Uraankernmonsters verwyder

Augetto Graig

Uraankernmonsters van boorwerk wat in vraghouers op ’n plaas sowat 40 km buite Rehoboth gestoor is, is onlangs verwyder. 

Die houers het maande lank oop en sonder toesig gestaan nadat die slotte afgeknip is, met slegs besoeke nou en dan wanneer monsters op bakkies gelaai en via agterpaaie weggery is.

Kirill Egorov-Kirillov, direkteur vir mynprojekte by die Uranium One-groep en besturende direkteur van sy Namibiese filiaal, Headspring Investments, het by navraag van Republikein erken dat die monsters aan hulle behoort. 

Hy het verduidelik dat, nadat hulle omstreeks 2019 ’n lisensie vir hul eerste boorveldtog gekry het, 20 tot 30 boorgate by Headspring se eksperimentele bedrywighede naby Stampriet geboor is; dele van die kernmonsters is afgesny en vir laboratoriumtoetse gestuur. 

Die res van die kernmonsters is in die vraghouers gestoor, wat hy as “leë kerns” en oorblywende rots beskryf.

Die monsters is nou na Uranium One se voltooide stoorgeriewe op die plaas Tripoli, sowat 15 km buite Leonardville, verskuif. Al bestaan die stoorgeriewe ook uit skeepshouers, word hulle deur ’n spesiale heining omring en veilig gehou, benadruk hy.

“Toe die aanvanklike eksplorasieseisoen klaar was, moes ons die monsters stoor en ons het ’n ooreenkoms met die eienaar van mynlisensie (ML) 162 gemaak. Toe die (inwonende) boer bel om te sê hy het die vraghouers oopgemaak gevind, het ons die kerns na ons eie stoorplek verwyder,” het hy gesê.

Navrae aan die Owerheid vir Atoomenergie en Bestralingsbeskerming (NRPA) het egter bevestig dat “enigiets wat binne die definisie van radioaktief val, binne ons mandaat is om te reguleer, insluitend ertsmonsters wat bevind word om aan die drempelkriteria vir radioaktiewe materiaal te voldoen.” 

Hierdie gereguleerde aktiwiteite sluit onder meer die hantering, berging en vervoer in, het die direkteur van NRPA, Axel Tibinyane, bevestig.

“Ons het geen rekord van enige magtiging vir die berging van monsters op hierdie spesifieke terrein nie,” het hy gesê en bevestig dat geen magtiging uitgereik is om die monsters op die plaas te stoor nie. 

Die owerheid, wat onder die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste val, is ook nie van die oordrag elders in kennis gestel nie.

“Die ertsmonsters wat ons gewoonlik teëkom en waarvoor hantering of berging gemagtig word, het lae radioaktiwiteit en aktiwiteitskonsentrasie met lae radiologiese risiko’s. 

“Dit verminder egter nie die noodsaaklikheid van regulatoriese nakoming en die behoorlike bestuur daarvan nie,” het Tibinyane uitgebrei.

“Die korrekte prosedure is dat die eienaar aansoek doen en ons magtiging vir die berging van die monsters verkry. Dit behels dat hierdie owerheid ’n aansoek en ’n bestralingsbestuursplan ontvang wat berging insluit, wat ons dan evalueer. 

“Aangesien dit nou onder ons aandag gekom het, sal ons hulle vra om te verduidelik en vir ons ’n verslag hieroor te gee voordat ons die volgende stappe bepaal,” het Tibinyane gesê.

Uranium One se filiaal Headspring Investments en sy Wings-projek in die Omahekestreek is al jare lank ’n bron van twis. Die projek behels in situ-loging om die uraan naby Leonardville te herwin. 

Hierdie mynproses behels dat ’n vloeibare oplossing ondergronds ingepomp word om uraan direk uit die ertsliggaam op te los en dat die gevolglike uraanryke vloeistof dan via produksieputte terug na die oppervlak onttrek word.

Onder andere het die Vereniging vir Uraanmynbou in die Stampriet-akwifer (Sauma) die ontwikkeling in die oorgrens- Stampriet artetiese kom en binne ’n wetlik vasgelegde waterbeskermingsgebied sterk teengestaan. 

Die kom voorsien die enigste drinkwater vir tot 100 000 mense en hul diere in Namibië en strek tot in die buurlande Botswana en Suid-Afrika.

Die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) het na bewering ’n tegniese veiligheidsbeoordeling voltooi en dit aan die Namibiese regering voorgelê, maar die verslag is nie openbaar gemaak nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer