Annual Ace terug met groter pryse, groter doel
Alle oë is vandag op die Windhoek Gholfklub waar die Annual Ace-gholftoernooi vanjaar sy tweede buiging maak met die pryse wat die keer nog groter en die impak ook meer betekenisvol is. Die gholfdag vir liefdadigheid is 'n gunsteling op Namibië se sportkalender en is 'n dag van mededinging tussen spanne en die mik vir daardie kolhou.
Power Line Africa is die Legacy Ace-vennoot, met Castle Lite, XCO en Synergi Marketing wat die kolhoue borg. DZ Golf, Bartsch Architecton, Miko Coffee, Mututo Decor, Network Media Hub, Synergi Group en Pupkewitz Motors voltooi die groep borge wat hul gewig agter vanjaar se Annual Ace gegooi het.
Dit is nie net nog 'n gholfdag en kompetisie nie en agter elke afslaan is daar 'n rede vir 'n groter doel - verandering.
Elke inskrywing ondersteun die African Child Development Trust (ACDT) se nasionale onderwysprojek wat fokus op die verspreiding van kwaliteit leerplangerigte hulpbronne vir onderrig aan jong leerlinge oraloor Namibië.
Volgens ACDT se uitvoerende direkteur, Sharnay Botha, is dit vanjaar die tweede keer wat Annual Ace aangebied word en oortref dit op alle vlakke die kompetisie se debuut verlede jaar. Topspanne en kolhoupryse is meer as 2025, terwyl die doelwit vir fondse wat tydens die dag ingesamel word, ook 'n kerf of wat opgeskuif het.
“Verlede jaar het ons genoeg geld ingesamel om 1 855 kinders vir ’n volle jaar te ondersteun. Vanjaar mik ons om daardie mylpaal verby te steek,” het sy gesê. Hoewel inskrywings vir spanne reeds vol is, kan besighede en individue wat steeds deel van die verandering in 'n kind se lewe wil wees en as vennote wil aansluit, 'n e-pos stuur aan [email protected].


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie