Danksy die bababoks van die Ruach Elohim-stigting op Swakopmund is diu00E9 49 babatjies se lewens gered en het die kans op liefde en lewe. FOTO VERSKAF
Danksy die bababoks van die Ruach Elohim-stigting op Swakopmund is diu00E9 49 babatjies se lewens gered en het die kans op liefde en lewe. FOTO VERSKAF

Bababoks red 49 lewetjies

-
-
Henriette Lamprecht

Byna 50 klein lewetjies wat andersins in ‘n asdrom of op ‘n ashoop gestort sou word sonder om ooit die kans en reg op lewe en liefde te kry. Sedert die Ruach Elohim-stigting, ’n geregistreerde kinderbeskermingsorganisasie wat fokus op die bewusmaking en voorkoming van babastortings, in 2018 sy bababoks installeer het, is 49 babatjies so gered.

Maar elke liewe enkele een wat dit nie tot hier gemaak het nie en in ‘n droë rivierloop opgetel is of op ‘n ashoop beland het, breek haar hart en wese, sê die stigter Ronel Peters. 

“Dit moenie so wees nie, elke babatjie maak soveel saak en moet gered word en 'n kans op lewe en liefde in oorvloed kry,” sê Ronel. 

Maar, beklemtoon sy, sy kan dit nie alleen doen nie en het hulp met bewusmaking. 

“Elke dorp in ons mooi land moet 'n groot ‘billboard’ kry met 'n boodskap van hoop, 'n ander opsie as storting of dood, en my nommer.”

Soos altyd is haar hoop dat Namibië geen voorvalle van babastorting sal hê nie, want eers dan erken Ronel, sal haar siel rustig kan raak. 

“Die lewe is geleen, dis heilig en ons moet baie harder daarvoor baklei. Ons almal, nie ek alleen nie.”

Sy moet mense vra om te help, want self weet sy nie meer waarheen nie, erken Ronel. 

“Ek kan nie meer lees van babatjies wat weggegooi is in ‘n asblik omdat hul mammas dalk nie geweet het daar is ‘n ander opsie sonder vervolging nie.”

Die wet is só verander dat vroue hul babas sonder om hul naam te verskaf of om vervolg te word, by ’n hospitaal of polisiekantoor kan los.

Ons is ‘n klein land, ons kan almal saamstaan, beklemtoon sy. 

“Almal kan help, groot maatskappye kan aan boord kom en kom help met bewusmaking. Dis waarvoor ons hier is. Ons is nie hier om geld te maak nie, ons moet lewens red. Ons moet kyk na Namibië se lewetjies en hulle red.”

Want, beklemtoon sy “dis generasies wat verlore gaan in asdromme”. 

Van die babas en kleuters wat by Ruach Elohim ingeneem word, word wettig aangeneem deur goedgekeurde aanneemouers; teruggeplaas by biologiese ouers óf deur biologiese familie ingeneem.

Vir meer besonderhede en hoe jy betrokke kan raak, kontak Ronel by +264 81 242 of stuur ‘n e-pos aan [email protected]. Besoek ook die webtuiste van die stigting wat op die hoek van Dr. Schwietering en Bottle Tree-straat in Swakopmund geleë is, by www.ruachelohimfoundation.com. - [email protected]



 



Kommentaar

Republikein 2026-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer