Olieraffinadery van N$30 miljard beplan vir Swakopmund
Tot een miljoen vate ru-olie per dag verwerk
'n Voorgestelde ru-olieraffinadery van N$30 miljard buite Swakopmund laat vrae ontstaan oor grondgebruik, watervraag en toekomstige pypleidingroetes ná openbare konsultasie verlede Donderdag.
Die raffinadery, voorgestel deur Oasis Oil Refinery (Pty) Ltd, sal tussen 100 en 250 hektaar oop munisipale grond tussen die Swakoprivier-erwe en die spoorlyn beslaan.
Togreen Consulting, verteenwoordig deur Abraham Kanime, het die projek aangebied en bevestig dat 'n volledige omgewingsimpakstudie (EIA) vereis word. Kanime het gesê die aanleg is ontwerp om 600 000 tot een miljoen vate ru-olie per dag te verwerk. Die aanbieding het verklaar dat dit 'n privaatsektor-inisiatief is wat buitelandse vennote betrek met regeringsbelang verteenwoordig deur Namcor.
Die raffinadery se waterbehoefte het die sterkste reaksie uitgelok. Die EIA verklaar dat die aanleg 'n hoë industriële watervraag-onderneming is wat water benodig vir verkoeling, stoom en verwerking. Tydens die vergadering is gesê dat dit gelykstaande kan wees aan ongeveer 4 200 liter water per vat, 'n syfer wat die aanwesiges as "onrealisties" beskryf het. Die EIA bevestig dat 'n seewaterpyplyn benodig sal word om rou water aan die terrein te verskaf, met ontsouting- en pekelwaterverwyderingstelsels op die perseel. Verskeie belanghebbendes het aangevoer dat teen 'n deurset van 600 000 tot een miljoen vate per dag, die benodigde volumes so groot sal wees dat "NamWater net sowel verskeie massiewe ontsoutingsaanlegte kan bou" om die bedrywighede te onderhou.
Die EIA dui aan dat die raffinadery huishoudelike, industriële en gevaarlike afval sal genereer, insluitend olierige reste, slyk, gebruikte katalisators, besoedelde grond en chemiese houers. Uitvloeiselbehandelingsaanlegte, oliewater-skeidingseenhede en afvalstelsels sal gebou word. Grootmaat-opgaartenks vir ru-olie, geraffineerde produkte en chemikalieë soos benseen en swael vorm ook deel van die voorstel.
Alhoewel die grond gesoneer is vir toekomstige swaar nywerheid, bly dit onontwikkeld. Die EIA verklaar dat die voetspoor openbare munisipale grond in 'n groot nywerheidsone sal omskep en gelyste aktiwiteite sal aktiveer wat verband hou met hersonering, onderverdeling en uitleggoedkeurings. Terwyl aansoek vir 250 hektaar gedoen is, is die werklike beskikbare grond kleiner en sal dit eers na opmeting bevestig word.
PYPLYN VAN 40 KM
'n Afsonderlike pyplyn van 40 km word beplan om die raffinadery met die hawe van Walvisbaai te verbind. Kanime het gesê hierdie pyplyn is 'n aparte saak. “'n Afsonderlike EIA sal uitgevoer word vir die 40 km lange grootmaat- en multiprodukte-toevoerpyplyn tussen die projekterrein en die hawe van Walvisbaai,” het hy gesê. Inwoners het bevraagteken hoe so 'n pyplyn deur die omliggende eiendomme en terrein gelei sou word.
Kanime het gesê Swakopmund is hoofsaaklik gekies omdat die terrein binne 'n aangewese swaarnywerheidsone lê met direkte toegang tot gevestigde pad- en spoorverbindings, naby die Walvisbaai-hawe geleë is en onmiddellike kustoegang vir seewateronttrekking het.
“Namibië se kusposisie plaas dit op 'n strategiese punt in die streek se brandstofvoorsieningsketting, veral vir ingeslote lande in die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) wat staatmaak op Walvisbaai se droëhawe-reëlings,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat 'n raffinadery op hierdie plek ooreenstem met nasionale nywerheidsdoelwitte onder Visie 2030 en die Harambee-welvaartsplan, terwyl dit voordeel trek uit munisipale grond wat reeds vir grootskaalse nywerheidsontwikkeling geoormerk is.
DANGOTE
Ten spyte van die omvang van die voorstel, het slegs 'n klein groepie die konsultasievergadering bygewoon. Sowat 'n maand gelede het die kabinet 'n voorstel deur Nigerië se Dangote Petroleum Refinery goedgekeur om 'n groot brandstofbergingsfasiliteit in Namibië te bou – 'n ooreenkoms wat kommer by energiesektor-tegnokrate ontlok het oor 'n voorgestelde 99-jaar huurkontrak en eksklusiewe regte op 'n aanlêplek wat tans deur Namcor bestuur word. Die beplande fasiliteit sal ten minste 1,6 miljoen vate petrol en diesel vir streekverspreiding berg.
Vroeër vanjaar het Dangote 'n hoflikheidsbesoek aan president Netumbo Nandi-Ndaitwah gebring, wat die belangrikheid van waardetoevoeging en privaatsektor-gedrewe nywerheidsontwikkeling beklemtoon het. Dangote het hom sedertdien daartoe verbind om in Namibië te belê, met planne vir 'n olieterminaal in Walvisbaai om Namibië, Botswana, Zambië, Zimbabwe en moontlik die Demorkatiese Republiek die Kongo (DRK) te voorsien.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie