Afslaan vir 'n goeie doel

Ter ondersteuning van Senior Park
Aurelia Afrikaner
Hulle het na ons gekyk, ons geleer en hul wysheid gedeel. Nou is dit ons beurt om na hulle te kyk.

Deelnemers aan vanjaar se Kersfees-gholfdag ten bate van Senior Park in Windhoek se bejaarde inwoners was dit almal eens dat hul manier is om terug te gee aan dié wat hulle en die land help bou het.

Met die son wat warm en helder was, terwyl gholfspelers doelgerig afgeslaan het vir ‘n dag van pret en ‘n gekorswel wat gereeld oor die setperke weergalm het, was dit ‘n dag waartydens buiten vir sport, ook liefdadigheid en die gees van welwillendheid onder gemeenskappe gevier is.

Die Windhoek Express-span wat gasheer gespeel het, is met eindelose humor en vrolike geselsies begroet, terwyl gholfspelers die dag se missie entoesiasties aangepak het.

Die gholfdag is gereël om iets tasbaar vir bejaardes te doen wat dikwels in die feestyd vergete en alleen voel. Geld wat ingesamel is, sal ná die aftrek van koste om die dag aan te bied, gebruik word om die meer as 150 bejaarde inwoners te ondersteun wat in Senior Park in Windhoek bly.

Sewentien spanne het aan die gholfdag deel geneem om ‘n betekenisvolle verskil in ‘n oumens se lewe te maak.

Baie van die bejaardes maak staat op net hul maandelikse spensioen, wat weinig ruimte bied vir noodsaaklike items soos basiese kos en persoonlike toiletware.

BROODNODIG

Dié broodnodige items sal aangekoop word en as Kersgeskenke vir elke inwoner toegedraai word.

Dit sal tydens ‘n spesiale geleentheid aan elk van die inwoners oorhandig word. Danksy die ondersteuning van Kentucky Fried Chicken sal die bejaardes ook 'n feestelike maaltyd kan geniet, vergesel van Kersmusiek om vreugde en vakansievrolikheid te versprei. Die datum van die oorhandiging sal binnekort aangekondig word.

Die sukses van die geleentheid is moontlik gemaak deur die onwrikbare ondersteuning van sy borge en vennote, wat met entoesiasme en toewyding hul agter die spesiale gholfdag geskaar het.

Groot bydraers het ingesluit Miko Coffee Namibia, Miko Coffee South Africa deur 'n kontantskenking, Namibia Hospitality, World of Hygiene en Numatics International, wat 'n waardevolle veilingsitem geskenk het. DZ Golf het ook die veiling met bykomende items ondersteun, terwyl Feedmaster 'n ruim geskenkmandjie bygedra het.

Verdere finansiële ondersteuning het van Securitas en Lientjie van Schoor gekom. Shoprite Checkers het alle Kersversierings verskaf wat gesorg het om deelnemers in die regte stemming te bring. Synergi Events en Windhoek Express het 'n sleutelrol gespeel in die bemarking van die gholfdag, terwyl Funfilled vir opwinding by putjie 1 gesorg het met spelers wat die vraag "Waarom gee jy om?" moes beantwoord het. Funfilled het die beste drie antwoorde beloon.

Kommentaar

Republikein 2025-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer