Die 400kV transmissie kraglyn vanaf Auas tot Gerus en die opgradeering van die Auas substasie is onlangs voltooi.
Foto Augetto Graig
Die 400kV transmissie kraglyn vanaf Auas tot Gerus en die opgradeering van die Auas substasie is onlangs voltooi. Foto Augetto Graig

Kragnetwerk se skuld sal jare bly

Wêreldbank-lening reeds goedgekeur
Die projek dra by tot die vermindering van elektrisiteitskoste en fasiliteer die voorsiening van bekostigbare, betroubare en skoon energie aan alle Namibiërs, volgens die Wêreldbank.
Augetto Graig
Dekades van skuldvereffening lê vir Namibië voor.

Dit weens lenings wat die regering by die Wêreldbank en die Groen Klimaatfonds (GCF) aangegaan het vir die opgradering van die land se kragnetwerk.

Die nasionale kragvoorsiener, NamPower, het op 6 Mei aangekondig dat die eerste finansiering van die Wêreldbank van sowat N$2,6 miljard goedgekeur is. Die geld is geoormerk vir NamPower se energiebergingsprojek en die uitbreiding van die nasionale transmissienetwerk vir elektrisiteit.

Oarabile Minky Moilwa is verantwoordelik vir eksterne sake by die Wêreldbank-groep vir Oos- en Suider-Afrika en het by navraag uitgebrei oor die projek en die betrokke lenings.

Volgens haar word daar eerstens ’n toelaag ter waarde van US$18,5 miljoen van die Wêreldbank en die GCF verskaf. Die tweede fase sluit ’n lening van US$100 miljoen van die Wêreldbank in, gevolg deur ’n US$20 miljoen lening van die GCF.

Rentekoerse op die lenings word bepaal deur wisselkoerse en die koste van finansiering.

Teen 8 Mei was die rentekoers 5,39% gebaseer op die wisselkoers, plus 1,05% vir die koste van finansiering van die Wêreldbank, terwyl die GCF se lening ’n jaarlikse diensfooi van 0,25% dra, het Moilwa gesê.

“Die lening van die Wêreldbank het ’n vervaldatum van 15 jaar, insluitend 'n grasietydperk van vyf jaar. Die GCF-lening het ’n vervaldatum van 40 jaar, insluitend ’n grasietydperk van tien jaar,” het sy verduidelik.

Die fokus van die lenings is glo op die ontwikkeling van die tweede Auas-Kokerboom transmissielyn, die ontwikkeling van ’n batterykragbergingstelsel (Bess) en ook aktiwiteite met betrekking tot tegniese ondersteuning.

“Die lenings ondersteun spesifieke beleggings om die betroubaarheid van die land se transmissienetwerk te verbeter en om integrasie van hernubare energie in die land se kragstelsel moontlik te maak,” sê sy.

NamPower het verder uitgebrei dat die projek ook fokus op energieberging wat ’n 45 MW/90 MWh Bess-stelsel by die Lithops-substasie in die Erongostreek insluit.

Dit is te danke aan die feit dat dit naby groot mynbouprojekte geleë is, asook die verwagting van groot sonkragaanlegte in dié gebied.

Die opgegradeerde kragnetwerk sal ook Namibië se vermoë verbeter om krag deur die Suider-Afrikaanse-kragnetwerk (SAPP) oor te dra.

“Deur die integrasie van hernubare energie in Namibië se kragstelsel moontlik te maak, ondersteun die projek die uitbreiding van elektrisiteitsvoorsiening teen die laagste moontlike koste.

“As sodanig dra hierdie projek by tot die vermindering van elektrisiteitskoste in Namibië en fasiliteer dit die voorsiening van bekostigbare, betroubare en skoon energie aan alle Namibiërs,” het Moilwa gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer