Oerstorie van die mens

Waar geskiedenis en vee saamloop
Op die Omaheke se vlaktes digby die grens met Botswana, het Gobabis oor byna twee eeue ontwikkel van ’n plek van water en olifante tot die hart van Namibië se beesbedryf.
Dani Booysen

Gobabis se wortels strek terug tot omstreeks 1840. Die gebied langs die Nossobrivier was bekend vir sy groot olifantbevolking en het jagters en ivoorhandelaars gelok. ’n Sendingstasie is in 1856 gevestig. Die Duitse owerhede het die Gobabis-distrik in 1894 geproklameer en ’n garnisoen het die dorp in 1895 beset.

Selfs die naam Gobabis vertel ’n verhaal. ’n Ou Khoekhoegowab-naam, ǂKhoandabes, verwys na ’n plek waar olifante kom lek het. In die volksmond is dit drinkplek of fontein vir die grootvoete.

’n Ander verklaring vir die naam kom uit die woord “gaba”, om te baklei of rusie te maak, en “bis”, wat plek beteken. Dus: Plek van stryd of rusie.

Die twee betekenisse weerspieël ’n gebied waar mense, diere, handel en belange oor eeue heen bymekaargekom het.


KLEIN TEXAS

Vandag is Gobabis die hoofstad en handelsentrum van die Omaheke en lê dit aan die belangrike roete tussen Windhoek en Botswana. Die dorp staan bekend as Namibië se “Little Texas” – ’n bynaam wat pas by sy sterk beesboerdery-erfenis. ’n Groot bul met die woorde “Welcome to Cattle Country” begroet besoekers.

Die dorp staan bekend as Namibië se “Little Texas” – weens die sterk beesboerdery-erfenis.

Mense van hier het nog altyd ’n merk op die breër geskiedenis gemaak.

Onder bekendes wat op Gobabis gebore is, tel opvoeder en onafhanklikheidsaktivis Otto Schimming, regter Shafimana Ueitele, adjunk-speaker van die Nasionale Vergadering Phillipus Katamelo, die Duitse politikus Ottmar von Holtz, sokkerspeler Denzil Haoseb, rugbyspelers Eugene Jantjies en Adriaan Booysen, asook krieketspeler Ian Opperman. Laura McLeod-Katjirua het hier grootgeword.


VAN BOER TOT BESIGHEID

Gobabis se geskiedenis is uiteindelik nie net dié van ’n dorp nie, maar van ’n streek wat steeds deur landbou, handel en gemeenskap gedra word.

Dis ’n verhaal so oud soos die beskawing self: Een van mense wat hier bymekaargekom het rondom water, vee, handel en geleenthede.

Kommentaar

Republikein 2026-11-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer