Brandstofooreenkoms ‘spaar staat N$1 miljard’
Die minister van myne, energie en nywerheidsontwikkeling, Modestus Amutse, sê die aanstelling van Vitol Bahrain E.C. as die enigste verskaffer van grootmaat-petroleumprodukte vir Namibië vir die tydperk Julie tot September 2026 sal die regering N$1 miljard oor drie maande bespaar.
In ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) het hy gesê die regering het aanbiedinge van vier maatskappye, insluitend internasionale maatskappye, ontvang voordat op Vitol besluit is.
“Deur hierdie reëling sal ons die regering N$1 miljard in drie maande bespaar – elke maand spaar ons meer as N$300 miljoen.
“My hoop is om ’n verskaffer te vind wat goedkoper brandstof aan die Namibiese bevolking kan voorsien om fondse aan ander ontwikkelingsprojekte beskikbaar te stel,” het Amutse gesê.
Volgens hom is Vitol nie ’n nuwe rolspeler in Namibië se voorsieningsketting vir brandstof nie.
“Die maatskappy verskaf nie vir die eerste keer Namibiese brandstof nie – hulle is al lank daar. Dit is nou eers dat hulle dit op ’n onderhandelde goedkoper model aanbied,” het Amutse gesê.
Hy sê die regering het sedert 28 Februarie meer as ’n miljard dollar aan brandstof bestee.
“Ons probeer bloot om aan die eise van ons land en sy mense te voldoen. Ek is gereed om vorentoe met die rolspelers in die bedryf saam te werk.”
VRAE OOR BEGUNSTIGDES
Die reëling het egter onder skoot gekom weens Vitol se bestaande sakeverhoudings binne Namibië se brandstofsektor.
Dokumente wat deur NMH onder oë gehad het, toon dat Vitol se voorsieningsnetwerk ses kopers insluit: Namcor, Nasan, Puma Energy, TotalEnergies, Vivo Energy en Validus Energy.
Validus Energy is 70% in besit van Vitol Holdings, terwyl die Namibiese sakeman Mathews Hamutenya, deur Millennium Investments, die oorblywende 30%-belang hou.
Hamutenya se seun, Miguel Hamutenya, was medestigter van Nasan Energies, wat gegroei het tot die land se derde grootste brandstofkleinhandelaar nadat hy 52 vulstasies verkry het.
Dié oorvleueling het vrae laat ontstaan oor of die regering se besluit beide pa en seun indirek deur Vitol se kommersiële verhoudings kan bevoordeel.
Amutse het voorstelle verwerp dat die regering betrokke is by óf Validus óf Nasan onder die nuwe reëling.
“Namcor, Vivo, Puma en Total is diegene wat deel vorm van ons reëlings. Nasan en Validus is nie deel van ons reëlings nie.
“Mense wil dinge deurmekaar maak, maar ons het nie met hulle te doen nie. As Vitol met hulle te doen het, is dit hulle saak,” het hy gesê.
Amutse het Vitol se bedrywighede in die plaaslike brandstofmark verder verdedig.
“Vitol verskaf al vir ses jaar brandstof. Dit het niks met ons te doen nie. Vitol kan verkoop aan wie hulle wil. Vitol verskaf aan maatskappye wat weer brandstof in Namibië verkoop, en dit het niks met die regering se reëling te doen nie,” het hy gesê.
“Ons bepaal nie watter sakeverhoudings hulle aangaan nie. Ons stel nie belang in wie wat besit nie,” het Amutse gesê.
ALLEENVERSKAFFER
Die minister het ook die besluit verdedig om die reëling tot drie maande te beperk.
“Ons het drie maande gekies om ’n monopolie te vermy. As dit ’n langdurige reëling was, kon dit ’n monopolie skep,” het Amutse gesê.
Die verduideliking kom ten spyte daarvan dat die regering Vitol eksklusiewe beheer oor Namibië se grootmaat-brandstofvoorraad gedurende die drie maande tydperk gegee het.
Onder Vitol se eie voorsieningstruktuur bly Validus Energy – waarin Vitol die meerderheidsaandeelhouer is – een van sy kopers.
Hamutenya, wat tussen 2010 en 2014 op Namcor se direksie gedien het, sal dus indirek voordeel uit sy minderheidsbelang in Validus trek, terwyl Vitol die land se grootmaat-brandstofinvoere beheer.
NOODREëLING
In ’n brief gedateer 21 Mei 2026 aan die uitvoerende hoof van die Namibiese Oliebedryfvereniging (NOIA), Harald Schmidt, het Amutse die reëling formeel aangekondig.
“Hierdie brief dien om u in te lig dat die regering noodreëlings getref het vir die grootmaatvoorsiening van petroleumprodukte, petrol en diesel, met Vitol vir die tydperk Julie tot September 2026.”
“Dit beteken dat Vitol die enigste verskaffer sal wees en die volle mandaat sal hê om Namibië se petroleumprodukbehoeftes oor daardie drie maande tydperk te voorsien,” het die minister geskryf.
NOIA-lede is opdrag gegee om onmiddellik bevestigde brandstofbehoeftes vir Julie in te dien, tesame met aanduidende vraagvoorspellings vir Augustus en September.
“Dit is om die verskaffer in staat te stel om die nodige toewysing vir die maand Julie 2026 se aflewering aan Walvisbaai, Namibië, teen BFP-vlak te maak,” het Amutse geskryf.
AGTERGROND
Die nuwe reëling kom teen die agtergrond van ’n vorige brandstofbergingsooreenkoms tussen Validus Energy en Namcor, wat regeringsamptenare na bewering as ’n “slegte kontrak” beskryf het wat private belange bevoordeel het.
In Januarie het NMH berig dat Validus ’n vyfjaarooreenkoms met Namcor gehad het om brandstof by dié staatsbeheerde Walvisbaai-bergingsgeriewe te stoor, wat bestaan uit sewe tenks met ’n gekombineerde kapasiteit van 75 miljoen liter.
Hamutenya se maatskappy het na bewering slegs vier sent per liter betaal – wat ’n maandelikse betaling van slegs N$1,8 miljoen aan Namcor verteenwoordig.
Dit is ’n tarief wat deur rolspelers as ver onder markwaarde beskou word en die staat na raming N$100 miljoen in potensiële inkomste oor die vyfjaartydperk gekos het.
Destyds het Namcor se voormalige waarnemende besturende direkteur, Maureen Hinda-Mbuende, gesê die afwesigheid van gepubliseerde tariewe het tot die langtermyn-onderwaardering van die geriewe bygedra.
“Om dit te takel, het Namcor ’n tussentydse kontrak van ses maande met Validus aangegaan.
“Dit is nie ’n verlenging van die vorige ooreenkoms nie, maar ’n tegniese reëling wat ons toelaat om ’n nuwe strategie te implementeer. Dit plaas ons in ’n posisie om te herstel en dit is ’n groot deurbraak vir die staatsmaatskappy,” het sy gesê.
Vanaf Februarie vanjaar het Namcor sy stoortariewe hersien na 17 sent per liter met Validus Energy, wat sy inkomste van ongeveer N$1,8 miljoen tot N$5 miljoen per maand verhoog het.
Hamutenya se ses maande lange tussentydse reëling verval in Julie 2026 – dieselfde maand wat Vitol se mandaat as alleenverskaffer begin.
In Maart 2026 het die Namibiese Mededingingskommissie (NCC) Nasan vir vyf jaar verbied om brandstof van Vitol te verkry.
“Vir ’n tydperk van vyf jaar vanaf die implementeringsdatum mag die verkrygende groep [Nasan] nie petroleumprodukte, hetsy direk of indirek, van Vitol koop, verkry, invoer of andersins verkry nie,” het die voorsitter van die kommissie, Andreas Ithindi, in ’n brief gedateer Maart vanjaar geskryf.
Nasan het teen dié besluit geappelleer, direk aan Amutse.
Vrae wat aan beide Namcor se uitvoerende hoof en sy direksie gestuur is, het onbeantwoord gebly. Mathews Hamutenya het ook nie op vrae gereageer wat aan hom gestuur is nie. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie