'Hulle wil my vernietig'
Dit voel asof hulle my wil vernietig.
Só het Walu Fishing se besturende direkteur, Erna Loch, gesê en bygevoeg dat sy voel dat sy geteiken word deur die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming ná haar opmerkings waarin sy die regering daarvan beskuldig het dat hulle ’n klein groepie maatskappye en individue onder sy werkverrigtingsprogram bevoordeel, terwyl honderde voormalige vissers wat veronderstel was om by die skema te baat, werkloos bly.
Loch het dit gister aan Namibia Media Holdings (NMH) gesê nadat die ministerie ’n tweede verklaring uitgereik het in reaksie op bewerings wat sy gemaak het rakende die regering se indiensnemingsherstelprogram (GERP).
Die ministerie het teruggekap na Walu Fishing Company en gesê dat dit vir die huidige 2026-visvangseisoen geen ooreenkoms met die maatskappy het nie, en bygevoeg dat die maatskappy nie in aanmerking kom vir enige kwotatoekenning nie, en enige voorstel van die teendeel is vals.
Dit volg op ’n reeks konfrontasies in die openbaar tussen die ministerie en Walu Fishing wat terugdateer tot laat verlede jaar.
Twee weke gelede het Loch die Namibiese regering daarvan beskuldig dat hulle ’n klein groepie maatskappye en individue bevoordeel onder sy werkverrigtingsprogram, terwyl honderde voormalige vissers wat veronderstel was om by die skema baat te vind, werkloos bly.
In ’n video wat op sosiale media geplaas is, het Loch die program beskryf as "’n mislukte belofte wat deur gierigheid en manipulasie gekaap is." Sy het gesê dit is nie geïmplementeer in die gees waarin dit bedink is nie.
Loch het gesê die program, wat bedoel was om permanente werk te skep vir Okapare-vissers wat hul werk in 2015 verloor het, het hulle nie bereik nie.
"Die einste mense vir wie dit ontwerp is om te help, sit nou al vyf jaar by die huis en doen niks terwyl hulle deur kwota-toekenning betaal word nie," het Loch gesê.
Volgens die ministerie besit Walu Fishing Company geen visvangregte onder die wet op mariene hulpbronne nie en het dus geen wettige reg op die toekenning van enige visvangkwota nie.
“Walu Fishing (Pty) Ltd. het gedurende die 2024- ‘25-visvangseisoen aan die regering se indiensnemingsherstelprogram vir maasbanker deelgeneem onder ’n spesiale reëling wat daarop gemik was om werksgeleenthede binne die sektor te beskerm,” lui die verklaring.
“Gedurende die 2024-seisoen het Walu Fishing (Pty) Ltd. egter ernstige ontwrigting in die bedryf veroorsaak toe sy werknemers protesoptogte gehou het nadat hulle vir meer as drie maande onbetaald gelaat is. Ten spyte van hierdie uitdagings het die regering ’n bykomende kwota aan die maatskappy toegeken as ’n buitengewone ingryping om die betaling van werkers se salarisse moontlik te maak.
“In die 2025-visvangseisoen, hoewel die maatskappy weer ’n volle kwota onder die Indiensnemingsherstelprogram vir dieselfde 225 werknemers toegeken is, het dit weer eens versuim om sy werkers vanaf Oktober te betaal.”
Die ministerie meen dit was ’n duidelike oortreding van die ooreenkoms.
“Gevolglik het die regering die kontrak met Walu Fishing gekanselleer en is tans besig om maatreëls te tref om die waarde van die kwota wat aan die maatskappy toegestaan is, te verhaal,” lui die verklaring.
Die ministerie het bygevoeg dat dit vir die huidige 2026-visvangseisoen geen ooreenkoms met Walu Fishing het nie.
“Die maatskappy kwalifiseer nie vir enige kwotatoekenning nie, en enige voorstel tot die teendeel is vals. Die ministerie is verder bekommerd dat die maatskappy na bewering werksgeleenthede aan die publiek geadverteer het ten spyte daarvan dat hulle geen kwota, geen visvangregte en geen aktiewe ooreenkoms met die regering het nie, terwyl individue na bewering sonder betaling tuis gehou word,” lui die verklaring.
“Die ministerie bly ten volle aanspreeklik en oop vir ondersoek. Besluite rakende die totale toelaatbare vangs en kwotatoekennings word gelei deur wetenskaplike raad, die wet op mariene hulpbronne en kabinetsbesluite, nie deur druk, dreigemente of waninligting nie.
“Die ministerie sal nie die volhoubaarheid van Namibië se mariene hulpbronne of die regte van wetsgehoorsame regtehouers in gevaar stel nie,” het die verklaring bygevoeg.
Die ministerie kon nie vir verdere kommentaar teen drktyd bereik word nie.
In reaksie op die ministerie se verklaring het Loch gesê die probleem wat hulle met die aangewese ooreenkoms het, is dat die kriteria wat die ministerie gebruik het, nie doeltreffend is om die mense te ondersteun wat dit veronderstel was om te help nie.
“Ek het twee lêers in my kantoor wat hulle moet hersien, maar hulle weier om dit te doen. Nou sê hulle ons het nie salarisse betaal nie. Ja, dit is waar, ons kon nie salarisse betaal nie omdat die kwota nie genoeg was nie,” het sy gesê.
“Wanneer dit by die ministerie kom, beskerm hulle hulself altyd. Van dag een af, toe ons die ooreenkoms onderteken het, het ek vir hulle gesê dat die kriteria wat hulle gebruik het, nie reg was nie. Ek het my bekommernisse geopper, maar dit was hul verantwoordelikheid, en hulle het in elk geval voortgegaan.
“Ek het dit aanvaar, ek het geen probleem gehad nie, maar nou voel dit asof hulle my wil vernietig,” het sy emosioneel gesê.
DIE WAARHEID
Loch voeg by: “Jy moet verstaan dat ek in 2018, 2019 en 2020 probeer het om die waarheid te praat en hulle het my vir drie jaar geblokkeer. Toe, in 2024, toe [voormalige visseryeminister] Derek Klazen daar was, het hulle die deur weer oopgemaak.
“Die ministerie is so: Wanneer jy die waarheid praat, hou hulle nie daarvan nie. Hulle wil nie hê die Namibiese mense moet weet wat werklik aangaan nie.”
Sy benadruk dat sy alles in haar vermoë gedoen het om hulle te laat luister, maar hulle het haar glo geïgnoreer.
“Wat anders kan ek doen? Ek gaan na sosiale media en praat direk met die Namibiese mense. Wat met my gebeur het, is nie uniek nie. Dieselfde ding het in 2023 met ander maatskappye gebeur en hulle is gered. Dit is duidelik dat die stelsel nie werk nie.”
Loch sê toe sy die ministerie vir dieselfde reddingsboei genader het, het sy vir hulle gesê die stelsel werk nie.
“En wat het hulle gedoen? Hulle het die reddingsboei aan Blue Sea gegee om werkers te betaal, maar nie aan my nie. Ek verstaan nie hoekom nie.
“Ek is ’n Namibiese burger, en tog, wanneer jy jou stem laat hoor, maak hulle jou stil. Jy skryf briewe, maar niks gebeur nie. Ek het alles gedoen wat ek kan. Iets moet gedoen word, maar hulle word kwaad as jy die waarheid praat,” het Loch bygevoeg.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie