Arne Jacobsen van Northern Ocean, eienaars van die Deepsea Mira, sê langtermyn kontrakte is nodig om die olieboor langer in Namibiese waters te hou, en opleiding van Namibiese bemanning toe te laat.
Foto Augetto Graig
Arne Jacobsen van Northern Ocean, eienaars van die Deepsea Mira, sê langtermyn kontrakte is nodig om die olieboor langer in Namibiese waters te hou, en opleiding van Namibiese bemanning toe te laat. Foto Augetto Graig

Versnelling van Namibiese olie- en gasdeelname

Beleid oor plaaslike inhoud voltooi voor einde van vanjaar
Dis nou die tyd vir Namibië om doelgerig in terme van plaaslike deelname te wees, sê Carlo McLeod.
Augetto Graig
Die onlangse derde Namibië olie- en gaskonferensie in die hoofstad het praktiese insigte en bewyse van vordering in die nastrewing van plaaslike deelname aan die ontluikende olie- en gasbedryf gebied.

Die tweede in bevel van die Upstream-petroleumeenheid in die kantoor van die president, Carlo McLeod, het tydens ’n paneelbespreking bevestig die kabinet het reeds in beginsel die beleid oor plaaslike inhoud vir die olie- en gasbedryf goedgekeur.

“Die finale rondes van konsultasie sal in die eerste of tweede week van September gehou word. Daarna sal ons die insette insluit en ons wil voor die einde van die jaar, hopelik in die komende twee tot drie maande, die finale kabinetsgoedkeuring kry en dit in die Staatskoerant laat publiseer,” het hy gesê.

Met verwysing na die tema van vanjaar se konferensie “Van eksplorasie tot aksie: Posisionering van Namibië as die volgende energiegrens”, sê McLeod dit is nou die tyd vir Namibië om doelgerig in terme van plaaslike deelname te wees.

“Dis tyd dat ons die energie toepas om die dokument te finaliseer,” sê hy.

Dr. Abdulmalik Kalilu van Nigerië se raad vir inhoudsontwikkeling en -monitering vir die olie- en gasbedryf, sê dat wetgewing in dié land waardetoevoeging sonder gehaltevermindering op betrokke plaaslike besighede afdwing. Nigerië het die ontwikkeling van sy olie- en gasbedryf gebruik om vervaardiging te bevorder en te ontwikkel, beklemtoon hy.

Die plaaslike vervaardiging van alle soorte kabels in Nigerië is, volgens hom, 'n direkte gevolg van die belegging van olie-inkomste in plaaslike vervaardigingsvermoëns.

Die voorsitter van die Ekonomiese Vereniging van Namibië (EAN), Jason Kasuto, het gesê ’n onlangse opname het getoon sowat 45% van die vaardighede wat in Namibië benodig word, redelik maklik opgegradeer kan word.

Hy sê egter gapings sal steeds moeiliker wees om te vul in poste soos die vervaardiging van chemikalieë, olie- en gasinstandhouding, boor- en duiklisensies as gevolg van die leemte in plaaslike opleiding en sertifisering.

Sertifisering is ook noodsaaklik vir toegang tot oliemaatskappye se verkryging, voeg hy by.

Theo Ahwireng, die voormalige hoof van Ghana se petroleumkommissie, sê plaaslike maatskappye benodig vennootskappe met ervare spelers, en dat finansiële en tegniese ondersteuning van die regering ook nodig is.

Die voorsitter van die vereniging van petroleumtegnologie van Nigerië, Wole Ogunsanya, sê sy regering identifiseer plaaslike maatskappye in kritieke bedrywe en help hulle doelbewus met belegging en voorkeur om te groei.

Nigerië het dienste geskei om kleiner plaaslike maatskappye makliker toegang tot olie- en gasprojekte te gee. Finansiering laat ook besighede sonder die nodige toerusting of masjinerie toe om steeds vir kontrakte mee te ding.

“Die regering het ’n verantwoordelikheid om te verseker dat die dienstesektor groei,” sê hy.

Namens die olieboor-eienaar Northern Ocean, wat die Deepsea Mira ontplooi het om die Volans-1X-boorgat te boor, het Arne Jacobsen gepleit vir langertermynkontrakte. Negentig Namibiërs vorm deel van Deepsea Mira se bemanning.

Om hulle op te lei is egter ’n langtermynbelegging en “dis moeilik om in menslike hulpbronne te belê as jy nie weet of daardie mense in die toekoms nog by jou gaan wees nie,” sê hy.

Volgens hom word plaaslike bemanning op oliebore gewoonlik aangestel waar hulle ook al gaan boor en daarom gaan vordering verlore wanneer Namibiese waters verlaat word, nadat korttermynkontrakte verstryk het.

Hy moedig samewerking tussen olie-ontdekkingsmaatskappye aan om olieplatforms langer in Namibiese waters te laat werk, soos Rhino Resources en BW Kudu se ooreenkoms om die Deepsea Mira volgende op die Kudu-gasvelde te laat ontplooi.

Belastingaansporings kan plaaslike besighede bemagtig, sê hy, en dat die regering moet oorweeg om die retensie van lisensies aan boorwerk te koppel.

“Julle benodig ’n sterk Namcor wat ook self kan laat boor,” sê hy.

Luís Lago de Carvalho van Octomar in Angola stem saam en sê langtermynkontrakte is ook noodsaaklik vir plaaslike besighede.

Jacobsen dring ook daarop aan dat die ontwikkeling van hawe-infrastruktuur geprioritiseer moet word om groter vaartuie plaaslik te kan akkommodeer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer