Só het ons oop geloop – Ooste toe!

NTV Afrikaans
NTV Afrikaans se Skou-Rondomtalie het van 24 tot 26 September 2026 op Gobabis gedraai, minwetende dat ons in ‘n intieme dampkring sou beland waarin alle boere in die land, verwante bedrywe en die totale ekonomie, deur ‘n smoelneuker getref is. Maar, soos Namibiërs maak, is daar vol moed en hoop vasgevat en deurgedruk.
Dani Booysen

Op ‘n Woensdagmiddag word die viertrek se neus ooswaarts op die B6 gedruk op pad na die Gobabis Skou.

Waar die kallers oop loop, soos Skou-Rondomtalie se landbou-advertensie sê.

Teen die tyd dat ons viertal op Witvlei bene ruk, is die nuus amptelik: Bek-en-klou is in die //Kharasstreek gevind.

Sjoe is nie ‘n woord wat dié siddering kan beskryf nie.

Met die instoot by Gobabis se skouterrein, links af verby die dorpsbul, is dit ‘n miernes van bedrywighede. Die tafels is behoorlik vir die fees se drie dae gedek.

En ons word met die oop hande en breë glimlagte van die platteland verwelkom. Ondanks die gedemptheid en kommer – wat ook ons aan eie bas voel.

Mariaan van Niekerk en Tannie Corrie Britz nooi mens by die skoukantoor in of dit jou eie dorp is. Langs die vuur waar steaks op die kole sis vir die aand se uitstallersdinee, gee skouvoorsitter Danie Opperman ‘n vasvathanddruk en deel die jongste.

Maar vroeg Donderdagoggend is die besluit gou en ferm. Gobabis skou voort!

Met die gewag vir die permitte en die grasietyd vir laai, kry boere tog kans om hul beste vee te wys. Die linte en bekers kry baas.

Sou dit nou nie lekker wees om die tjokkers te sien lammers jaag nie. Wat wou, ons klim saam krat (te bangbroek – net op video), leer braaikunsies by Kalahari-Oos se boerevereniging, raai hoeveel die Dextertjie weeg, hou modeparade saam met Tannie Marie Beukes en haar span, leer van die Thorn Fifty by Madré Swart, en kyk hoe mense op die ritmes van Vaughn Ahrens en sy band sokkie.

En die Vrydagaand bring die reën ‘n bietjie vertroosting en seën.

Simone Kauert, vooraf so gul met haar professionele skoukiekies, draf die wêreld vol om elke oomblik vas te vang.

Dankie aan elkeen wat ons kon ontmoet. Die uitstallers en inwoners wat ‘n woord gewissel het. Aan William Versfeld, Barbara Pretorius, Stefan Botes en Stefan Beukes. Asook elke skoubesoeker.

En my reisgenote Brian, Iréne-Mari en Josa.

Ons dank aan die Namibia Tourism Board wat die reis moontlik gemaak het.

Kommentaar

Republikein 2026-10-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer