FOTO ter illustrasie/ARGIEF
FOTO ter illustrasie/ARGIEF

Olie en gas: Vakuum bedreig vrede

Bedryf gekenmerk deur korrupsie
Die oorhoofse doelwit moet wees om Namibië se olie- en gassektor te posisioneer as 'n nasionale bate wat alle inwoners, beide huidige en toekomstige geslagte, bevoordeel.
Nikanor Nangolo
Sonder ’n omvattende wetlike raamwerk en sterk beleidsrigtings in die olie- en gasbedryf, loop Namibië die gevaar om sy vrede en sekuriteit te ondermyn.

Swapo se parlementslid, Tobie Aupindi, het Maandag dié kommer uitgespreek tydens ’n bespreking van die begroting vir die kantoor van die president in die Nasionale Vergadering (NV).

Hoewel Aupindi lof gehad het vir president Netumbo Nandi-Ndaitwah wat die bedryf na haar kantoor verskuif het, wou hy weet hoe die regering die begroting vir net 11 poste regverdig, terwyl die struktuur vir 52 voorsiening maak.

“Vanjaar se begroting maak voorsiening vir net 11 personeellede en geen ander bedryfs- of projekfinansiering nie,” het Aupindi gesê.

“Terwyl ek die president gelukwens dat sy direkte beheer van hierdie strategiese sektor oorgeneem het, moet ons ook ’n bekwame, goed gefinansierde span bou in ooreenstemming met die ambisie wat in die motivering vir die beleid uiteengesit is.

“Dit sluit die herstrukturering van salarisvlakke en die administratiewe raamwerk in, veral namate ons van eksplorasie na werklike produksie beweeg soos Total en ander rolspelers aan boord kom.

“As ons dit nie doen nie, staar ons die risiko in die gesig om ons beste talent in geowetenskappe en tegnologie aan beter gefinansierde entiteite te verloor,” het Aupindi gemaan.

Volgens hom sluit die afdeling sleutelverantwoordelikhede in, soos die insameling van geofisiese data, die monitering van die omgewing en die nakoming van regulasies, wat alles gesofistikeerde toerusting en kundiges vereis.

Die afdeling is nou apart van groen industrialisasie en ander energieverwante funksies wat onder die ministerie van myne en energie val.

“Terwyl die afdeling nou onder die presidensie val, bly die bedryfstruktuur en uitvoering noodsaaklik. Ek glo nie die president wil persoonlik die tegniese raadgewende komitees of daaglikse werksaamhede lei nie.

“Ons wag dus op duidelikheid oor hoe die operasionele leierskap gestruktureer gaan word,” het Aupindi gesê.

Hy het beklemtoon die oorhoofse doelwit moet wees om Namibië se olie- en gassektor te posisioneer as ’n nasionale bate wat alle burgers, beide nou en toekomstige geslagte, bevoordeel.

“Tog, ten spyte van hierdie voorneme, sien ons ’n wetlike en beleidsvakuum wat voortduur. Hierdie leemtes moet dringend getakel word.

“Sonder ’n omvattende wetlike raamwerk en sterk beleidsriglyne loop ons die risiko om die vrede en sekuriteit van hierdie land te ontwrig,” het Aupindi gewaarsku.

Hy het ook ’n beroep op die regering gedoen om die begroting vir personeelposte binne sy organisasiestruktuur duidelik te maak.

“Teen hierdie agtergrond, hoe regverdig ons die begroting van net 11 poste wanneer die struktuur voorsiening maak vir 52? Gebaseer op my ondervinding kan selfs 52 onvoldoende wees,” het hy gewaarsku.

“Ek versoek dus dringend dat bykomende fondse tydens die middeltermynoorsig aan hierdie afdeling toegeken word om te verseker dat dit behoorlik en voldoende toegerus is.

“Indien dit nie is nie, gaan multinasionale maatskappy veral in die oliebedryf, diegene wees wat oorheers en die pas aangee. Dis ’n gevaarlike presedent,” het Aupindi gesê.

Hy het ook verwys na beweerde opmerkings deur die president van Total, wat glo gesê het Namibië is nie lewensvatbaar vir ’n raffinadery nie.

“Dis onaanvaarbaar. Die president van Total bepaal nie Namibië se energiebeleid nie.

Aupindi het verduidelik dat raffinaderye verskil in kapasiteit en doel.

“Om dit in konteks te plaas, het Houston alleen tien raffinaderye wat daagliks 2,6 miljoen vate ru-olie verwerk. Om dus voor te stel dat ’n raffinadery in Namibië nie lewensvatbaar is nie, is eenvoudig misleidend.”



PDM

Die leier van die Popular Democratic Movement (PDM), McHenry Venaani, het op sy beurt ook kommer uitgespreek oor hoe die presidensie beoog om die sektor te bestuur.

Hy het gewaarsku dat die oliebedryf se wêreldwye reputasie vir korrupsie groter deursigtigheid regverdig.

“Die president wil die kwessie van olie en gas takel, wat ’n hoogs ingewikkelde en uitdagende sektor is. Dit is benewens die feit dat die oliebedryf, uit die aard daarvan, dikwels met korrupsie geassosieer word,” het Venaani gesê.

“Noudat die kantoor van die president olie en gas direk gaan bestuur, wil ek regtig weet ‘wat presies beplan hierdie departement om onder die president se kantoor te doen?’

“Gaan transaksies direk met die president aangegaan word? Wie gaan besluit hoe en deur wie beleggings gemaak gaan word? Ons benodig duidelike antwoorde oor hoe die saak hanteer gaan word,” het Venaani beklemtoon.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer