Rehoboth se trouvroue

Gasvrou(e) vir Bruilof Ekspo
Die dorp is op die platteland omring met die mooiste natuurskoon, met verskeie vroue wat bobaas is met 'n blom en naald en gare en die ekonomie op die koop toe 'n hupstoot gee.
Henriette Lamprecht
Wanneer die troukoors hoog loop en iemand se trou hang uit, het jy vasvatters nodig wat sorg dat dinge glad verloop. Want trou is nie perdekoop nie en haastig trou, is gou berou!

Twee bobaasvroue van Rehoboth het nou kragte saamgesnoer om alles en nog wat onder een dak op die dorp bymekaar te sit as deel van ’n Bruilof Ekspo waar jy inspirasie en nommers kan kry van blomme tot grimering tot geskenke en trourokke. Die heel beste is dat van die uitstallers Rehobothers is, waarvan sommige al jare aan inwoners bekend is as die een wat jy móét vra as jy ’n unieke towerskepping wil laat maak.

Enid Vergotine en Brigitte Pitt, die vroue agter die ekspo, is buiten dat hulle albei lief is vir die dorp, dit eens dat Rehoboth groot ekonomiese potensiaal het wat blootstelling verdien.

Vir haar was haar liefde vir Rehoboth en sy mense ’n dryfveer, sê Enid, terwyl dit vir Brigitte net sin gemaak het.

“Ons het ’n verandering in trouneigings gesien. Mense trou deesdae op Vrydae, Saterdae en Sondae! Dis ook ’n goeie platform vir plaaslike diensverskaffers om hul produkte en dienste te adverteer,” sê Brigitte.

Rehoboth is nog baie plattelands en het skilderagtige en pragtige landskappe, die perfekte agtergrond vir ’n troue!

“Maar nie net Rehoboth nie, baie ander dorpies en gebiede in Namibië ook. Dit is hoekom ons ‘destination weddings’ bevorder,” vertel sy opgewonde.

Die keuse van die dorp as gasvrou is ook gedeeltelik omdat Rehoboth se inwonerstal tot 44 000 mense toegeneem het, maar ook omdat dit gemakliker en goedkoper is om juis in jou tuisdorp nader aan die familie te trou, sê Brigitte.

Die bonus is natuurlik die hupstoot wat dit vir die plaaslike ekonomie gee.

Brigitte is die ma van ’n dogter wat klaar gestudeer het en in Johannesburg woon en ’n negejarige seun wat op Rehoboth skoolgaan.

Ná jare se werk in die mediabedryf het sy besluit om haar eie besigheid op die been te bring en van die huis af te werk terwyl sy voltyds ma vir haar seun is. Sy woon die afgelope drie jaar op Rehoboth en is nou betrokke by verskeie liefdadigheidsprojekte.

Haar besigheid, Bugpaint Design and Consultancy, help klein- en mediumgrootteondernemings om hul bemarking te verfyn. Dis ook hoe sy by Women in Business (Wiba) aangesluit het.

Enid, ’n enkelma van ’n seun, se naam is Anna-Maria (née Moller), maar sy verkies Enid – ’n naam wat ’n vriendin van haar ouers vir haar gegee het – omdat sy daarmee grootgeword het. Eintlik moes sy Annawyne gewees het, maar haar pa was glo nie ingenome met die feit dat sy meisiekind ’n wyn se naam kry nie!

“Ek sê altyd Anna is my ‘official’ naam en Enid my ‘social’ naam.”

Enid is ’n Rehobother in murg en been en is in die distrik gebore, het in die distrik skoolgegaan en op Rehoboth gebly toe sy hoërskool toe is. Ná skool het sy tussen die dorp en Windhoek gependel waar sy gewerk het.

Nadat sy getroud is, het Enid vir agt jaar in Windhoek gewoon, weer teruggetrek Rehoboth toe vir vyf jaar, waarna sy vanaf 2005 tot 2009 ná die dood van haar man tussen haar tuisdorp en Windhoek gependel het.

Vir twee jaar daarna was Kaapstad haar nuwe tuiste, totdat sy in 2012 weer terugkeer na haar heimat en in Walvisbaai gaan bly. Die sirkel word voltooi toe sy weer na Rehoboth terugkeer waar sy weer ’n holte vir haar voete gevind het.



UITSTALLERS

Van die wye reeks uitstallers wat reeds vir die ekspo bevestig is, wat vanaf 5 tot 7 Junie in die Hermanus van Wyk-saal gehou word, sluit onder meer die Nest Hotel op Lüderitz en Rehoboth se Amazing Living Waters in.

“Die Nest Hotel het ’n lieflike saal vir onthale en niks kan die uitsig oor die see oortref nie. Amazing Living Waters bied elegante onthaalopsies omring deur die natuur,” vertel Brigitte.

Dan is daar “ons eie tannie Yvonne, ’n kundige met blomme” wat onder meer gaan help om die saal mooi op te maak en “tannie Jean met haar klere vir die ouma van die bruid”.

Daar is iets vir ’n ieder en ’n elk, beklemtoon sy, selfs ’n speelarea vir kinders, koeke en versnapperinge, kos- en braaistalletjies, potjiekos, roosterbrood, troukoekproe en idees vir versierings.

Vir die ekspogangers is daar alles van toestelle tot meubels vir hul eerste huis of woonstel en natuurlik is daar verskeie opsies vir die wittebrood.



GELDINSAMELING

’n Belangrike deel van die Bruilof Ekspo is die verkoop van tombolakaartjies van N$100 elk ten bate van die ouetehuis op Rehoboth.

“Die ouetehuis is ’n veilige hawe vir baie grootmense van ons dorp,” vertel Enid en Brigitte.

Die gebou is in 1985 laas gerestoureer en het baie opknapwerk nodig.

“Met die winter reeds in die lug, kort die oumensies warm komberse, wintersokkies, handskoene en warmwatersakke. Die kombuis kort nuwe borde, koppies, potte en eetgerei, terwyl die ‘greenhouse’ nuwe skadunet moet kry en van voor af begin moet word.

“Die heining moet meer veilig gemaak word, spreiligte moet op die regte plekke geïnstalleer word en hulle het ook ’n wasmasjien en wasgoedlyne nodig.”

Enid en Brigitte se hoop is om met dié geldinsameling genoeg kontant in te samel om in die daaglikse nood van die ouetehuis te voorsien.

“Ons hoop ook om diensverskaffers so ver te kry om verbeterings aan die gebou aan te bring.”



PROGRAM

Die galadinee vind op Donderdag 5 Junie, die eerste dag van die ekspo plaas, met ’n heerlike ete wat bedien gaan word en twee sangers om die gaste te vermaak.

’n Uitnodiging is ook aan Prisca Anyolo, Mej. Namibië 2024, gerig om die spesiale geleentheid by te woon.

Die ekspo open op Vrydag 6 Junie vir die publiek met gratis toegang en is ’n gulde geleentheid om uitstallers te ontmoet, kwotasies aan te vra en troudrome te verwesenlik!

Saterdag se verrigtinge is ook oop vir die publiek en volgepak met van ’n modeparade van trourokke tot die kennismaking met die tien finaliste van Republikein se gewilde Bruidspaar van die Jaar-kompetisie tot die aankondiging van die wenpaartjie.

Die wenners van die tombolakaartjies, ten bate van die ouetehuis op Rehoboth, word ook aangekondig. Met dié kaartjies kan jy van ’n skaapkarkas, naweekverblyf by ’n luukse lodge tot toegang vir twee na ’n aarbeiplaas naby die dorp wen.

Maak seker jy is om 13:30 by die ekspo om uit te vind of jy ’n prys gewen het, terwyl die finaliste van Republikein se Bruidspaar van die Jaar-kompetisie om 14:00 hul buiging tot 15:30 sal maak wanneer die wenpaartjie aangekondig word.

Fabulous Events bring ook hul mooiste trourokke na die loopplank wat voornemende bruide vir hul spesiale dag kan huur.

Deur die loop van die dag is die Bruilof Ekspo se fotograaf ook aan diens en kan jy naderstaan vir ’n foto wat sommer dadelik vir jou gedruk word.

Soos skemer oor die ekspo en Rehoboth daal, kry die uitstallers kans vir ’n skemerkelkie, waarna die saal opgeruim en die stoele uit die pad gestoot word om die drie dae met ’n lekker langarmdans af te sluit.

Mense kan nog aansoek doen vir stalletjies, maar die tyd raak nou baie vinnig min, maan Enid en Brigitte.

Die meeste dorpenaars en uitstallers is baie opgewonde oor die ekspo en daar is reeds ’n “buzz” op die dorp, erken hulle.

“Mei was baie besig, maar soos ons nader aan die datums van die ekspo kom, kry die uitstallers en voornemende bruide so ’n buzz van die opwinding! Al hoe meer mense word bewus daarvan.”

Of jy ’n stalletjie wil bespreek of ’n tombolakaartjie wil koop of sommer net wil hoor waaroor presies gaan hierdie bewing op Rehoboth, bel vir Brigitte by 081 723 4373 of Enid by 081 803 9037.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer