Xinfeng se trokke loop weer

Augetto Graig
Inwoners van Omaruru sal weer moet gewoond raak aan die gedreun van Xinfeng se trokke wat litiumerts dag en nag deur die dorp karwei.

Volgens inwoners staan die stof weer hoog bo die litiummyn net buite die dorp. Gisteroggend het een inwoner glo binne vyf minute nege van die groot wipwaens sien ry terwyl sy by die abattoir vir haar vleis staan en wag het.

Volgens Ernest Wetha, die Erongo-streekraadslid verantwoordelik vir die Dâures-kiesafdeling, is dit nie ’n nuwe verwikkeling nie, aangesien baie trokke, veral met kopervragte vanaf Zambië, heen en weer ry op pad na die hawe in Walvisbaai. Nogtans bring die onlangse bedrywigheid van Xinfeng se vragmotors ’n inspuiting vir die dorpie se ekonomie, met vulstasies en winkels wat baat by die vragmotorbestuurders se besigheid, sê hy.

Volgens hom het die omstrede Chinese litiummynbouer glo aan die minister van myne en energie geskryf om toestemming te kry om 100 000 ton litiumerts te mag uitvoer. Die prokureur-generaal het glo ingeweeg en, volgens Wetha, aanbeveel dat toestemming verleen mag word ten spyte van minister Tom Alweendo se weerstand.

Wetha het bygevoeg die erts mag gevolglik uitgevoer word vir kommersiële- en toetsdoeleindes. Die toetse word in China uitgevoer om uiteindelik ’n waardetoevoegingsaanleg wat bestem is vir Xinfeng se ander, nuwer litiummyn buite Uis, beter te kan ontwerp.

Volgens Wetha wil die Chinese mynmaatskappy teen Desember die aanleg daar voltooi.

Altesaam 62 drywers is vir twee weke aangestel om die vloot vragmotors te bestuur, het Wetha gesê.

Hy het gesê hy het self ingegryp om te sorg dat minstens tien van die tydelike aanstellings mense is wat in die omliggende gebied woon. Verder het hy saam met verteenwoordigers van die Mynwerkersunie van Namibië (MUN) en die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping onderhandel dat 37 algemene werkers se korttermynkontrakte tot Desember verleng word.

Die waarnemende uitvoerende direkteur van myne en energie ontken egter dat Xinfeng enige erts mag uitvoer. “Die ministerie het nie die uitvoer van litium deur Xinfeng goedgekeur nie,” het die ministerie op navraag gesê.

In Namibië is ’n nasionale verbod op die uitvoer van onverwerkte erts van sekere minerale, insluitend litium, in Junie vanjaar ingestel.

Dit volg nadat Alweendo die kabinet genader het om die verbod in plek te stel. Alweendo is ook die hoofrespondent in ’n hoërhofsaak waarmee Xinfeng sy besluit om die maatskappy se Omaruru-mynlisensie te herroep, wil laat omkeer. Die hofsaak voor regter Ramon Maasdorp het gister vir voorverhoorverrigtinge voortgegaan.

Vrae wat aan Xinfeng en sy prokureur, Nambili Mhata, gerig is oor die inhoud van die vragmotors en die verwikkelinge by die myne, asook hul vordering met die waardetoevoegingsaanleg, het teen druktyd onbeantwoord gebly.

Verdere vrae aan die ministerie van myne en energie is ook nie teen druktyd beantwoord nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer