Die ongelooflike avonture van Tracy en Roo
’n Rondloperhond wat in Colombia in ’n Kanadese reisiger se hangmat beland het, het op die agterkant van haar motorfiets in Swakopmund aangekom.
Tracy Charles (61), ’n voormalige kajuitpersoneellid van Ontario, het Kanada in September 2019 verlaat. Sedertdien het sy reeds meer as 100 000 kilometer deur sowat 40 lande op ’n BMW F700GS afgelê.
Haar hond, Roo – kort vir “kangaroo” (kangaroe) – is al vyf jaar lank deel van haar lewe. Die twee het Namibië sowat twee maande gelede vanaf Angola by Santa Clara binnegekom.
“Ek geniet dit nou 100% in Namibië,” het sy aan Republikein gesê.
“Sonder om enige van die pragtige lande waardeur ek gereis het, of die wonderlike mense wat ek langs die pad ontmoet het, te na te kom – dit voel vir my asof ek terug is in die beskawing.”
Tracy het veral dinge soos warm water, toilette, toiletpapier, haaropknapper en gesigroom gemis.
“Dit klink dalk mal, maar ek het vir byna tien maande lank sonder baie van die klein luukshede geleef wat ons gewoonlik as vanselfsprekend aanvaar,” vertel sy.
Haar man het 14 jaar gelede aan breinkanker gesterf. ’n Jaar later het sy weer begin reis en haar duik- en motorfietslisensies verwerf.
Toe haar pos oorbodig geraak het, het Tracy se werkgewer haar die opsie van vroeë aftrede op die ouderdom van 53 aangebied.
“Ek het dadelik gevra: ‘Waar teken ek?’ Dit was vir my ’n uitgemaakte saak.”
Sy het op sosiale media gesien hoe mense per motorfiets deur die wêreld reis.
“Jy ontmoet mense op ’n ander manier wanneer jy op ’n motorfiets is,” vertel Tracy.
Sy het vir haar dogter, wat destyds op universiteit was, gesê sy sal die huis, die motor en alles anders verkoop om haar te onderhou totdat sy haar graad behaal het.
“As sy ’nee’ gesê het, sou dit die einde van die plan gewees het. Maar sy het gesê: ‘Beslis, Ma! Doen dit!’”
Die huis is binne twee tot drie weke verkoop. Tracy het suidwaarts deur die Verenigde State van Amerika (VSA), Mexiko en Sentraal-Amerika gereis en was vir ’n groot deel van die Covid-19-pandemie in Colombia vasgevang. Sy het besluit om na die kus te ry toe sy genoeg van die berge gehad het.
“Ek was in hierdie piepklein kusdorpie aan die Karibiese See in Colombia, in ’n hangmat met ’n glas wyn en my boek. En skielik het alles net deur die lug gevlieg.
“En daar was hierdie klein hondjie, vol bosluise, bo-op my, ” vertel sy oor haar ontmoeting met Roo.
Personeel by die herberg het die hondjie weggejaag, maar sy het bly terugkom en Tracy na restaurante gevolg. Een aand het sy haar deur oopgemaak, met ’n kapmes in die hand, in afwagting dat dit ’n mens sou wees. Die hondjie het by haar voete verbygehardloop en in haar bed gespring.
“Op daardie oomblik het ek gedink: goed, jy kom saam met my.”
Die plan was om Roo te laat steriliseer, mediese behandeling te gee en haar aan ’n gesin in die binneland van Colombia te gee.
“Hulle het haar wreed mishandel. Ek het gesien wat hulle aan honde aan die kus doen.”
Roo het aanvanklik in ’n melkkrat gereis wat deur plaaslike inwoners gevind is. ’n Veearts het op grond van haar tande geraam dat sy vyf maande oud was. Sy is nou vyf en ’n half jaar oud.
Roo het haarself as Tracy se lyfwag aangestel.
“Wanneer ons saam op die motorfiets is, kan jy nie te naby aan my kom nie. Maar as sy alleen op die motorfiets is, kan jy nader kom en haar vryf.”
Dis moeilik om grense met ’n hond oor te steek, erken Tracy.
“Maar ek sou nie ’n enkele oomblik daarvan wou verruil nie.”
Van Colombia af het sy na Ushuaia gery en die motorfiets na Engeland verskeep. Ná 90 dae in die Schengen-gebied moes sy Europa verlaat en het sy na Marokko gereis.
In Kanada moes sy sowat 800 Kanadese dollar betaal vir ’n hondsdolheidtoets, wat vir twee jaar geldig was. Europa het egter aangedui dat sy en Roo nog ’n toets in Marokko sou moes laat doen om te kan terugkeer. Tracy het besluit om eerder al langs die weskus van Afrika te reis “sonder om te besef hoe moeilik dit sou wees”.
In Ecuador, op pad suid, het sy as vrywilliger by ’n toevlugsoord vir honde gewerk.
“Ons het letterlik rondloperhonde van die straat af ‘ontvoer’, hulle na hierdie sentrum geneem en hulle laat steriliseer.”
Die sentrum se gratis sterilisasieklinieke het ook eienaars gelok wat wel kon bekostig om te betaal.
“Ons wou die arm mense bereik wat net ’n hond vir sekuriteit aanhou – mense wat die dier wreed mishandel en dit net met oorskietkos voer,” vertel Tracy.
Tydens haar reise het sy gesien hoe rondloperhonde in Sentraal-Amerika, Suid-Amerika en in veral Mexiko ly en maan dit verg meer as net hondekos om ’n tuiste aan so ’n dier te bied.
“Rondloperhonde het ’n lojaliteit teenoor jou wat honde van telers nie het nie.
“Ek dink iewers in hul agterkop onthou hulle hoe die lewe was voordat hulle gered is en hulle sal jou altyd daarvoor dankbaar wees.”
Tracy beplan om binne die volgende paar weke na Suid-Afrika te vertrek.
“Ek reis stadig en aangesien ek nie my eie huis of enige vaste besittings het nie, kan ek my tyd neem.”
Van Suid-Afrika af wil sy teen die Ooskus opry en die motorfiets na Oman verskeep om die Midde-Ooste te besoek.
“Die politieke situasie maak dinge tans regtig baie ingewikkeld,” sê sy.
“Met al hierdie oorloë wat uitbreek – wie weet? Dalk keer ek vir ’n jaar terug na Kanada om by my dogter te gaan bly.” – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie