‘Begin waar jy is’

Desmarius Hansen

Op ’n ouderdom wanneer baie jongmense nog wonder oor ’n loopbaan, is ’n jong man van Rehoboth reeds ’n gevestigde entrepreneur wat leerlinge ondersteun en in inisiatiewe belê wat jongmense ophef. 

Die 21-jarige Jaden van Rensburg se reis as entrepreneur het begin met ’n begeerte om probleme in sy gemeenskap op te los. Hy het die uitdagings van baie jongmense gesien wat insluit om toegang tot onderwys, tegnologie en geleenthede te kry. 

Jaden het homself vaardighede in inligtingstegnologie (IT) en sagteware-ontwikkeling aangeleer en begin help waar hy kon.

“Wat as klein projekte en onderrigsessies begin het, het geleidelik tot groter inisiatiewe ontwikkel wat op onderwys, tegnologie en gemeenskapsontwikkeling fokus,” vertel hy. 

Vandag bedryf hy ’n IT-oplossingsonderneming, bestuur ’n onderrigprogram en is ook by opvoedkundige tegnologieprojekte betrokke. Volgens Jaden het die onderrigprogram reeds meer as 80 leerlinge in veral wiskunde en verwante vakke ondersteun. Buiten vir akademiese verbetering, help die program leerlinge om vertroue in hul eie vermoëns te ontwikkel.

“Baie leerlinge wat eens geglo het dat hulle nie akademies sou slaag nie, het aansienlik beter presteer en ’n meer positiewe houding teenoor leer ontwikkel. 

“Om te sien hoe leerlinge selfvertroue kry, is dikwels meer lonend as om enkele verbeterde resultate te sien,” sê Jaden.

Hy het ook sowat N$10 000 in programme belê wat daarop gemik is om plaaslike jongmense te ondersteun. 


SPORT

Sy visie strek verder as die klaskamer – ook na sport waar hy onlangs die rol van uitvoerende hoof van ’n sokkerklub aanvaar het.

“My doelwit is om ’n omgewing te skep waar jong atlete beide op en van die veld af kan ontwikkel. Sokker leer dissipline, toewyding, spanwerk en veerkragtigheid.” sê Jaden. 

Sy langtermyndoelwit is om geleenthede vir jong atlete te skep, terwyl hy onderrig en persoonlike groei saam met sportontwikkeling aanmoedig.

Nog ’n projek wat hom na aan die hart lê, is die beplande bekendstelling van die Van Rensburg-stigting in Julie. Hiervoor het Jaden reeds sowat N$8 000 in die inisiatief belê wat daarop gemik is om kinders en gesinne met noodsaaklike skoolbenodigdhede soos uniforms, skoene, skooltasse en klere te help.

“Die stigting het ten doel om kinders met noodsaaklike behoeftes te ondersteun en geleenthede vir hulle te skep wat hulle help om suksesvol op skool en in die lewe te wees.” 

Ten spyte van uitdagings soos beperkte hulpbronne en twyfel oor sy eie vermoëns weens sy ouderdom, bly Jaden verbind tot sy missie. 

“Ek doen dit vir my jeug. Ek sal seker maak hulle wen, met of sonder regeringsondersteuning.”  

Sy boodskap aan jong Namibiërs is eenvoudig: “Moenie wag vir die perfekte geleentheid of perfekte omstandighede nie. Begin met wat jy het en waar jy is.” 

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-06-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer