Die Nasionale Oliebergingsgeriewe in Walvisbaai wat namens die ministerie van myne en energie bedryf word. FOTO ARGIEF
Die Nasionale Oliebergingsgeriewe in Walvisbaai wat namens die ministerie van myne en energie bedryf word. FOTO ARGIEF

Namcor-stoorgeriewe bly in rooi

'Nog nooit enige wins getoon'
Die hoop is op hersiene tariewe wat tot verbeterde finansiële prestasie van die geriewe sal lei.
Nikanor Nangolo
Namcor sê sy tariewe vir die gebruik van sy pypleiding- en stoorgeriewe by die Nasionale Oliebergingsgeriewe (NOSF) op Walvisbaai, wat namens die ministerie van myne en energie bedryf word, is te laag om gelyk te breek, met wins wat nie eens ’n faktor is nie.

Sedert die NOSF se inbedryfstelling in Februarie 2021 het dié multimiljarddollar-geriewe nog nooit enige wins getoon nie. Konstruksie het in Januarie 2015 begin en bestaan uit ’n tenkwa-kaai, verskeie produkpypleidings en ’n terminaal met ’n gekombineerde bergingskapasiteit van 75 miljoen liter petroleumprodukte.

Die aanvanklike voorraad by inbedryfstelling het ingesluit 37 miljoen liter diesel, 21 miljoen liter loodvrye petrol en vyf miljoen liter baie lae swael-brandstofolie.

Ten spyte van hierdie moderne bergingsvermoëns, sê Namcor te lae markkoerse het die geriewe in die rooi gehou.

Namcor se woordvoerder, Utaara Hoveka, het aan Network Media Hub (NMH) gesê die maatskappy en die ministerie van myne en energie het die tariefstruktuur hersien vir publikasie in die Staatskoerant.

“Dit beteken toekomstige ooreenkomste sal gebaseer wees op hierdie hersiene tariewe, wat ons verwag tot verbeterde finansiële prestasie van die geriewe sal lei,” het hy gesê.

Namcor wou egter nie kommentaar lewer oor die kontrak wat die bestuur van die geriewe beheer nie, en het gesê dit sou nie verstandig wees om die inhoud daarvan bekend te maak nie.

Volgens ’n mynbou- en energieverslag werk die geriewe nog nie teen volle kapasiteit nie. Namcor verwag egter verbeterde prestasie sodra die ou kaai buite werking gestel word en die aflaai van alle brandstof na die NOSF-kaai verskuif, wat voor die einde van 2025 geskeduleer is.

Die maatskappy se uitdagings strek verder as NOSF. Namcor het ’n netto verlies van N$1,3 miljard vir die 2022-’23-boekjaar aangeteken, hoofsaaklik gedryf deur sy filiaal handel en verspreiding. Die verliese het voortgespruit uit hoëvolume-transaksies deur Namcor Trading wat nie voldoende marges opgelewer het nie.

Terwyl inkomste van N$610 miljoen in 2017-’18 tot N$7,4 miljard in 2022-’23 gestyg het, het die koste van verkope tot N$7,5 miljard toegeneem, wat die winste uitgewis het. Bestuursmislukkings, swak interne beheermaatreëls, voorraadverliese en ongemagtigde kredietverlengings is as belangrike redes uitgesonder.

Van vroeg in 2022 tot middel 2023 het die handelseenheid brandstofvolumes verkry wat die vraag in die mark oorskry het. Dit het Namcor aan wisselvalligheid van pryse blootgestel en sy skuld teen Maart 2024 tot N$3,3 miljard opgestoot het.

Hiervan was meer as N$1,1 miljard aan ’n enkele skuldeiser verskuldig, wat ’n risiko vir likwidasie geskep het. Die regering het in April 2024 met ’n waarborg van N$1,2 miljard ingegryp om ’n deel van die skuld, wat nou op N$1,6 miljard staan, te vereffen.

Namcor het nou met regstappe begin om N$841 miljoen te verhaal van wanbetalende kliënte wat krediet buite goedgekeurde perke ontvang het. Ondersoeke na brandstofdiefstal by NOSF het verder swak voorraadbestuur en die peuter met meetstelsels aan die lig gebring.

’n Ongemagtigde aankoop van ’n bate ter waarde van N$53,2 miljoen is nietig verklaar, en invorderingsprosedures is aan die gang. Die maatskappy het ook na die verkryging van ’n niefunksionele stelsel vir die beplanning van ondernemingshulpbronne (ERP) verwys, wat meer as N$68 miljoen gekos het, byna drie keer die aanvanklike begroting.

Namcor het ook ’n omkeerstrategie geïmplementeer, insluitend aanstellings op senior vlak wat daarop gemik is om bestuur en finansiële stabiliteit te herstel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer