Die ongelooflike avonture van Robin en Jolandie

Henriette Lamprecht
Hulle grootste motivering en dryfkrag is om die boodskap van hoop van stamselskenkings aan soveel mense as moontlik in 64 lande oor te dra en hulle te inspireer om stamselskenkers te word.

Die vuur wat hul passie dryf, is die diepe dankbaarheid vir ’n lewensreddende beenmurgoorplanting ses jaar gelede wat Robin Lewis ’n tweede kans op die lewe gegee het.

Met sy vrou, Jolandie, aan sy sy en met hul omgeboude huis-op-wiele, Betsy, wat op kook- en enjinolie loop, pak die drie vir die volgende tien jaar ’n reis van Suid-Afrika na Viëtnam aan as deel van hul Matches on the Map-projek om soveel mense as moontlik op die Suid-Afrikaanse beenmurgregister te laat registreer.

Dis veral vir Robin en Jolandie belangrik om etniese diversiteit by die databasis van stamselskenkers in Afrika te voeg vir pasiënte uit alle lande.

Die Suid-Afrikaanse register is die enigste beenmurgregister in Afrika wat by die Wêreldvereniging vir Beenmurgskenkers (WDMA) geregistreer is.

Buiten vir hul opvoedkundige werk en uitreike vir potensiële skenkers, pak Jolandie, Robin en Betsy ook ver paaie in Namibië aan, waar hulle tans is om ook die mooi en unieke skoonheid van elke land te ervaar.

Robin en Jolandie deel hul reise op hul Facebookblad, Numinous Expeditions, of gaan loer by https://numinousexpeditions.co.za.

Kliek hier: https://q.my.na/X9V0

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer