Transaksie tussen Vivo, Engen dra glo gevolge

Vulstasie-eienaars ‘ly onder nuwe heffings’
Die Namibiese Mededingingskommissie versoek inligting, maar erken nie vorige klagtes nie.
Augetto Graig
Die gevolge van die Vivo-Engen-samesmelting benadeel na bewering Namibiese werknemers en topbestuur wat voorheen vir Engen gewerk het en plaas druk op Namibiese eienaars van vulstasies wat deur Vivo oorgeneem is.

Dit is ten spyte van voorwaardes wat die Namibiese Mededingingskommissie (NaCC) aan die samesmelting opgelê het toe die kommissie die transaksie in November 2023 goedgekeur het.

In die kennisgewing, wat in Staatskoerant no. 8274 van 12 Desember 2023 gepubliseer is, het die NaCC uitdruklik bepaal dat Vito Emerald Bidco, 40%-eienaars van Vivo Energy in Namibië, slegs met die samesmelting mag voortgaan indien die nuwe entiteit aan spesifieke voorwaardes voldoen. Onder meer mag geen samesmeltingsverwante afleggings vir twee jaar ná die transaksie plaasvind nie.

Nog ’n vereiste was dat Vivo altesaam 58 van die vulstasies wat oorgekoop is, binne ’n aanvanklike tydperk van een jaar, of die daaropvolgende tweede tydperk vir ses maande, aan Namibiese eienaars moet verkoop. Hierdie vereiste is steeds nie nagekom nie.

Volgens die NaCC se woordvoerder, Dina //Gowases, is die proses steeds aan die gang en die kommissie monitor ontwikkelings in die mark noukeurig.

Die vereistes het ook uiteengesit dat vulstasie-eienaars nie finansieel as gevolg van die samesmelting moet ly nie.

“Die kommissie het geen inligting tot die teendeel ontvang nie en doen dus ’n beroep op die publiek om enige inligting rakende die oortreding van die Mededingingswet te bekom, sodat ’n ondersoek van stapel gestuur kan word,” het //Gowases verlede week op ’n verwante navraag gereageer.

Dit is ten spyte van ’n brief in NMH se besit, waarin Vitalis Ndalikokule, die uitvoerende hoof van die NaCC, op 10 Julie ’n spesifieke klagte uiteengesit het wat vanaf ’n betrokke vulstasie-eienaar ontvang is.

Die klagte is reeds in April by Bradley Khoa, die senior regsontleder vir samesmeltings en verkrygings by die kommissie, ingedien en behels ontevredenheid met Vivo se afdwinging van nuwe heffings en voorwaardes wat van toepassing op vulstasies is.

Vivo het die kontraktermyn met vulstasies eensydig van vyf jaar tot drie jaar verkort, die huur van die vulstasie se infrastruktuur waar die petrol getap word, verhoog en nuwe huurgelde gehef, volgens die klagte.

Vivo se nuwe heffing op die hoeveelheid brandstof wat getap word, sluit 8% van die wettige winsmarge in en dra by tot ’n verhoging van tot 296% op die huur van die vulstasie se infrastruktuur waar die petrol getap word, wat eienaars voorheen aan Engen betaal het. Bykomende huurgeld vir die perseel word ook nou toegepas, wat tussen N$20 000 en N$30 000 per maand kan beloop.

Ontevrede vulstasie-eienaars benadruk dat Vivo tans die absolute meerderheid van die vulstasies oraloor Namibië besit.

“Hulle verskaf aan al die vorige Engen-persele terwyl hulle nie veel hoef te belê in die persele wat verkoop is nie.

“Vivo sloer doelbewus hul voete om die verkoop [van vulstasies] af te handel, spesifiek om hierdie rede,” het een eienaar op voorwaarde van anonimiteit gesê.

NMH het ook geskrewe bewyse van Namibiese maatskappye wat vulstasies wil koop en aan Vivo geskryf het om die vertraging te bevraagteken.

Voormalige Engen-werknemers ly glo ook daaronder, met een van die min ervare vroue-voorsieningsbestuurders in die plaaslike bedryf, wat glo afgegradeer is om plek te maak vir ’n buitelandse aanstelling. Buitelanders beklee na bewering nou al Vivo se top-3-bestuursposisies.

Die klagte, tesame met bewerings van rassisme en dat onbevoegde buitelanders voorkeur bo Namibiërs geniet, is na bewering skriftelik by die NaCC aangemeld.

Toe //Gowases spesifiek gevra is, het sy geantwoord: “Die kommissie moedig die publiek aan om beweerde oortredings van die voorwaardes vir ondersoek aan te meld.”

Vrae wat aan Vivo gestuur is, was teen druktyd nog nie beantwoord nie.

Meer as ’n week se pogings het uiteindelik ’n belofte van Vivo se woordvoerder, Lazarus Nafidi, opgelewer vir ’n reaksie teen die einde van die werksdag op Dinsdag 29 Julie. Dié belofte is egter ook nie nagekom nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer