Dokter ontken uitlatings op sosiale media

Eienaar van Kalahari Reporters ‘neem wraak vir vriend’
'n Vrouedokter van Windhoek het bewerings ontken wat op 'n plaaslike Facebook-nuusblad gemaak is.
Mariud Ngula
’n Dokter by die Katutura-staatshospitaal, Kaarina Martin, ontken bewerings wat teen haar gemaak is deur Kalahari Reporters, ’n plaaslike Facebook-nuusblad, dat sy haar man, Brighton Nyathi, vir ’n Ghanese profeet genaamd Nathaniel Vanderpuye van Prophet Nathaniel Vanderpuye Ministries (PNNV Ministries), gelos het.

Martin het in die middel van dié omstrede kwessie beland nadat Kalahari Reporters geplaas het dat PNNV Ministries ’n “godsdienstige kultus” is wat deur sommige dokters van die Katutura-staatshospitaal ondersteun word. Die plasing het bygevoeg dat die owerhede glo nou die kerk ondersoek om te bepaal of ander kinders van kerklidmate moontlik seksueel aangerand is ná ’n onlangse arrestasie van ’n dokter wat na bewering sy agtjarige seun verkrag het.

“Van die vrouelede is tans besig met egskeiding van hul gades. Gelowiges genaamd Neneties verander hul vanne aanlyn na Vanderpuye. Dr. profetes Kaarina Vanderpuye [Martin] het sedertdien by die profeet [Nathaniel Vanderpuye] ingetrek en vir ’n egskeiding aansoek gedoen nadat sy [hom] ontmoet het,” het die nuusblad op Facebook geskryf.

‘KUBERBOELIE’

Martin het in reaksie hierop gesê Kalahari Reporters word deur Confidence Musa Musariri, ’n goeie vriend van haar eksman, besit.

“Musa [Musariri] neem wraak vir sy mede-Zimbabwiër en goeie vriend, Nyathi, van wie ek vroeër vanjaar geskei is,” het sy gesê.

“Hy gebruik sy sosialemedia-invloed en joernalistieke agtergrond om my te kuberboelie en my beeld te skend. Ek het weggegaan omdat die huwelik nie gewerk het nie en hy weet dit, want ek het hom alles vertel,” het sy opgemerk.

NIE VERWANT NIE

Sy het bygevoeg dat haar egskeiding niks te doen het met haar nuwe verhouding nie, wat volgens haar eers begin het nadat sy reeds vir ’n egskeiding aansoek gedoen het.

“Hulle [Kalahari Reporters] moet my egskeiding en die dokter se saak uit die kerk hou. Dit het niks met my egskeiding of geloof te doen nie,” het Martin gesê.

Sy het ook beskuldigings teen Vanderpuye aangespreek en verduidelik dat hy bloot Namibië besoek en nie ’n kerk hier bestuur nie, “wat nog te sê ’n kultus”.

“Die PNNV-organisasie besit nie ’n fisiese kerk in Namibië nie, en het ook nie enige lidmate hier nie. Die profeet het nie na Namibië gekom om ’n kerk te bestuur nie, maar om twee vriende te besoek.”

Musariri is vir kommentaar gekontak, maar kon nie bereik word nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer