Die goewerneur van Hardap, Riaan McNab, Namibië se visepresident, Lucia Witbooi, Rehoboth se burgemeester, Justin Coetzee, en sy adjunk, Cornvenus Klazen. Foto Facebook/Kantoor van die Hardap-goewerneur
Die goewerneur van Hardap, Riaan McNab, Namibië se visepresident, Lucia Witbooi, Rehoboth se burgemeester, Justin Coetzee, en sy adjunk, Cornvenus Klazen. Foto Facebook/Kantoor van die Hardap-goewerneur

Basterkaptein se huis terugbesorg

Augetto Graig
Maandag 13 Oktober 2025 was ’n belangrike dag vir die Rehoboth Bastergemeenskap – vol emosie, dans, trane en blydskap.

Dié datum merk ’n geskiedkundige mylpaal in terme van die vertrouensverhouding tussen die gemeenskap en die Namibiese regering, gekenmerk deur die amptelike oorhandiging van die Basterkaptein se huis terug aan die Bastervolk.

“Dit is aan die regmatige eienaars oorhandig. Die regmatige eienaars is die Rehoboth Bastergemeente,” voer die verkose Basterkaptein, Jacky Britz, aan.

“Die huis wat destyds – 35 jaar gelede – die huis van pyn, of die huis van grootste vernedering genoem is, het in ’n gejubel verander,” sê hy.

Vir hom en ander aanwesiges, veral ouer lede van die Bastervolk en die breër Rehoboth-inwoners, was dit ’n baie emosionele ervaring, volgens Britz.

“Is dit ’n droom of is dit die waarheid?” het hy bygevoeg oor die eindresultaat van drie en ’n half dekades se wag vir so ’n dag.

“Hierdie huis se teruggee is simbolies van die teruggee van ons waardigheid en ons identiteit as inwoners van hierdie land,” sê hy.

Britz brei uit dat die eienaarskap van die amptelike woning en kantoor van die hoof van die Bastervolk met onafhanklikwording aan die nuwe Namibiese regering oorgedra is.

“Die destydse kaptein Hans Diergaardt en sy vrou, wat reeds in ’n gevorderde ouderdom was, is summier uit die huis gesit en dit het groot ontevredenheid onder die Rehoboth Bastervolk veroorsaak.

“Natuurlik het dit tot ’n baie vyandige houding teenoor die regering gelei. Net hierna is ons mense van alles ontneem.

“As ek praat van alles, dan bedoel ek alles, ons waardigheid, ons identiteit, ons menswees, ons bates,” vertel hy.

Oor die volgende dekades is die huis deur verskeie individue en regeringsministeries beset, maar was meestal onbewoon. Uitgebreide skade is later deur ’n brand veroorsaak. Die perseel is steeds in ’n erg vervalle toestand.



GOEWERNEUR

Die goewerneur van die Hardapstreek, Riaan McNab, het egter by die oorhandiging die versekering gegee dat “die herstelwerk aan die huis aandag geniet. U kan my woord daarvoor neem. Die huis sal na sy oorspronklike toestand herstel word”.

Volgens McNab was die oorhandiging ’n oomblik van erkenning en versoening.

“Dit was die terugbesorging van ’n stukkie regmatige erfenis, wat tot ’n mate historiese ongeregtighede regstel, en waardeur die regering die grondwetlike regte en kulturele identiteit van Bastermense handhaaf, het hy gesê.

“Dis ’n tree nader daaraan om te verseker dat alle Namibiërs gerespekteer en ingesluit voel, veral met betrekking tot tradisionele sake en eienaarskap van grond en geboue,” het McNab gesê.

Die burgemeester van Rehoboth, Justin Coetzee, het gesê die dorp se inwoners sluit verskillende nasies in, “maar vandag is ’n dag wanneer ons almal een is”.

Volgens hom word die gedeelde Rehoboth-geskiedenis die fondament vir gedeelde voorspoed.

Namibië se visepresident, Lucia Witbooi, was die eregas en het die sleutels van die huis amptelik aan die Sam Khubis-komitee se voorsitter, Albert Alberts, oorhandig.

Alberts sê die gelyktydige hernoeming van Bahnhofstraat na Johannes Gerhard Adolf Diergaardtstraat is ook ’n bewys van die verbeterde verhouding tussen die regering en inwoners van Rehoboth.

Die Rehoboth Basters word steeds nie amptelik deur die regering as ’n tradisionele owerheid erken nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer