Michael Amushelelo Foto verskaf
Michael Amushelelo Foto verskaf

Amushelelo gaan (steeds) informele nedersetting begin

Eliot Ipinge
Die aktivis en entrepreneur, Michael Amushelelo, sê hy gaan voort met die stigting van ’n informele nedersetting wat bekostigbare ongedienste erwe sal bied.

Dit ten spyte van die feit dat Stad Windhoek (CoW) nie sy planne vir die verwydering van rioolafval goedgekeur het nie en hom toestemming geweier het om die Ujams-rioolaanleg te gebruik.

Amushelelo het in ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) gesê sy behuisingsontwikkeling is onderhewig aan vereistes wat nie op ander eiendomsontwikkelings van toepassing is nie, weens verskeie burokratiese struikelblokke.

Volgens hom is dit te wyte aan wat hy sy “politieke ongelukke” noem.

“Vir die afgelope vyf jaar is ons heen en weer met Stad Windhoek. Wanneer jy na ander ontwikkelings binne die grense van Windhoek soos Finkenstein en Elisenheim kyk, word daar nie van een vereis om paaie van 25 meter breed of ’n bushalte te hê nie. CoW dwing egter hierdie vereistes op ons behuisingsontwikkeling af,” het hy gesê.

Amushelelo beweer dié vereistes vorm deel van ‘n groter poging om sy projek te saboteer en die aantal huise wat dit kan akkommodeer, te verminder.

“Ons het aan die munisipaliteit voorgestel dat ons ons eie rioolaanleg bou. Aanvanklik was die vereiste dat die aanleg binne ’n radius van 250 meter moet wees om watervermorsing te verhoed.

“Skielik verander hulle dit na ’n radius van 500 meter, wat beteken dat ons nie minder nie as 70% van die erwe moet verwyder en bykomende grond moet kry om die rioolaanleg te bou,” het hy beweer.

Volgens Amushelelo het hy, ten spyte van dié terugslae, aan die munisipaliteit voorgestel om van die Ujams-aanleg gebruik te maak. Sy versoek is egter geweier. Volgens die munisipaliteit is dit omdat die aanleg ’n industriële behandelingsaanleg vir afvalwater is en nie vir residensiële afval geskik is nie.

“Ons het ons klagte by die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming ingedien en was geskok om by die ministerie te hoor die Ujams-aanleg laat tans Thorn Valley en Klein Windhoek toe om hul afval soontoe te pomp. As ander ontwikkelings toegang tot hierdie aanleg kry, waarom word ons spesifieke ontwikkeling dieselfde vergunning geweier?”

Ten spyte daarvan dat dit nie aan die vereistes van die munisipaliteit voldoen nie, sê Amushelelo sy ontwikkeling wil steeds bekostigbare behuising aan Namibiërs bied.

“Wat ons nou besluit het om te doen omdat ons die grond as die eiendomsgroep Save Namibia besit, is om ’n informele nedersetting te begin wat ordentlik uitgelê en beplan is.

“Ons gaan voort met ’n informele nedersetting waar mense grond sal besit waarop hulle huise gebou word. Omdat ons binne die grense van Stad Windhoek val, sal ons egter net tydelike strukture kan oprig,” het Amushelelo gesê.

Vroeër is berig dat inwoners van Elisenheim ontstoke was oor die munisipaliteit se besluit om rioolafval van die Ujams-aanleg in ’n nabygeleë rivier te stort wat ’n ondraaglike stank veroorsaak het. Meer as 300 inwoners het toe ’n klagskrif onderteken waarin hulle hieroor gekla het.

Die munisipale woordvoerder, Lydia Amutenya, het toe erken die aanleg ontvang soms volumes riool wat die kapasiteit van die ontwerp oorskry.

“Dit kan lei tot die implementering van protokol om die verhoogde vloei te bestuur,” het Amutenya gesê.

Antwoorde op vrae wat aan die munisipaliteit gerig is oor Amushelelo se bewerings, is teen druktyd nog nie ontvang nie. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer