Long Fire wil litium uitvoer
HOOFREDAKSIE
Xinfeng Investments se samewerkingsvennoot, Long Fire Investments, soek goedkeuring van die minister van nywerheidsontwikkeling, myne en energie, Modestus Amutse, om 'n voorraad litiumkonsentraat uit te voer. Die doel is om kapitaal in te samel om weer bedrywighede by Uis te hervat.
Die ministerie van mynbou het die maatskappy in November 2024 opdrag gegee om sy bedrywighede op te skort, nadat ontdek is dat die maatskappy met sy tien mynlisensies reserwes ontgin bo ‘n diepte van 60 meter.
Die maatskappy se appèl in reaksie hierop is vervat in 'n brief gedateer 16 Maart en gerig aan Amutse. Die brief was in opvolg op sy besoek aan die Erongostreek.
Long Fire sê die verskeping is van kritieke belang om fondse in te samel wat nodig is om mynboubedrywighede by sy Uis-projek te hervat.
Die maatskappy sê dit het ‘n bespreking vir ‘n vaartuig vir vroeg April verseker. Longfire het gemaan oor beperkte beskikbaarheid vir verskeping op roetes wat die Afrikastreek bedien, wat kwessie sensitief vir tyd maak.
Die uitvoer van die bestaande voorraad litiumkonsentraat is volgens die maatskappy noodsaaklik om die kontantvloei te genereer wat nodig is om die onmiddellike hervatting van mynboubedrywighede en voortgesette belegging in die projek te ondersteun.
"Die suksesvolle uitvoer van hierdie materiale sal ook bydra tot die betalings van tantième en ‘n inkomste uit belasting vir die regering van Namibië, terwyl die projek se volhoubaarheid vorentoe versterk word," lui die brief aan Modetse.
Volgens Long Fire is die reserwes ontgin met behulp van oopgroef- en oopgroefmetodes. Dit is ontgin toe heersende internasionale mineraalpryse te laag was om die hoër bedryfskoste te onderhou wat verband hou met die oorgang na ondergrondse grotmynbou onder die 60-meter-vlak.
"Met verbeterde globale marktoestande in 2026, het die maatskappy nou besluit om bedrywighede te hervat deur oor te skakel na ondergrondse grotmynbou om dieper mineraalreserwes te teiken," sê die maatskappy.
Long Fire sê alle vereiste ondergrondse mynboutoerusting en -masjinerie is gemobiliseer.
Daarbenewens is die tien mynbou-lisensies suksesvol hernu en is dit geldig tot Desember 2027. Aansoek nr. 257 vir ‘n mynlisensie is ook ingedien om langtermyn-ontwikkeling te ondersteun.
"Die hervattingstrategie is geanker deur 'n bestaande mineraalverwerkingsaanleg in die Uis-gebied. Dit het 'n jaarlikse verwerkingskapasiteit van sowat een miljoen ton en waarin die maatskappy sowat N$350 miljoen belê het," sê die maatskappy. Volgens Long Fire is die maatskappy ook bereid om litiumerts van gelisensieerde kleinskaalse mynwerkers te koop en die materiaal deur hul aanleg te verwerk. Dit sal in ooreenstemming met regeringsbeleid gedoen word wat binnelandse verwerking en waardetoevoeging aanmoedig.
Dié benadering sal volgens Long Fire eerder as die uitvoer van onverwerkte erts, ‘n stabiele mark bied wat voldoenende vir kleinskaalse mynwerkers is, plaaslike voordeel uit litiumbronne ondersteun, en waardetoevoeging in Namibië bevorder.
Amutse het gister aan Network Media Hub (NMH) gesê die brief het nog nie sy kantoor bereik nie.
"Miskien is dit gestuur na 'n verantwoordelike eenheid wat aanbevelings vir my aandag sal maak," het Amutse gesê.
Die mynboukommissaris Isabella Kandjii-Chirchir het NMH na die uitvoerende direkteur Moses Pakote verwys. Hy kon egter nie bereik word nie.
PLAASLIKE ROLSPELERS
Voor die opskorting van bedrywighede het die projek sowat 230 werknemers in diens gehad. Dit het ingesluit 200 voltydse en 30 tydelike werknemers in departemente soos mynboubedrywighede, mineraalverwerking, vervoer en logistiek, boorwerk, meganiese instandhouding, sekuriteit en administrasie.
Sou die projek hervat, sal voormalige werknemers wat reeds opleiding ontvang het en ook bedryfservaring die afgelope twee jaar opgedoen het, priotiteit kry om weer in diens geneem te word.
Longfire sê werwing sal hoofsaaklik in Uis en die breër Erongostreek gedoen word. Vir sleutel-bestuursposte soos onder meer die van myningenieur, toesighouer vir veiligheid, asook menslike hulpbronne- en administrasiebestuurder, sal prioriteit verleen word aan gekwalifiseerde Namibiese professionele persone.
Die maatskappy beloof ook 'n salarisstruktuur in lyn met Namibiese arbeidsregulasies. Dit sluit ‘n basiese salaris, mediese en vervoertoelaag, en, waar van toepassing vergoeding vir oortyd, om billike vergoeding en stabiliteit van sy werksmag te verseker.
Volgens Long Fire is die verbetering van veiligheid sentraal tot sy plan om bedrywighede te hervat. Dit sluit in die implementering van internasionale standaard bestuurstelsels vir veiligheid, die aanstelling van 'n gekwalifiseerde Namibiese toesighouer, deurlopende opleidingsprogramme, die verbetering van persoonlike beskermende toerusting en noodreaksieprosedures, asook die vestig van 'n kliniek en ambulansdiens op die perseel.
Die maatskappy beplan ook om internskap- en nagraadse opleidingsprogramme vir jong Namibiese ingenieurs en geoloë in te stel.
Operasionele verbeterings sal opgegradeerde verblyf, verbeterde gesondheids- en maatskaplike ondersteuning, asook uitgebreide kook- en eetgeriewe insluit om die gesondheid en welstand van werkers te verseker.
Volgens Long Fire is dit gesprek met plaaslike rolspelers wat die Daures Dama Tradisionele Owerheid en die Tsiseb Bewaringsgebied insluit. Dié twee rolspelers het voorgestel dat hulle memorandums van verstandhouding met die maatskappy aangaan.
Long Fire sê dit is van voorneme om bogenoemde samewerkingsinisiatiewe as deel van hul verbintenis tot verantwoordelike mynbou en inklusiewe ontwikkeling te bevorder.
Die maatskappy sê die hervatting van sy bedrywighede sal 2% tot die ekonomie bydra deur die betalings van tantième, korporatiewe belasting, werkskepping, verhoogde ekonomiese aktiwiteit in Erongo, asook die ondersteuning vir kleinskaalse mynbou deur ertsaankope en -verwerking. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie