‘Laat Namibië se olie vir Namibiërs werk’
Namibië se ambisie is nie om eenvoudig ’n olievervaardigende nasie te word nie, maar om dit intelligent te gebruik om ekonomiese transformasie te versnel.
Die visepresident Lucia Witbooi het gister tydens die amptelike opening van die Namibië olie- en gaskonferensie (NOGC) in Windhoek gesê die land moet gereed wees vir die oorgang vanaf olieontdekking tot ontwikkeling en produksie.
“Ons moet wys dat Namibië beide beleggingsvriendelik en institusioneel ferm is, beide kommersieel mededingend en beskermend van openbare belang,” het sy gesê.
Die vierde NOGC se tema is “Van besluit tot dividend – Laat Namibië se olie vir Namibiërs werk.” Met 1 500 afgevaardigdes, 70 uitstallings en meer as 40 borge is 2026 se NOGC die grootste nog.
Witbooi benadruk dat die oliebedryf in Namibië nie toegelaat word om as ’n enklawe buite die res van die Namibiese ekonomie te ontwikkel nie, maar ’n katalisator vir die groei van die land in geheel moet word.
Sy het verwys na die plaaslike inhoudbeleid wat onlangs deur die kabinet goedgekeur is.
Witbooi waarsku egter: “Plaaslike deelname kan nie beteken dat daar toegegee word op
veiligheid, gehalte, doeltreffendheid of internasionale mededingendheid nie.
“Dit behels die doelbewuste uitbou van die vermoëns wat Namibiese maatskappye en professionele persone in staat sal stel om suksesvol mee te ding.”
Die visepresident is ook onwrikbaar dat inkomste vanaf die oliebedryf deursigtig en omsigtig benader moet word en dat hiervan deur die Welwitschia Soewereine Welvaartsfonds moet vloei om te verseker dat die land se natuurlike hulpbronne in nasionale rykdom omskep sal word.
“Die oliegeld is nie ’n uitnodiging om vandag te gebruik ten koste van môre nie,” sê sy.
Verder sê die Witbooi dat deur doelbewuste belegging Namibië tot ’n spilpunt vir energiedienste vir die streek omskep kan word.
By dieselfde geleentheid het die minister van myne, energie en nywerheidsontwikkeling, Modestus Amuste, benadruk dat olie-ontdekkings aflandig van die Namibiese kus die land aanmoedig na mylpale soos finale beleggingsbesluite en die produksie van die eerste olie. Dit behels egter baie werk, waarop hy sê sy ministerie gefokus is.
Volgens hom is die regering behep met die versekering dat Namibië aan wal reg is, wanneer produksie aflandig begin. Dit behels die vestiging van voorsieningsbasise op land, groter en verbeterde oliebergingsgeriewe, die vestiging van petrochemiese toetslaboratoriums, asook moderne seismiese en geowetenskaplike datastelsels, sê hy.
Kornelia Shilunga, hoof van die Upstream-petroleumeenheid in die kantoor van die president, het op haar spreekbeurt gesê dat die eenheid fokus op die ontwikkeling van groot projekte soos TotalEnergies se Venus-ontwikkeling waarvoor op ’n finale beleggingsbesluit gewag word.
Verder versterk die regering die lisensieraamwerk om meer sekerheid vir beleggers te voorsien, “terwyl daar verseker word dat Namibië die vermoë behou om sy petroleumhulpbronne in nasionale belang te bestuur,” sê sy.
Werk vorder om die wetlike raamwerk vir die oliebedryf te hersien, sê Shilunga.
Plaaslike inhoud, geleenthede vir raffinering, petrochemikalieë, gas-tot-krag, logistiek, vervaardiging, mariene dienste, berging, ingenieurswese en ander verwante bedrywe is ook onder die eenheid se aandag, terwyl dit verder poog om Namibië vir oliebeleggers aanloklik te maak, asook om Walvisbaai en Lüderitz verder te ontwikkel, sê sy.
Rhino Resources se uitvoerende hoof, Travis Smithard, sê nou is die tyd om saam te besluit oor hoe om saam te werk, terwyl Jason Kasuto, voorsitter van die Ekonomiese Vereniging van Namibië (EAN), almal daaraan herinner het dat olie die metode mag wees, maar die bevordering van Namibië se mense die rede moet bly.
Die konferensie duur vandag voort.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie