Ally se Ark (deel 5)

Risiko vir gewasse en reproduktiewe infeksies beduidend laer
Sommige mense kies steeds nie sterilisasie vir hul troeteldiere nie weens tradisionele mites en gelowe, finansiële beperkings en beperkte toegang tot veeartsenydienste.
Henriette Lamprecht
Reddingsorganisasies en skuilings vir diere in Namibië word deur die aantal ongewenste en rondloperdiere oorweldig.

Sterilisasie is daarom een van die doeltreffendste en mees menslike oplossings vir oorbevolking en voorkombare siektes, sê Ally Ryan van The Ark, ’n redding- en rehabilitasiesentrum op Omaruru.

“Dis ’n noodsaaklike stap om die siklus van ongewenste werpsels te breek en meer geredde diere ’n kans te gee om ’n liefdevolle tuiste te vind,” beklemtoon sy.

Met duisende ongewenste diere wat jaarliks weens ’n gebrek aan ’n tuiste van kant gemaak moet word, help sterilisasie dat meer diere aangeneem word en minder in ’n oorbevolkte skuiling beland of onnodig ly.

Die sterilisasie van tewe en kastrasie van reuns is ’n chirurgiese prosedure wat deur ’n gelisensieerde veearts uitgevoer word.

Vir tewe behels die operasie die verwydering van die eierstokke en baarmoeder, terwyl by die reuns die testikels verwyder word. Hierdie prosedures, wat onder narkose uitgevoer word, verhoed nie net voortplanting nie, maar skakel ook sekere gesondheidsrisiko’s en ongewenste gedragsprobleme uit. Dit verminder of skakel ook die risiko van melkklier-, baarmoeder- en testikulêre kanker drasties uit, wat algemeen by ongesteriliseerde diere voorkom.

Sekere siektes soos TVT (oordraagbare geslagsiekte) word oorwegend versprei wanneer diere paar en is veral algemeen onder Namibië se rondloperdiere.

Volgens Ally is ongesteriliseerde reuns veral geneig om rond te loop, te baklei en hul gebied aggressief te merk. Tewe loop die risiko om piometra te ontwikkel, ’n ernstige en dikwels noodlottige baarmoederinfeksie.

“Gesteriliseerde diere is oor die algemeen gesonder, leef langer en het minder gedragskwessies.”

Volgens Ally word menings oor sterilisasie dikwels gevorm deur sosiale oortuigings, toegang tot inligting en die beskikbaarheid van veeartsenydienste.

“In sommige gemeenskappe groei die bewustheid en mense is meer toeganklik vir die voordele hiervan vir hul diere.”

In ander is lang gekoesterde wanopvattings en ’n gebrek aan inligting steeds ’n uitdaging.

Die meeste mense het egter eenvoudig nooit toegang tot die regte inligting of geskikte veeartsenydienste gehad nie,” sê Ally.

“Wat ons geleer het, is dat werklike verandering met ’n gesprek begin. Wanneer ons die tyd neem om na mense se bekommernisse te luister en dit te verstaan, skep ons ’n ruimte vir vertroue en onderrig.”

In die vyf jaar wat The Ark in Omaruru werksaam is, het haar span en plaaslike veeartse ’n duidelike verband gesien. Met meer mense wat hul diere steriliseer, is daar ook ’n toename in algehele versorging en deernis vir diere.

“Dit is geweldig bemoedigend en wys hoe kragtig dit kan wees om met gemeenskappe te praat.”

Ally erken daar is talle wanopvattings oor sterilisasie, met sommige wat reeds vir geslagte oorgedra word.



FEITE VS. FIKSIE

Wetenskaplike navorsing en “regte lewenservaring” het egter die teendeel bewys, en dit is dus belangrik om feite van fiksie te onderskei om die beste moontlike sorg vir jou diere te verseker.

Een hiervan is dat die dier eers een werpsel moet hê. Die wetenskap het egter bewys dat vroeë sterilisasie die risiko van gewasse en reproduktiewe infeksies beduidend verminder.

“Daar is geen mediese of gedragsvoordeel hieraan nie. ’n Gesteriliseerde hond sal steeds sy huis en familie beskerm.

“Beskermende gedrag is gebaseer op opleiding en temperament, nie hormone nie.”

Dit is ook ’n mite dat ’n tefie nie gesteriliseer moet word voordat sy die eerste keer op hitte was nie. Inteendeel, dit verminder die risiko van borskanker by honde met tot 90%.

Steeds kies mense egter om dit nie te doen nie weens tradisionele mites en gelowe, finansiële beperkings en beperkte toegang tot veeartsenydienste.

Sommige eienaars kies om met hul diere te teel om finansiële redes of omdat hulle van die idee hou om babahondjies en -katjies te hê.

Ander voel weer dit neem hul troeteldier se “natuurlike ervaring” van moederskap weg, veral by reuns waar eienaars voel die vermoë om nie te kan paar nie is “onnatuurlik” of dit ontneem die dier van sy manlikheid.

Vir eienaars met veilige, toegeboude eiendom is die verskoning hul troeteldiere kan daarom nie dragtig raak nie, maar wat van daardie rondloperreun wat oor ’n muur of ’n hek spring?

Babakatjies so jonk as vier maande oud kan dragtig word, met sterilisasie wat vir tussen vier en vyf maande aanbeveel word. Vir honde is dit ses maande, maar vir groter rasse kan dit meer voordelig wees om tussen ses tot 12 maande te wag om voldoende groei en ontwikkeling te verseker.

Weens die huidige stand van oorbevolking in Namibië en die dringende behoefte om ongewenste werpsels te voorkom, word alle honde by The Ark op ses maande gesteriliseer.

Die meeste diere herstel vinnig, sê Ally, met volle herstel wat gewoonlik tussen sewe en 10 dae neem. Gedurende dié tyd is dit die beste om oormatige bewegings soos spring of hardloop te beperk om te verseker dat die wond behoorlik kan genees.

Ná die operasie moet dit sover moontlik voorkom word dat die dier die wond lek of byt. Steke moet nie uitgehaal word nie, maan Ally, omdat dit tot ernstige komplikasies en in tewe selfs tot die dood kan lei. Die steke (wanneer dit nie oplosbaar is nie) word gewoonlik na sewe tot tien dae verwyder.

Hoewel private veaartse ’n fooi vir sterilisasie vra, is daar verskeie bekostigbare en selfs gratis opsies beskikbaar vir diegene wat dit nie kan bekostig nie.

Dit sluit staatsveeartse in wat dikwels ’n beduidend laer tarief vra, wat veral voordelig is in landelike gebiede waar toegang tot veeartsenydienste beperk is en hoofsaaklik vir diegene is wat nie private dienste kan bekostig nie.

Mobiele klinieke soos Animal Clinic – CC Baines Vetcare, reis na onderbediende gebiede en bied sterilisasiedienste gratis of teen verlaagde tariewe aan, veral in informele nedersettings. Organisasies soos Have a Heart Namibia bied die dienste gratis aan mense met ’n lae of geen inkomste.

“Dié inisiatiewe dek nie net die koste van die operasie nie, maar sluit ook inentings en behandelings vir parasiete in,” sê Ally.

Reddingsorganisasies soos The Ark verseker dat alle diere in hul sorg op die gepaste tyd gesteriliseer word voordat hulle gereed is om aangeneem te word.

“Wanneer hulle nog te jonk is wanneer hulle aangeneem word, moet die nuwe eienaars ’n sterilisasie-ooreenkoms onderteken om die prosedure op die gepaste tyd te laat doen.”



TELERS

Talle telers in die land voldoen nie aan die noodsaaklike standaarde vir etiese teling nie, sê Ally.

Laasgenoemde vereis uitgebreide kennis en verantwoordelikheid, insluitend die evaluering van die versoenbaarheid van die ouers se gedrag, gesondheid en genetiese agtergrond.

“Ongelukkig voer baie selfverklaarde telers nie hierdie noodsaaklike stappe uit nie, wat lei tot die voortsetting van ongesonde of ongewenste eienskappe in nasate.

“Sommige telers laat ook toe dat hul diere te vroeg of te veel teel, wat die lewe van die ma en haar kleintjies in gevaar stel.”

Die gevolge strek egter verder as bloot die gesondheid van die ma, maan Ally, en kan lei tot genetiese afwykings, swak temperamente en gedragskwessies. Dit sluit in ’n geneigdheid tot aggressie, angs of gesondheidsprobleme wat soms duur langtermynsorg vereis.

Baie mense glo om ’n babahondjie te koop eerder as om een aan te neem, waarborg ’n gesonde en goedgemanierdie dier, maar sonder verantwoordelike teling is dit ver van die waarheid af, maan Ally.

Te veel werpsels lei onder meer tot totale uitputting en die onttrekking van noodsaaklike voedingstowwe van die ma deur die babahondjies of -katjies, verkorte lewensduur, swakker en ongesonde werpsels, emosionele en fisieke stres en ’n verhoogde risiko van gewasse en reproduktiewe kankers.

Ally beklemtoon die gepaste ouderdom vir teel en tydsraamwerk tussen werpsels is totaal afhanklik van die ras. Sy verwys na die ideale riglyne deur die Namibiese hondegedragkenner Desiree Nel wat kan help om etiese telers te identifiseer.

Dié telers laat babahondjies eers op tien weke na hul nuwe tuiste gaan, tewe word eers op die ouderdom van drie jaar vir teeldoeleindes gebruik en dan ook net een keer per jaar en die teelhonde is by betroubare rasspesifieke organisasies geregistreer.

Rasspesifieke toetse met graderings vir heupe en elmboë asook vir temperament word vir beide ouers gedoen, terwyl nie meer as een hondjie uit dieselfde werpsel aan dieselfde eienaar verkoop word nie.

Jou hondjie is ontwurm, ingeënt en het ’n mikroskyfie. ’n Kontrak word ook onderteken wat stipuleer dat die hondjie nie herverkoop mag word nie en dat jy toestemming van die teler moet hê om met die hondjie te teel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer