ’n vaderfiguur kon wees vir die mense wat onder hom werk. Ek gaan hom mis, hy het ook diep spore in my lewe getrap.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie