CST Expo skop vandag af

Patricia van Rooi

Die Creative.Sport.Tourism (CST) Expo is amptelik aan die gang, met president Netumbo Nandi-Ndaitwah wat vandag om 16:00 die amptelike opening sal waarneem.

Die ekspo, wat sporttoernooie, uitstallings, slypskole en verhoogoptredes insluit, duur tot Vrydag by die Hage Geingob-rugbystadion.

Sporttoernooie skop vanoggend om 08:00 af, gevolg deur uitstallings om 14:00 met die hekke wat daagliks om 22:00 sluit.

Republikein se gewilde Bruidspaar van die Jaar-kompetisie bereik ’n finale hoogtepunt wanneer die wenpaartjie Donderdag om 19:00 aangewys word. Dit is ook by CST Expo waar Republikein se jongste tydskrif Trou haar elegante buiging maak met van die finaliste se persoonlike ervaring met die reëlings vir hul mooiste dag, wenke oor die keuse van ’n trourok wat die beste by jou pas tot ’n verbruikersgids vir verskaffers.

Meer as 80 uitstallers word verwag met kulturele aanbiedinge, slypskole, paneelbesprekings, sportgeleenthede en verhoogoptredes regdeur die ekspo.

Toegang beloop N$100 vir volwassenes en N$50 vir kinders en jongmense van ses tot 18 jaar. Toegang is gratis vir kinders onder ses en pensioenarisse. Die ekspo bied ook drie-dae-pakkette teen N$250 per volwassene en N$120 per kind aan.

Vrydag om 11:30 sal Mej. Heelal 1992 en die wêreldambassadeur vir Namibië, Michelle McLean, ’n werkswinkel lei oor ‘Van Namibië se natuurlike diamante tot liefde, toerisme en gemeenskapsimpak’ om 11:30.

Plaaslike en internasionale kunstenaars sal ook die verhoog betree, insluitend die Angolese kunstenaar Cleyton M, die Suid-Afrikaanse kunstenaar Justin Vaga en die Zambiese kunstenaar Mampi, saam met plaaslike sterre soos onder meer Gazza, Lioness en Big Ben.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-09-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer