Loreece is Mej. Lüderitz-kreeffees 2026
Loreece Kaffer (19) het met die kroon by Mej. Lüderitz-kreeffees 2026 weggestap.
Loreece van Rosh Pinah, het die skare met haar elegansie en selfvertroue tydens die glansgeleentheid Saterdagaand op die hawedorp beïndruk, asook die paneel beoordelaars, bestaande uit Donna Hifitikeko, Jerusha Sheyer en Dean Johannes.
’n Asemrowende groep van 11 selfversekerde en lewenslustige jong vroue het die verhoog in tradisionele drag, swemdrag en aandrokke betree. Die beoordelaars het na die algemene voorkoms, aandag aan detail en die persoonlikheid van die deelnemers gekyk om die wenner te bepaal.
“Ek het geweet toe ek vir hierdie kompetisie ingeskryf het, waarvoor ek my inlaat. Ek het nie gekom om te speel nie en het my selfvertroue tot my voordeel gebruik,” het Loreece gesê nadat sy deur Mej. Lüderitz-kreeffees 2025, Faizah Shani Bwalya, gekroon is.
“Ek is so bly dat ek nie net myself en my familie nie, maar ook my dorp, Rosh Pinah, en die mense wat na my opsien, trots kon maak.”
Loreece het pryse ter waarde van N$24 000 ingepalm. Cynthia Richards (17) is haar eerste prinses en Rachel Josef (19) die tweede prinses. Anell /Garu-||nas (16) is as Mej. Fotogenies aangewys en en Aloisa Jackson (24) as Mej. Persoonlikheid.
Die nuwe koningin het gesê sy beoog om daarop te fokus om die jeug te inspireer en bemagtigingsinisiatiewe vir hulle te skep.
“Ek weet daar is baie mense wat na my opsien, veral jong meisies. Hierdie platform bied ’n wye gehoor en ek sal dit benut om die jeug te bemagtig, te inspireer en hulle te help om selfvertroue te bou.”
Loreece, wat daarvan droom om eendag Mej. Heelal te word en Namibië trots te maak, het die volgende raad aan aspirant-skoonheidskoninginne gegee: “Sukses is wat jy daarvan maak. Ek is my eie rolmodel. Ek het op my eie met skoonheidskompetisies begin toe ek 12 was en het myself geleer.
“Wees jouself. Sê vir jouself jy kan dit maak en uiteindelik sal jy. Wees selfversekerd, want sonder selfvertroue kan jy niks bereik nie,” het sy gesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie