CST pryk by Namibië-EU Sakeforum
Die Tweede Namibië-EU Sakeforum het die vennootskap tussen Namibië en die Europese Unie (EU) beklemtoon wat veel verder strek as tradisionele handelskwessies.
’n Kernuitkoms is die hersiene padkaart vir die strategiese vennootskap, verleng vir die tydperk 2026 tot 2030, wat ’n vaste verbintenis tot volhoubare nywerheidsontwikkeling, groen groei en inklusiewe ekonomiese transformasie vaslê.
Die raamwerk fokus op groen nywerhede, plaaslike waardetoevoeging, hernubare energie, kritieke grondstowwe, vaardigheidsontwikkeling en belegging.
Die doel is om werksgeleenthede te skep, nywerheidsektore te versterk en langtermyn- ekonomiese geleenthede te ontsluit. Veral die vennootskap vir volhoubare grondstowwe en groen waterstof, wat in 2022 van stapel gestuur is, word nie net voortgesit nie, maar strategies verdiep.
Die forum het egter ook ’n tweede en toenemend belangrike dimensie benadruk: Die kreatiewe ekonomie as ’n toekomstige groeisektor.
Op die laaste dag van die konferensie is Namibië se kreatiewe, sport- en toerismebedrywe in die kollig geplaas. Emeraldsand Platforms (ESP) het die platform gebruik om die CST Ekspo (Kreatief – Sport – Toerisme) te bevorder, wat van 2 tot 4 September 2026 by die Hage Geingob-rugbystadion sal plaasvind.
’n Hoogtepunt by die CST-stalletjie was die meesleurende virtuele realiteitservaring, wat besoekers in staat gestel het om deur van Namibië se mees asemrowende landskappe te reis – ’n samesmelting van toerisme, tegnologie en vertelkuns wat die kreatiewe ekonomie posisioneer as ’n vernuwende medium om nasionale identiteit uit te druk.
Besoekers kon Namibië ervaar sonder om die CST Ekspo-stalletjie te verlaat.
Lees die volledige artikels oor die sakeforum op bl. 4 van Republikein en in Market Watch.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie