||Khamuseb: Namibiërs moet groter sê hê
Die goewerneur van Otjozondjupa, John Julius ||Khamuseb, het ’n beroep op die regering gedoen om ’n beherende belang van 51% in die land se olie- en gasbedryf te hou.
Volgens hom moet Namibiërs ’n groter sê moet hê oor hulpbronne wat in hul naam ontwikkel word.
||Khamuseb was gister aan die woord tydens die derde konsultatiewe konferensie van die Nasionale Raad en streekrade op Otjiwarongo. Hy het afgevaardigdes aangemoedig om hul posisie in die nasionale wetgewende proses te gebruik om aandag te skenk aan wat hy beskryf het as leemtes in plaaslike eienaarskap van die land se natuurlike hulpbronne.
Volgens die goewerneur stem die inwoners van Otjozondjupa nie saam met ’n aandeel van 15% in olie en gas nie. Hy het gevolglik gevra dat die regering se deelname tot 51% verhoog word sodra eksplorasie- en verwerkingsprojekte die punt van gelykbreek bereik.
“Ons moet beweeg na ’n vlak van 51% vir die streek en 49% vir buitelanders,” het ||Khamuseb gesê.
Die oproep kom te midde van internasionale oliemaatskappye wat meerderheidsaandele in verskeie van Namibië se aflandige petroleum-eksplorasielisensies (PEL) besit.
In PEL 83, wat die Mopane-vonds insluit, besit TotalEnergies en Galp elk 40%, terwyl die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor) en Custos Energy elk 10% besit. TotalEnergies het sy verkryging van die bedryfsbelang van 40% in September voltooi.
PEL 56, wat die Venus-vonds insluit, word op soortgelyke wyse deur internasionale beleggers oorheers.
TotalEnergies en QatarEnergy besit elk 35,25%, gevolg deur Galp en Namcor met 10% elk en Impact Oil & Gas met 9,5%. Wat PEL 91 betref, besit TotalEnergies 33,09%, QatarEnergy 33,03%, Namcor 15%, Impact 9,5% en Galp 9,39%.
Nog ’n voorbeeld is PEL 104 in die Lüderitz-bekken.
Ingevolge die voorgestelde transaksie wat in Februarie aangekondig is, sou TotalEnergies en Petrobras elk ’n belang van 42,5% hê, met Namcor op 10% en Eight Offshore Investments Holdings op 5%. Die transaksie is steeds onderhewig aan die vereiste reguleringsproses.
Namcor is ten volle in staatsbesit en het ’n wetlike mandaat om petroleum-eksplorasie en -produksie te onderneem, hetsy onafhanklik of saam met bedryfsvennote.
||Khamuseb het vroeër gepleit vir ’n groter opbrengs uit die petroleumsektor vir die staat. Tydens streekkonsultasies oor die nasionale beleid vir plaaslike deelname in die upstream-petroleumsektor op Otjiwarongo verlede jaar, het hy gesê die staat moet minstens 30% van die winste van petroleumproduksie-maatskappye ontvang.
Hy het ook gevra vir ’n nasionale konferensie oor minerale hulpbronne om die toekenning van eksklusiewe ekplorasielisensies (EPL’s) te bespreek.
Sy jongste voorstel gaan verder as sy vroeëre pleidooi vir 30% en verskuif die fokus van ’n deel van die winste na meerderheidseienaarskap.
||Khamuseb wil ook hê dat lisensiehouers van EPL's permanente aandele van tussen 35% en 40% moet behou in maatskappye wat uiteindelik die minerale ontgin waarop daardie lisensies betrekking het.
Hy het aangevoer EPL’s wat aan Namibiërs toegeken word, nie bloot vir klein bedrae herverkoop moet word voordat die onderliggende hulpbronne ontwikkel word nie. Volgens ||Khamuseb moet die eienaarskapsreëlings hersien word as deel van breër hervormings in die mineralebedryf.
Die goewerneur het verder gepleit vir groter waardetoevoeging tot Namibië se minerale en gesê hulpbronne moet plaaslik verwerk word om werksgeleenthede te skep, eerder as om die land hoofsaaklik as grondstowwe te verlaat.
Die debat oor groter plaaslike eienaarskap is nie tot olie en gas beperk nie.
In 2025 het die regering gesê hy raadpleeg die mynboubedryf oor ’n strewe na eienaarskap van 51% in nuwe mynbou-ondernemings, alhoewel dit destyds nie ’n algemene wetlike vereiste was nie.
||Khamuseb het aan afgevaardigdes gesê olie- en mineraalrykdom moet gebruik word om mense uit armoede te lig. Hy het wetgewers aangemoedig om wetgewing wat die Nasionale Raad bereik, noukeurig te ondersoek sodat dit groter voordele vir Namibiërs inhou.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie