Ohorongo en Cheetah se samesmelting kry groen lig
Namibië se twee toonaangewende sementvervaardigers het goedkeuring verkry om saam te smelt.
Dit volg Staatskoerant no. 8965 wat op 1 Julie 2026 gepubliseer is, waarin die minister van myne, energie en nywerheidsontwikkeling, Modestus Amutse, ’n verbod op die transaksie – wat verlede jaar deur die Namibiese Mededingingskommissie (NaCC) ingestel is – omgekeer het.
Die handelsmerke Ohorongo Cement en Cheetah Cement oorheers die vervaardiging en verskaffing van sement in Namibië. Ohorongo het ’n baanbrekersrol in die vervaardiging van sement in Namibië gespeel met die eerste produksie in Desember 2010 by sy ultramoderne aanleg op Otavi, wat bykans N$3 miljard gekos het.
Benewens belange van 11,73% wat deur die Ontwikkelingsbank van Namibië gehou word, 4,17% deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en 14,28% deur die Nywerheidsontwikklingskorporasie van Suid-Afrika, is Ohorongo Cement hoofsaaklik in besit van die moedermaatskappy Schwerk Zement in Duitsland – ’n familieonderneming onder beheer van die Schleicher- en Hirth-familie.
Cheetah se sement word by Whale Rock Cement se aanleg van N$5,7 miljard buite Otjiwarongo vervaardig, wat in April 2018 sy deure geopen het.
Gedurende NaCC-hofverrigtinge in 2024 het dit aan die lig gekom dat die uitvoerende hoof van Whale Rock Cement, Zedekias Gowaseb, 10% in dié maatskappy besit, terwyl die Chinese burgers Fan Qinhmei en Wang Zhongke, asook Hong Xiang Holdings (HXH), die res en die beherende belang besit.
Verlede jaar het die NaCC bevind die samesmelting sou op ’n verskuiwing van ’n duopolie na ’n monopolie in plaaslike sementproduksie neerkom.
“Dit sou waarskynlik mededinging aansienlik belemmer en kon lei tot hoër pryse, verminderde produksie en gehalte, asook ’n beperkte keuse vir kliënte verder in die waardeketting,” lui die NaCC se bevinding van 17 Februarie 2025.
Volgens die minister geniet die partye wat saamsmelt egter nie beskerming vir ontluikende nywerhede ten opsigte van die beweerde dominante posisie nie, en gevolglik word die invoer van sement na die Namibiese mark nie beperk nie.
“Met die oog daarop om ’n monopolie te voorkom, is een van die voorwaardes wat ek aan die samesmelting gekoppel het, dat die Mededingingskommissie moet voortgaan om die samesmelting te monitor en, indien nodig, ondersoeke moet instel om te bepaal of die samesmelting ’n monopolie skep,” het die minister gesê.
Amutse het ook gestipuleer dat die samesmelting nie tot enige werksverliese moet lei nie en dat die “Cheetah Cement-aanleg nie as gevolg van die samesmelting vernietig moet word nie, maar eerder (dat) opsies ondersoek moet word om sy voortbestaan en transformasie tot ’n produktiewe fasiliteit te verseker met die kapasiteit om Namibiërs in diens te neem”.
Die minister het ook gesê dat die partye wat saamsmelt, plaaslike eienaarskap tot nie minder nie as 40% moet verhoog.
“Ons as Whale Rock is verheug oor die minister se besluit. Ons glo dit sal die land se sementbedryf konsolideer deur middel van een ten volle operasionele aanleg.
“Die stap sal die poste van die twee entiteite se werknemers beskerm, met die moontlikheid dat verdere werksgeleenthede geskep kan word. Planne om personeel af te dank, is nou gestaak en die MUN [Mynwerkersunie van Namibië] is dienooreenkomstig in kennis gestel.
“Besonderhede oor hoe die samesmelting uitgevoer sal word, sal mettertyd bekend gemaak word,” het Whale Rock se woordvoerder, Tabby Moyo, gesê.
Hy het gesê Whale Rock sal besluit hoe om die huidige sementaanleg by Otjiwarongo vir ’n ander doel aan te wend.
“Dit was nog altyd die plan.”
Moyo het bygevoeg: “Namibië se sementmark sal voldoende deur een aanleg bedien word. Dit is ’n voorwaardelike samesmelting, wat beteken dat die partye moet voldoen aan die voorwaardes wat deur die minister uiteengesit is.”
Ohorongo Cement se uitvoerende hoof en besturende direkteur, Hans-Wilhelm Schütte, het gesê die besluit om met die samesmelting voort te gaan, hang nou van die aandeelhouers af en dat die transaksie drie tot ses maande kan neem om te finaliseer.
“Wat belangrik is, is dat Namibiërs in diens geneem word. Ons is baie trots daarop dat meer as 97% van ons werknemers Namibiërs is,” het hy gesê.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie