Bennie die man agter die rooi lorrie

Verteenwoordig land in boks, hengel
Dit het nie vir Barend Pretorius saakgemaak of hy in varswater, op rotse, of op die strand gehengel het nie, net solank hy kon visvang.
Tanja Bause
Barend Pretorius, alombekend as Bennie en die man agter die bekende vissersbestemming, Bennie se Rooi Lorrie, het twee groot passies gehad; boks en visvang.

Volgens sy eerste vrou Eeufesia Pretorius is Bennie in Natal gebore en het sy ouers redelik rondgetrek omdat sy pa by die destydse spoorweë gewerk het. So is die familie ook na Reitz verplaas waar Bennie op skool rugby en sokker gespeel het.

“Bennie was op Reitz ’n vlieggewig-bokskampioen,’n veergewig-kampioen in die destydse Port Elizabeth waar hy in die Ford-fabriek gewerk het en in Namibië ’n liggewig-kampioen.

Sy ouers is rondom 1953 na Windhoek verplaas en hy het saam met hulle getrek.

Volgens sy dogter, Sharon Allett Kruger, het haar pa Suidwes-Afrika-kleure in boks verwerf.

“My pa wou ’n professionele bokser word, maar my oupa wou dit nie toelaat nie.”

Bennie het in Namibië by die spoorweë en by waterwese gewerk voordat hy afgetree het.

TROUDAG

“Ons het in die namiddag getrou en die predikant het daarvan vergeet. Ons predikant was van die Eros-gemeente en ons het in die Moedergemeente getrou.

“Ek en my pa het na die deur toe geloop en my skoonpa het gesê ons moet wag want die predikant is nog nie daar nie.

“Twintig minute later het die strooijonker van pastorie na pastorie gery en ’n predikant gesoek. Hy het een gekry en na die troue het Bennie gaan boks. Daarna het hy ernstig begin visvang,” het Eeufesia gesê.

VISVANG

“My pa was baie lief vir die natuur. Hy kon vir jou presies sê hoeveel strandkiewiete by Tiger Reef in Swakopmund was, hoeveel neste daar is en waar hulle is. Ons het grootgeword met ’n pa wat visvang.”

Bennie was egter nie net ’n rots- en strandhengelaar nie, hy het ook Suidwes-Afrika-kleure in varswaterhengel ontvang. Sy seun het ook op die ouderdom van nege sy kleure vir varswaterhengel gekry.

“Ons seun, Bennie, het vier jaar na mekaar aan die Springbok-proewe deelgeneem. Ons was daardie tyd by die Poskantoor Hengelklub,” het Eeufesia gesê.

BENNIE SE ROOI LORRIE

“Hy het visgevang en solank daar ’n vis aan die lyn was, was hy tevrede, maar galjoen het tog sy hart so bietjie vinniger laat klop,” het Sharon gesê.

Bennie het hartprobleme ontwikkel en moes ’n groot hartoperasie ondergaan.

“Sy hart het aan die agterkant verkalk. Dit is maar as gevolg van die talle houe op sy borskas tydens sy boksjare.”

Bennie is in 2000 op Paasmaandag by Rooi Lorrie dood en sy familie en vriende het later sy as daar gestrooi.

“Hy het vir my stiefma gesê hy gaan visvang. Sy het nog vir hom gevra om nie te ver uit te ry nie, omdat hy weens sy hartprobleme nie eintlik mag bestuur het nie. So het hy verder en verder gery tot by Bennie se Rooi Lorrie. Hy het sy bakkie se agterkant na die see getrek en sy lyn natgemaak. Hy het een vis uitgetrek en op sy bakkie gesit. Met die tweede gooi het my pa omgeval en gesterf. Hy het nog ’n vis by sy gat gevang voordat hy ons verlaat het.”

NAAMBORD

Die wind en weer het oor die jare die naambord verniel wat Bennie se Gat aandui.

“In 2000 – ná my pa se dood – het my stiefma weer ’n bord laat maak wat ons opgesit het. Die bord is toe op ’n dag net weg. ’n Man wat verbygery het, het gesê hy het die bord gesien en toe hy ’n halfuur later weer verbyry, was dit weg.

“’n Seun wat saam met my kind in die skool was, het gevra dat ek die bord moet terugkry omdat hy ook al daar visgevang het en dit deel van sy grootwordjare is.

“Dit is nie net deel van ons familiegeskiedenis nie, maar ook deel van die Namibiese kuslyn. Die bord is op die ou einde op Gansbaai in Suid-Afrika in ’n kroeg opgespoor. Eben Swanepoel het die bord in 2018 na Namibië teruggebring.”

’n Naambord sal weer ná die voltooiing van die nuwe teerpad tussen Swakopmund en Hentiesbaai deur sy vrou, Heidi Meier, dogter Sharon, en kleinseun AJ Kruger opgerig word.

Die Namibiese parkeraad by die kus moet egter eers toestemming daarvoor gee. Tans is die naambord nog in veilige bewaring by AJ.

BENNIE SKRYF IN BEëDIGDE VERKLARING

Ek het in Walvisbaai vir die spoorweë van September 1965 tot Oktober 1968 gewerk. As familie bly ons langs die Viking saal by die ingang van die hek na die hawe. Skuins agter ons woning wat destyds op houtpale gestaan het, bly Attie Lubbe en se vrou Anne en hulle twee kinders.

Attie en ek het gereeld na werk by Paaltjies gaan visvang. Daar het jy soms baie gevang ander dae niks, nie eers ’n happie nie. Ongeveer in Augustus 1966 het ons Attie se raad gevolg en noord van Swakopmund gaan visvang. Die ou kombi wat roesrooi geverf was, het ons die Sondag gelaai met kos, kinders, visvanggoed en vrou. Dit is ook al waarvoor die kombi plek gehad het en daar gat ons.

Swakop verby, Wlotzkas verby, maar Attie wil nog verder Myl 30 verby – hier sê Attie – na nog so ’n entjie. Ons ry so na as moontlik aan die see maar nog tussen die duintjies. Ons pak af en die ontspan begin. Ons vang toe so ’n hele paar groot steenbrasse en galjoen, die dag vorder te vinnig. Met die dat dit ’n werksdag die volgende dag is, moet daar nog honderd en een take by die huis gedoen word voor die kinders agtuur kan gaan slaap, die rooi kombi moet ook skoongemaak word.

Terug by die huis is alles afgelaai en nagegaan, alles is daar, net Attie se seun se geel en blou lorrie is nêrens nie. Die lorrie is so twee weke gelede vir hom gegee as verjaarsdaggeskenk van ons af. Hy gaan toe so tekere dat ek sien sy boude gaan brand. Ek sê toe kom ons gaan haal die lorrie, die vrouens kan solank kosmaak en die kinders bad. Attie het die kind nog een maal gekyk, ingeklim en ons is weg

By die plek aangekom, ry ek op my spoor na die braaiplek toe. Daar langs die duintjie staan die lorrie en Attie tel dit op, hy kyk so vinnig vir my en sê van nou af is hierdie plek se naam Bennie se rooi lorrie. Sy verduideliking is: jou kombi is rooi, jou naam is Bennie en dit gaan oor ’n kind se belangrikste speelding; ’n lorrie.

Met ons terugtog Walvisbaai toe verduidelik Attie dat hy aan die Namib Hengelklub behoort en dat hulle die volgende Saterdag daar ’n kompetisie het en dat hy dan ’n naambord gaan aanbring. So gesê so gedoen en van daar af is dit Bennie se rooi lorrie.

As in ag geneem word dat ek en Attie so ongeveer N$100 se salaris maandeliks huis toe gebring het en die lorrie se prys so N$4 was, dan was dit ’n duur geskenk, Ja, dit was mooi dae met mooi mense.

VISSERMANNE

Stanley van Zyl en Bennie het saam by die Steenbras Hengelklub gehengel.

Stanley onthou dit: “Bennie het varswater en rots en strand gehengel. Hy het toe in Windhoek gebly en ons het saam die interklub-kompetisies aan die kus gaan hengel.

Ek onthou hy het met sy rug na die see gestaan, dan word die sinker uitgeswaai en dan word halfdwars oor die skouer gegooi. As jy dit kon doen, kon jy baie ver gooi.

Die bord wat Bennie se Rooi Lorrie aanwys, staan nie op die regte plek nie. Jy moet verby die bord ry in die rigting van Swakopmund dan sal jy ’n vierkantige houtpaal sien en dít is die regte afdraai. Ek sien die bord met die handgeverfde rooi lorrie op wat teen die paal vas is nou nog so voor my. Ek dink die Paaieowerheid het maar net die maklikste en reguitste pad see toe in die nabyheid van die regte pad geskraap.

My neef uit die Kaap het een keer kom visvang en toevallig was Sarah de Jager ook in die dorp en hulle het saam gebraai. Sarah het toe ook vertel dat die bord na Sarah se Gat ook nie op die regte plek is nie. Ek dink min mense sal so iets agterkom.

Ek het, want ek ken Bennie se Rooi Lorrie baie goed. Ek het baie steenbras daar gevang en vandag nog word daar baie van hulle uitgetrek.”

Piet Weitz het saam met Bennie by die Poskantoor Hengelklub gehengel voordat hy Steenbras toe geskuif het.

“Ek onthou vir Bennie, die klein man met die groot humeur, baie goed. Ek en Bennie het goed oor die weg gekom en mekaar verstaan; hoekom weet ek nie. Hy het ’n kort humeur gehad en dalk het ons mekaar so goed verstaan omdat myne net so kort was.

Volgens Eeufesia was Bennie ’n regte kapokhaantjie.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!