I see a bad moon rising...

In sommige kulture 'n teken van verandering
Sowat 77% van die wêreld se bevolking, ongeveer 6,2 miljard mense, gaan Sondag die totale fase van die maansverduistering kan sien, met byna 88% (7,1 miljard mense) wat ten minste 'n deel van die penumbrale fase sal sien.
Henriette Lamprecht
Los die honde se was, die gras se sny en jou gunstelingsepie, bêre jou foon en pak vir jou en joune ‘n piekniekmandjie, stoele en iets wat borrel vir jou keel en ry vir die naaste oopte. Want Sondag het Namibiërs die voorreg saam met miljarde mense oraloor die wêreld die kans om die verduistering van ‘n bloedmaan in al haar asemrowende glorie te aanskou. Teen 17:28 moet jy al jou sit en jou verkyker en kamera reg hê, want dan begin die penumbrale fase. Die pièce de résistance en skouspelagtigste hoogtepunt is 19:30 wanneer die maan in haar geheel in die aarde se skaduwee verdwyn. Die hoogtepunt van Sondag se verduistering is om 20:11 en hierdie fase duur tot 20:52. Teen 22:55 is alles verby.

Bloedmaan is ‘n oordrewe beskrywing van die rooierige kleur wat die maan tydens ‘n verduistering kry, sê prof. Matie Hoffman, fisika-dosent aan die Universiteit van die Vrystaat.

‘n Totale verduistering gebeur wanneer die maan, aarde en son mooi in lyn beweeg en die maan deur die aarde se skaduwee beweeg.

Tog is daar 'n bietjie sonlig wat uitloer, al staan ons tussen die twee, verduidelik Hoffmann. Wanneer die sonlig deur die aarde se atmosfeer beweeg, word die groen- tot violet-deel van die ligspektrum uitgefiltreer omrede dit die kortste golflengte het.

"Lig wat makliker verstrooi, val in die blouer deel van die spektrum, terwyl die lig wat die moeilikste verstrooi, agterbly," sê Hoffman.

"Wat oorbly, is die rooier deel van die spektrum wat die maan dan rooi kleur." Rooi het die langste golflengte.

Toestande in die atmosfeer soos besoedeling, stofstorms, rook en vulkaniese uitbarstings het ook 'n invloed op hoe rooi die maan lyk.

Tydens die tweede maanverduistering vir die jaar sal die maan geleidelik verander van ‘n helder silwer tot ‘n diep rooi soos die aarde se skaduwee dit dek. Omdat Sondag se verduistering relatief diep is waar die maan diep binne die kern van die aarde se skaduwee, bekend as die umbra, beweeg, sal die maan na verwagting donkerder as gewoonlik wees en volgens die kenners roesoranje of selfs bruinrooi verkleur.

Volgens die webtuiste timeanddate.com is die astronomiese term vir hierdie tipe belyning (son, aarde en maan) sizygie, afkomstig van die Griekse woord om saam gepaar te word.

Die maan het nie sy eie lig nie, maar skyn omdat sy oppervlak die son se strale weerkaats. Tydens ‘n totale maansverduistering beweeg die aarde tussen die son en die maan en blokkeer enige direkte sonlig om die maan te bereik. Die son weerkaats die aarde se skaduwee na die maan se oppervlak.

Die aarde se skaduwee word opgedeel in drie dele: Umbra - die donker, sentrale gedeelte, penumbra - die buitenste gedeelte en die antumbra, die deel verder as die umbra wat gedeeltelik in skadu gehul is. Tydens ‘n totale maanverduistering bedek die aarde se umbra heeltemal die maan. Die aarde se umbra reik baie verder as die wentelbaan van die maan die ruimte in. Dit beteken dat die aarde se antumbra geen rol in maanverduisterings speel nie. Totale maansverduisterings vind net plaas wanneer daar ‘n volmaan is en die son, maan en aarde in ‘n reguit (of amper reguit) lyn is. Maar waarom is daar dan nie elke maand ‘n maanverduistering as ‘n volmaan vir ‘n totale maanverduistering nodig is nie?

Volgens dateandtime.com is dit omdat die vlak van die maan se wentelbaan om die aarde skuins teen 'n hoek van 5° teenoor die aarde se wentelbaan om die son, ook bekend as die eklips. Laasgenoemde is ‘n groot sirkel in die hemelsfeer wat die son se skynbare baan gedurende die jaar voorstel, so genoem omdat maan- en sonsverduisterings slegs kan plaasvind wanneer die maan dit kruis. Maanverduisterings vind plaas wanneer 'n volmaan naby 'n maanknoop plaasvind.

Sowat 29% van alle maanverduisterings is totale maanverduisterings. Gemiddeld kan 'n totale maanverduistering elke 2,5 jaar vanaf enige gegewe plek gesien word. Totaliteit, waar die volmaan heeltemal deur die donkerste deel van die aarde se skaduwee bedek word en 'n "bloedrooi" kleur kry, sal ongeveer een uur en 22 minute duur.

Dit is die tweede (en langste) van drie totale maanverduisterings binne 'n tydperk van minder as 12 maande. Die eerste was op 13 tot 14 Maart 2025, toe die totale maanverduistering sowat ‘n uur en vyf minute geduur het. Die derde vind op 2 – 3 Maart 2026 plaas, wanneer die totale maanverduistering ongeveer 58 minute sal duur.

Volgens ‘n studie deur Belay Sitotaw Goshu van die departement fisika van die Universiteit van Dire Dawa in Ethiopië en Muhammad Ridwan van die Islamitiese Staatsuniversiteit van Noord-Sumatra in Indonesië, het die bloedmaan 'n diepgaande invloed op godsdiens en kultuur. Netwerk24 berig sommige Christene beskou die bloedmaan as 'n profetiese simbool, veral in die eindtyd, wat te doen het met goddelike oordeel en kosmiese verandering. Selfs in meer moderne vertolkings word dit met apokaliptiese gebeure verbind.In Islam is die maan ‘n belangrike geestelike simbool en hoewel die bloedmaan nie noodwendig uitgesonder word nie, word maanverduisterings as tekens van Allah se mag beskou. Dit word ook verbind met die Oordeelsdag. Judaïsme verbind weer die bloedmaan met loopbane, roepings en die Messiaanse era. Dit word tradisioneel as aankondigings van goddelike gebeure gesien en hou dikwels met Joodse feeste soos Pasga en Sukkot verband.

In Asiatiese kulture kan die bloedmaan gunstig of 'n waarskuwing wees. Dit gaan dikwels gepaard met reinigingsrituele.

In sommige kulture is die bloedmaan 'n teken van verandering. In van die Afrika- en Indiese tradisies word daar oor die rooi maan se seisoenale veranderinge of geestelike reise gesing. - [email protected]

Kliek hier: https://q.my.na/HRDJ

Kommentaar

Republikein 2025-09-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer